Moedertaalonderrig – DIT is die verskil!

07 September 2017

Terugkeer na moedertaalonderrig?

Leerders wat in hul moedertaal onderrig ontvang presteer tot 30% beter in wiskunde en tot 56% beter in natuurwetenskappe.

Danie van Wyk die Wes-Kaapse bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust (Fedsas).

By die bekendmaking van die toppresteerders in wetenskap en wiskunde deur die Minister van Basiese Onderwys in April vanjaar het dit geblyk dat die Wes-Kaap skoonskip gemaak het by hierdie jaarlikse toekennings vir uitnemendheid in verlede jaar se Nasionale Seniorsertifikaateksamen. Die toekennings is oorhandig aan onderwysdistrikte en skole van dwarsoor die land. Veral in die kategorie vir prestasie in wiskunde en fisiese wetenskap het die Wes-Kaap kop en skouers bo die res van die land uitgestaan.

Die onderwysdistrikte Eden/Karoo, die Kaapse Wynland en die Overberg het die eerste, tweede en derde plek vir prestasie in wiskunde en wetenskap tussen 2012 en 2015 ontvang.

“Hierdie distrikte en skole is almal in Afrikaanse gemeenskappe geleë, 'n verdere bewys van die voordeel van moedertaalonderrig.

“Die Minister het dit met groot fanfare aangekondig, maar het skromelik nagelaat om te erken dat hierdie skole funksionele, presterende Afrikaanse skole is, bruin Afrikaanse skole ingesluit, omdat hulle die belang van moedertaalonderrig besef.” – Danie van Wyk

“Wanneer daar spesifiek gekyk word na skole wat as Afrikaans geklassifiseer word, is die slaagpersentasie 93.54% teenoor die nasionale 72.5% slaagsyfer. Die aantal leerders in Afrikaanse skole wat aan die NSS deelgeneem het is 22 756, dus 3,6% van die totale aantal leerders wat die eksamen afgelê het.” - Wessel Viljoen – SAOU: Adviseur professionele ontwikkeling

‘n Oproep om moedertaalonderrig is nie net ‘n hartewens nie. Benewens die feit dat dit ‘n mensereg is, gee dit jou ‘n voorsprong en dra by tot die ekonomiese ontwikkeling van gemeenskappe. - HC (Christo) Viljoen is ‘n afgetrede ingenieur en akademikus van Stellenbosch.

Conrad Strydom: Toppresteerder 2016.

Conrad Strydom van die Hoërskool Hermanus is deur die minister van Basiese Onderwys aangewys as die beste leerling van 2016 se matrikulante, en hy was ook die beste presteerder in wiskunde.

Conrad studeer aan die Universiteit Stellenbosch in teoretiese fisika, en vir die langtermyn beplan hy om sy eie navorsingsmaatskappy op te rig.

*Die Vrystaat het die hoogste slaagsyfer van 93,2%, gevolg deur die Wes-Kaap met 87,7% en Gauteng met 87%. Die Oos-Kaap het die laagste slaagsyfer.

Het jy geweet?

Suid-Afrika se resultate in wiskunde en wetenskap – noodsaaklike vakke vir die welvaartskeppende beroepe - is beroerd.

  • In die WEF (Wêreld Ekonomiese Forum) se Global Information Technical Report 2014 word Suid-Afrika se gehalte van wiskunde en wetenskapsonderrig heel laaste uit 148 lande geplaas.
  • Suid-Afrika se totale opvoedkundige stelsel word die 146ste plek toegeken, na Botswana, Kenia, Zimbabwe en Lesotho (onder andere). Die WEF-studie baseer sy bevindings op hoe voorbereid ‘n ekonomie is om die voordele van informasie- kommunikasietegnologie aan te wend vir die bevordering van ekonomiese groei en welvaart..
  • Suid-Afrika se prestasie in die internasionaal gestandaardiseerde TIMSS- (Trends in International Mathematics and Science Study-) toetse2 wat plaaslik deur die RGN behartig word, is gereeld heel laaste van meer as 50 deelnemende lande. TIMSS-studies is in 1995, 1999, 2002, 2011 en 2015 uitgevoer. Vanweë die swak prestasie van Suid-Afrikaanse leerders is die laaste twee toetsgeleenthede plaaslik in graad 9 gedoen. Desnieteenstaande het Suid-Afrika weer die laaste plek beklee. Lees meer oor die Timms-resultate hier.

Die redes vir die swak prestasie van Suid-Afrikaanse leerlinge in die TIMSS-toetse is deeglik ontleed, en sluit in faktore soos onderwyseropleiding, hulpbronne beskikbaar by die skool en huis, huislike omstandighede, handboeke en skoolhandleidings, maar veral ook die feit dat die meeste leerlinge nie wiskunde- en natuurwetenskap-onderrig in hul moedertaal ontvang nie.

Suid-Afrika het na 1994 ‘n grootskaalse wegbeweeg van moedertaalonderrig ervaar vanweë vele sosiale en politieke oorwegings, maar veral vanweë ‘n wanpersepsie dat onderrig deur middel van Engels vir Engels-tweedetaalsprekers beduidende voordele sou inhou. Dit het gepaardgegaan met in ‘n sterk toename in die getal eerstegeslag Engels-“huistaalsprekers”.

Verskeie studies toon onteenseglik dat twee dekades van hierdie benadering gefaal het, veral ten opsigte van onderrig in wiskunde en die natuurwetenskappe. Lees meer ...

Wiskunde het ‘n eie “taal” om te bemeester

Hierdie vakterrein het sy eie taal en jou moedertaal maak konseptualisering en probleemoplossing soveel makliker. Christo Viljoen verduidelik hier.

Moedertaalonderrig is belangrik omdat:

  • Taal as ‘n medium van kommunikasie ‘n uitdrukking is van die spreker se identiteit en as sodanig ‘n integrale deel van sy kultuur is; en dus
  • ‘n persoon in staat stel om effektief deel te neem in die aktiwiteite van sy/haar gemeenskap.
  • Taal is ook ‘n medium van estetiese aktiwiteit in ‘n gemeenskap waardeur die mens se opwindende skeppingsvermoë en oorspronklikheid gemanifesteer word.
  • Dit is die medium waarbinne die tradisies, insigte, idees en wysheid van geslagte bewaar en gekoester word.
  • Dit is ‘n bron van sosiale bemagtiging en beweeglikheid om geleenthede te soek en te benut.
  • Moedertaal is is ‘n ontwikkelingsinstrument.

* Bron: Philip H Spies - Gelyke Kanse se Stigtingsrede, 2016

Lees meer ...

Argief ...

Kulturele outentiekheid  Moedertaalonderrig   Ekonomiese waarde