ADAM - 'n Nuwe album: Liefdestreffers wat jou tone laat krul van lekkerkry

08 Februarie 2018

Foto: Jacques 'Jay' Loots van KeyArt

ADAM gaan weer musiekharte warm laat klop met hulle splinternuwe album propvol liefdestreffers wat binnekort op die rak is. Annelien van Basten het gaan uitvind wat die storie agter hulle nuutste vrystelling is.

Wat kry jy as jy drie supertalentvolle en aantreklike manlike musikante saamgooi? 'n Bekroonde musiekgroep vir wie elke vroulike aanhanger wil 'oorlog maak'... en wie se album natuurlik bo-aan al wat 'n treffersparade is, pronk. Met 'n rits toonkrulmooi liefdestreffers, soos Smoorverlief, Hoogtevrees, Liefde Soldaat, kon ons dit nie weerstaan om hulle ons Valentynsfokus te maak nie.

ADAM se CD

Kyle Grant (Foto: Huisgenoot)

Hugo Ludik (Foto verskaf)

Reynardt Hugo (Foto verskaf)

ADAM, wat bestaan uit Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Kyle Grant, maak al sedert 2011 opslae in die musiekwêreld. Buiten vir verskeie gesogte musiektoekennings, waaronder vyf Ghoemas en 'n SAMA, het drie van hulle albums goue verkoopstatus bereik en is die enkelsnit, Sal Oorlog Vir Jou Maak, ook ingesluit op die klankbaan van die lokettreffer, Pad na jou Hart. Hulle het ook al die verhoog met van die grootste sterre in die bedryf gedeel en vertonings vir Westlife en Air Supply geopen.

Die trio is nog lank nie klaar met die suksesleer nie en stel binnekort 'n splinternuwe dubbel-album vry, wat 'n kombinasie is van bekende bestaande treffers (vanaf hulle laaste bekroonde album, Hoogtevrees) en 'n hele rits nuwe oorspronklike komposisies deur Hugo, Reynardt, Vaughan en Nerine Gardiner. "Ons het besluit om ons huidige album weer vry te stel om luisteraars te bederf met liedjies wat hulle ken asook 'n paar splinternuwe snitte. Daar is ook 'n volwassenheid wat in ons nuwe musiek deurkom," vertel Reynardt, wat ook bekend is as dr. Tertius Jonker in die gewilde kykNET-sepie, Binnelanders. Hy was ook onlangs te sien in die Afrikaanse fliek, Vuil Wasgoed.

Op Reynardt se Valentynsmusiekspeellysie...

Gelukkig is hy darem nie so ongelukkig in die liefde soos sy televisiekarakter nie en hou hy van die volgende romantiese liedjies in die agtergrond tydens 'n romantiese afspraak:
I Choose You - Sarah Bareilles
Who Do You Love- Marianas Trench
Perfect Love - Leeland

Oudergewoonte gaan daar weer iets wees om elke oor tevrede te stel, van die lekkerste ritmiese dansdeuntjies, tot die mooiste hartsballades ... alles mooi verpak in die unieke popstyl waarvoor ADAM bekend is. Die eerste nuwe enkelsnit vanaf die album, Sê My (Bewe), word op 12 Februarie 2018 landswyd bekendgestel en is een van hulle eie gunstelinge.

Alhoewel hulle nog nie op hierdie stadium veel meer wil weggee nie, sê Kyle dat die album jou beslis trots-Afrikaans sal laat voel. "Ons maak altyd musiek vir mense om iets te laat voel. Musiek wat mense kan laat lag of huil. Met hierdie album wil ons graag hê mense moet trots voel om 'n Suid Afrikaner te wees." Kyle het aanvanklik naam gemaak as verhoogkunstenaar en televisieakteur en meen dat die musiekwêreld nogal 'n aanpassing was, maar dat hy nou al baie tuis voel in sy nuwe rol.

Kyle oor sy pragtige vrou en Valentynsdag:

"In ons huis is elke dag Valentynsdag. My vrou sal vir my iets lekker vir aandete kook, terwyl ek die kersies aansteek en sagte musiek in die agtergrond speel. Ons is nie groot aanhangers van al die 'kitch' en 'corny' wat saam met die dag kom nie, maar is Liefdeliefhebbers! Maak elke dag Valentynsdag, julle!"

Hugo het verskeie jare saam met sy broer, Stefan Ludik van Elvis se Seun, opgetree voordat hy ADAM gestig het. Hy is ook deel van 'n produksiemaatskappy, Muse Studios, wat musiek vir ander kunstenaars opneem en skryf. "Al my liedjies kom uit persoonlike ervaring en ondervinding, hetsy direk of indirek. So ek skryf altyd oor dinge waarmee ek kan assossieer: liefde, geluk, tragedie en familie," sê hy oor al die treffers, wat so moeiteloos uit hom borrel.

Wanneer Hugo aan die liefde dink ...

"Ware liefde is onvoorwaardelik. Daar is nie terme nie. Elkeen verstaan mekaar se behoeftes genoegsaam om net hulself te kan wees in mekaar se teenwoordigheid."

Hy is die digter en liedjieskrywer van die groep en wanneer jy hom vra oor hul toekomsplanne, sê hy: "Die driemanskap het nog baie planne vir die toekoms", maar vertel dat die belangrikste doelwit altyd is om hulle musiek te verbeter met elke nuwe projek ... en ons is dit almal eens dat hulle kan aanhou probeer, want ons luister graag!

Hou hulle dop op Facebook vir meer inligting oor die nuwe album en wanneer jy dit op die rak of iTunes sal kry.

ADAM wil graag vir julle iets sê oor Valentynsdag.