Kultuurfeeste draai die alledaagse op sy kop

12 Oktober 2017

“Omdat die Afrikaanse feeste ook uit kulturele nood gebore is, sal dit altyd ‘n kulturele “event” bly: of dit nou ‘n basaar, laertrekkery of kunstefees genoem word.” – Louïne van der Vyver (MA-tesis aan Unisa)

Afrikaanse kunstefeeste het ontstaan weens ‘n kulturele behoefte en is ‘n goeie voorbeeld van iets wat inherent ‘n kulturele gebeurtenis is. Alles wat die Afrikaanse samelewing raak, is hier ter sprake – van modes, neigings en nuwighede, musiektendense, toneeltemas en letterkunde, tot ernstige gesprek en debatte oor die Afrikaanse kultuur en denkwyses.

Van der Vyver skyf in haar MA-tesis getiteld: Breytenbach by die Afrikaanse Kunstefeeste: Karnaval en ritueel in sy dramateise oevre: “Soos wat die Middeleeuse karnavalgangers hulle kon inleef in die komiese klugspele van die Gekkefees (Festival of the Fools) om van die alledaagse te ontvlug, en soos die Atheense burgers hulself vir ‘n paar dae in die Dionisos-feeste kon inleef deur te deel in emosies van die groot Griekse antieke tragedies en komedies, so gee hierdie kultuurfeeste ook ‘n venstertydperk aan die Afrikaanse publiek, waar feesgangers van hul daaglikse roetine kan ontvlug en vasgevang kan word in die dramatiese wêreld van die kunste.

“Afrikaanse feeste is ‘n ruimte vir verandering, hernuwing en ‘n sosiale en geestelike herlading of wedergeboorte, omdat die reëls van die alledaagse opgeskort word en die feesganger die vryheid van beweging en gedrag het om hom/haarself in die gemaal uit te leef.”

Nie een van hierdie feeste is egter uitsluitlik Afrikaans nie ... ook nie wit nie.

Volgens dramadosent en akteur Petrus du Preez moet die publiek nugter wees oor iets soos swart verteenwoordiging op Afrikaanse feeste. “As die primêre taal van 'n fees Afrikaans is, is dit logies dat daar minder swart verteenwoordiging by 'n fees sal wees. ... En dan ook sommer oor kulturele- en taalvermenging in produksies: As die produksie of konsep daarvoor vra, word dit gedoen.”

Daar is ‘n magdom feeste in Suid-Afrika: Aardklop op Potchefstroom, die KKNK op Oudtshoorn, The National Arts Festival op Grahamstad, die Vrystaatse Kunstefees in Bloemfontein, die Suidoosterfees in Kaapstad, die Gariep Kunstefees in Kimberley, die Kalfiefees op Hermanus, die Stokkiesdraaifees op Wellington, die Oesterfees op Knysna, die Biltongfees op Somerset-Oos, die Portfees op Calitzdorp, die Mieliefees op Frankfort, die Hibiscusfees op Margate, die Sterrewagfees op Sutherland, die Woordfees op Stellenbosch, Oppikoppi, die Logan-toneelfees op Fraserburg, die Sjokoladefees op Franschhoek, die Cederbergfees op Clanwilliam, InniBos op Nelspruit, en nog baie meer. Die bestaan van soveel feeste kan tot net een gevolgtrekking lei: Suid-Afrikaners hou van feesvier en feeste is steeds ‘n suksesvolle verskynsel.

Daar is ongeveer veertien Afrikaansgerigte kunstefeeste in die land. Die honderde ander feeste waar feesgangers toevallig Afrikaans praat, is nisfeeste en word nie hierby ingesluit nie.

 

Afrikaanse kunstefeeste is teatrale gebeurtenisse met ‘n eie Afrikaanse identiteit.

Dit blyk dat enigiets ‘n verskoning is vir feesvier en dat mense van hierdie feeste hou en nie omgee om ‘n rukkie uit hul lewens te neem om fees te vier nie. Dit is duidelik wanneer jy deur die strate van Oudtshoorn stap tydens die KKNK of deur Potchefstroom met Aardklop. Dié groot droë dorpe vier luidkeels fees met musiek en gelag en elke publieke spasie word oorspoel met stalletjies, advertensies, watergate en eetplekke.

Omtrent elke tweede huis word ‘n tydelike oornagplek en die dorpe bars uit hul nate. Tyd staan vir ‘n paar dae van die jaar stil. Die korporatiewe leer, politieke ontsteltenis en burokrasie word opsy geskuif vir ‘n momentele “leef in die oomblik”. Dis ‘n blaaskans.

Hierdie feeste is Afrikaanse kultuurlekkerte waar diversiteit in Afrikaans beoefen en gevier word. Vir baie is dit die hoogtepunte op hul jaarlikse kultuurkalender. Vir ander beteken dit brood-en-botter; of dit nou die bedryf van ’n gastehuis of stalletjie of ’n rol in ’n musiek- of teaterproduksie is.

Kitsfeite:

Die KKNK (Oudtshoorn) 

  • Onlangse navorsing deur die Rhodes-universiteit het bevind 55 persent van KKNK-feesgangers is wit, 37 persent bruin, 6 persent swart, 2 persent van Indiese afkoms, en 83 persent van alle feesgangers is Afrikaanssprekend.
  • Amptelike kaartjieverkope: in die eerste jaar is net minder as 31 000 kaartjies benut, teenoor 164 000 in 2002, 169 500 in 2010 en 185 788 in 2015. (Die KKNK kan nie met sekerheid sê hoeveel feesgangers in ’n gegewe jaar by die fees was nie omdat bywoning by gratis aktiwiteite, soos die RSG-verhoogprogram, nie gemeet word nie.)
  • Die KKNK trek jaarliks meer as 1 000 kunstenaars wat optree of uitstal in meer as 200 produksies en uitstallings oor agt dae.

Vrystaat Kunstefees (Bloemfontein);

  • Die Vrystaat Kunstefees is in 2001 in Bloemfontein begin. Dit toon konstante groei. Vyf jaar gelede was daar 140 000 besoekers en verlede jaar meer as 160 000.

Innibos (Nelspruit)

  • Innibos het hom oor die afgelope 12 jaar gevestig as een van die groot rolspelers in die Suid-Afrikaanse kunstefeeslandskap. 25 000 mense het die eerste fees in 2004 bygewoon. Dit het jaarliks gegroei en die afgelope paar jaar handhaaf ons ’n bywoningsyfer van ongeveer 110 000 feesgangers oor die vyf dae van die fees.
  • Verlede jaar het die fees R109 miljoen in die plaaslike ekonomie gestort.

Suidoosterfees (Kaapstad)

  • Die Suidoosterfees is vanjaar in sy 15de bestaansjaar en roem op bewese inklusiwiteit.Die fees het ‘n gemiddeld van 30 000 feesgangers en skep tydelike werksgeleenthede vir 196 mense wat kunstenaars insluit.

Woordfees (Stellenbosch)

  • Die Woordfees is vanjaar 18 jaar aan die gang en het 20 persent meer geldwaarde as verlede jaar getoon terwyl kaartjieverkope met 30 persent gestyg het.

Aardklop (Potchefstroom)

  • Aardklop het verlede jaar R60 miljoen tot die ekonomie van Potchefstroom bygedra en het vanjaar vir 700 kunstenaars werk geskep.
  • Alexa Strachan, Aardklop feesbestuurder oor die kulturele en ekonomiese waarde van kunstefeeste

Soeklig op volhoubaarheid

Die Aardklop-debakel in 2015 het vrae laat ontstaan rondom die voortbestaan van kunstefeeste. Is Afrikaanse kunstefeeste lewensvatbaar? En het dit nog ’n bestaansreg in Suid-Afrika?

Die grootste uitdagings

“Ekonomiese druk is ’n globale werklikheid. Dis vir almal ’n uitdaging en beïnvloed natuurlik ook die kunste en feeste,” verduidelik Hugo Theart, ’n onafhanklike vervaardiger en kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk. “Ons moet volgens die huidige omstandighede besluite neem sodat kunstefeeste kan vernuwe en aanpas om ’n gesonde toekoms vir hulle, die kunste en die kunstenaars te verseker.”

Repucom, ’n wêreldleier in navorsing oor sport en ander geleenthede is reeds in 2014 deur die ses vervaardigende feeste gevra is om raad oor volhoubaarheid te gee.

Repucom het aan die hand van ’n analise van die profiel en voorkeure van die gemiddelde Afrikaanssprekende aanbevelings gemaak.

  • Die feesorganiseerders is eerstens daarop gewys dat hulle nie met mekáár meeding nie, maar dat die feeste eerder as ’n bedryf om markaandeel meeding in die groter groep leefstylaanbiedings, wat sportgeleenthede en konserte deur internasionale kunstenaars insluit. Dis reeds ter harte geneem en al die feeste werk nou saam in die nuwe Feesteforum, wat beter koördinering en meer doelgerigte samewerking tussen die onderskeie feeste wil fasiliteer.
  • Repucom het die feeste ook aangeraai om hul handelsmerk (of identiteit) duideliker te definieer, nie net deur hul programaanbod nie, maar deur groter klem te plaas op elke fees se eiesoortige kenmerke en groter geografiese en sosio-kulturele konteks.
  • Feeste moet meer kommersieel dink wanneer hulle programmeer en moet belê in produksies waarvoor meer kaartjies verkoop kan word.

Hierdie raad word in ‘n groot mate reeds toegepas.

Dit is bv. vir die KKNK belangrik om sy Klein-Karookonteks in ag te neem en uit te reik na plaaslike gemeenskappe met projekte soos Rymklets van Oos tot Wes waardeur plaaslike talent ontgin word. Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees en die Woorde Open Wêrelde (WOW)-projek, voel ewe sterk daaroor dat ’n fees die hele gemeenskap betrek en dien. Daar is dus in Stellenbosch in die Buyateater-uitreikprojek belê en dié fees steun ook nou finansieel teaters in Kayamandi en Cloetesville wat intussen deel geword het van die program. Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk NPC, wat die KKNK en Klein Karoo Klassique aanbied, stel dit só in ’n artikel vir Netwerk24: “Die hoofbron van inkomste vir al die feeste is finansiering, maar die droewige ekonomiese klimaat het kommersiële instansies se borgskapsbegrotings laat krimp – in so ’n mate dat die tydperk van naamborgskappe by kunstefeeste waarskynlik verby is. Die ekonomiese klimaat bring ook groter pryssensitiwiteit by feesgangers mee, en ’n verhoging in kaartjiepryse is nie die beste manier om meer inkomste te genereer nie.

Rhodé het vroeër vanjaar in ’n bespreking oor die toekoms van feeste by die Fiëstas-ontbyt beklemtoon dat gehoorontwikkeling noodsaaklik is. Die wit Afrikaanse middelklas wat die feeste tradisioneel gesteun het, is besig om te krimp. Groeipotensiaal lê dus in die opkomende swart en bruin middelklas. Kortom, as die kunstefeeste nie kan aanhou geld maak en strategies te werk gaan om nuwe gehore te ontwikkel nie, kan die kunste maar na ’n nuwe tuiste gaan soek – en daardie tuiste bestaan nou nêrens vir kunstenaars wat in Afrikaans teater wil maak nie. En wanneer dit oor geldmaak gaan, sê Saartjie, moet ’n mens besef Afrikaans word ook as kommoditeit verhandel. Dis nie, soos dit in beginsel behoort te wees, net die werktuig waarmee geskep word nie. Dit gaan hier oor Afrikaans én die kunste.

Feeste van kardinale belang

Cornelia Faasen, wat onlangs aangestel is as uitvoerende hoof van die nuwe Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (Nati), is nie oortuig van die mening dat ons feeslandskap oorversadig is nie. “Daar is beslis nie te veel feeste nie,” sê sy. “Veral nie as in ag geneem word dat feeste die grootste rol speel in die vervaardiging van nuwe werk nie. “Feeste befonds óf nuwe werke óf verskaf ’n geleentheid vir kunstenaars om ‘vir die deur’ te speel en daarsonder sou baie kunstenaars en akteurs geen werk gehad het nie. Teaters speel toenemend ’n kleiner rol in die vervaardiging van nuwe werke, veral Afrikaanse teater, en dus is feeste van kardinale belang. “Dat daar te min fondse is en dus aanleiding gee tot die persepsie dat die landskap oorversadig is, is beslis waar.” Nati, wat nog slegs deur die Dagbreek Trust (wat ten doel het om Afrikaans te bevorder) gefinansier word, is daarom ’n belangrike inisiatief, nie net as borg van nuwe produksies nie, maar ook as koördineerder van samewerking tussen die feeste.

Kunstekaap help bou aan die toekoms.

“Neem uit die verlede wat goed is en bou daarop jou toekoms” – ‘n bekende aanhaling met die klem op die woord bou. Gekonfronteer deur ‘n verdeelde verlede is Kunstekaap se fokus die bou van ‘n toekoms vir die jeug op fondamente van gelykheid en volle menswaardigheid. Afrikaans help bou aan die toekoms. – Marlene van Niekerk (hoof uitvoerende beampte – Kunstekaap)

Kunstekaap is verbind tot die ontwikkeling en uitbou van produksies spesifiek vir die nuwe, jonger gehore. Die gebruik van intydse subtitels oorbrug taalverskille en bevorder ‘n beter begrip van kulturele bewussyn.

  • Die Kunstekaap Teater bied al vir meer as 15 jaar verhoogproduksies van voorgeskrewe werke vir leerlinge in die Teater en Arena aan. Dit is onder meer ‘n inisiatief en vennootskap met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement waar die verhoog na graad 12-leerlinge gebring word as deel van die kurrikulum. Daar word jaarliks met die onderskeie vakhoofde van al agt distrikte regdeur die Wes-Kaap geskakel rakende die behoeftes en beplanning van die verlangde voorgeskrewe werke wat opgevoer word. Nagenoeg 25 000 leerlinge het gedurende 2016 die geleentheid gekry om hul voorgeskewe werke, opgevoer deur professionele kunstenaars, te sien.
  • Altesame 3200 laer- en hoërskoolleerders van meer as 113 Wes-Kaapse skole het gedurende Augustus 2016 aan die Kunstekaap Skolekunstefees deelgeneem. Die Skolekunstefees speel ‘n sentrale rol tot nasiebou en sosiale samehang. Dit bied leerders die geleentheid om hul talent te vertoon op ‘n professionele verhoog, in die vorm van musiek, vers of dans.
  • Die jaarlikse Hoërskool Dramafees word gekoördineer deur Kunstekaap se skole-skakeleenheid, met finansiering van die HCI Stigting en Die Burger as mediaborg. (2016)
  • Die doel van die fees is die bevordering van sosiale kohesie, goeie burgerskap en bemagtiging deur die kunste. Vyf-en-sewentig skole met ongeveer 1500 hoërskoolleerlinge het gedurende 2016 aan die dramafees deelgeneem.

Lees ook ...
Huisgenoot: Feeste nog nuttig of uitgedien.
Louïne van der Vyver (MA-tesis aan Unisa) - Breytenbach by die Afrikaanse Kunstefeeste: Karnaval en ritueel in sy dramateise oevre
Afrikaans.com - Feestelik
 

Lees ook ...

””
””
””