Liefdesverhale – ‘n bietjie goedvoel-terapie

14 November 2017

Liefdesverhale – ‘n bietjie goedvoel-terapie

Met die vakansie om die draai, smag ons almal na ontvlugting. Ons is moeg vir slegte nuus oor die politiek en uitgeput na nog ʼn harde werksjaar, en wil vir ʼn rukkie net wegkom van alles en almal. Vir lesers is dit natuurlik makliker as vir ander, want ons kan tussen die blaaie van ʼn boek inklim en na ʼn ander wêreld verdwyn.

Die meeste van ons wil ook wat leesstof betref vakansietye net so ʼn bietjie wegbreek van dit wat ons die hele jaar lees. Een van die gewildste soorte leesstof waarmee miljoene lesers wêreldwyd van hul eie werklikhede ontvlug, is romantiese fiksie. Soos ander fiksie, word dit ingedeel in verskillende genres (bv. historiese fiksie, spanningsromanse en romantiese komedies).

Die verskil tussen ‘n romanse en ‘n liefdesroman

As jy al ooit gewonder het wat is die verskil tussen ʼn romanse en ʼn liefdesroman, dink aan die dikte van die boek. ʼn Romanse (by LAPA word dit uitgegee onder die druknaam Romanzas) is die dunner boeke van ongeveer 44 000 woorde. ʼn Liefesroman is minstens 80 000 woorde lank, en dus dubbel so dik. Daar is ook verskille in die “formule” – ʼn romanse het ʼn definitiewe storielyn van heldin-ontmoet-held en uiteindelik leef hulle gelukkig saam en spreek nie sosiale kwessies (soos byvoorbeeld vrouemishandeling) aan nie. Terwyl ʼn liefdesroman steeds die liefde as sentrale tema het, word ander kwessies ook by die storielyn ingeweef.

Maar moenie ʼn fout maak nie – albei soort boeke is ewe moeilik om te skryf!

Romantiese fiksie – of dit nou romanses is (soos Mills & Boon of LAPA se Romanzas) en die dikker liefdesromans het ook een belangrike ding gemeen: ʼn chemiese reaksie wat in die brein ontstaan wat jou presies dieselfde laat voel as wanneer jy verlief is. Navorsers het bevind die menslike brein kan nie onderskei tussen werklike liefde en ʼn virtuele ervaring (soos met ʼn boek) nie. In albei gevalle ervaar jy ʼn soort euforie, en dit verklaar hoekom liefdesverhale wêreldwyd steeds die topverkoper-genre is. Dit is dus ʼn soort goedvoel-terapie, en ʼn natuurlike stresverligter.

Verkope

Navorsing in die jaar 2000 het getoon dat meer as 50 miljoen Amerikaanse vroue gereelde lesers is, en dat Harlequin, die Mills & Boon-druknaam daar, meer as 160 miljoen boeke per jaar verkoop. Nielsen en die Romance Writers of America se 2015-statistieke het ook ander interessanthede bevat oor die Amerikaanse liefdesverhaalbedryf, soos dat Amerikaners jaarliks $ 1.08 miljard aan liefdesromans bestee en dat daar elke vyf sekondes iewers in die VSA ʼn liefdesroman gekoop word. Die genre maak 34% van die Amerikaanse fiksiemark uit. Tipiese lesers is meestal tussen 30 en 44, en 84% van hulle is vroue. Afrikaanse lesers slurp liefdesverhale ook op: net by LAPA alleen word daar jaarliks net meer as ‘n halfmiljoen verkoop, waarvan ongeveer 470 000 Romanzas is. Dan moet die verkoopsyfers van ander LAPA-liefdesromans uit die pen van skrywers soos Chanette Paul, Irma Joubert, Sophia Kapp en Kristel Loots nog bygereken word.

Cecilia Brits, hoof van vrouefiksie by LAPA, word beskou as die uitgewer wat eiehandig gesorg het dat Afrikaanse romantiese fiksie nou openlik en wyd gelees word, vertel graag dat romantiese fiksie een van twee goed is waarvoor vroue selfs in oorlogstye ʼn geldjie afknyp. (Die ander item is rooi lipstiffie!) Haar waarneming van die bedryf het haar ook geleer dat die lesers van liefdesromans as ʼn reel baie wyd in verskillende genres – ook letterkunde – lees.

En as jy nog oortuiging nodig het om hierdie vakansie ʼn sak vol Afrikaanse liefdesromans saam te neem op vakansie, dink dan daaraan dat sielkundiges dit ook al beskryf het as sprokies vir volwassenes. Dis as’t ware ʼn voortsetting van die soort vir-altyd-en-ewig-gelukkig-saam stories waarvan ons kleintyd nie genoeg kon kry nie. Liefdesverhale is vol idealisme met ʼn goeie skoot fantasie wat die mensdom steeds laat glo in en hoop op die liefde.

Dus, lees gerus liefdesverhale – dis goed vir jou!

*Het jy geweet? LAPA het selfs ʼn Romanza-klub vir die wat nie genoeg van die liefde kan lees nie, en lede van die klub kan elke maand vier nuwe romanses (die dunner liefdesverhale) vir ongeveer R200 koop. En as jy nie kan wag vir die posman nie, is daar ʼn slim toep sodat jy dit op jou tablet of selfoon kan lees. Vind hier meer uit en laai die toep hier af.