Inspirerende onnies

08 Mei 2017

“’n Mens kyk met waardering terug na jou briljante onderwysers, maar met dankbaarheid vir die wat ons menslike gevoelens aanraak. Die kurrikulum bied soveel broodnodige rou materiaal, maar warmte is die belangrike element wat nodig is vir enige plant om te groei asook vir die siel van ’n kind.”

So het die sielkundige Carl Jung gesê en daarmee die spyker op die kop geslaan.

Afrikaans.com se nuwe Leerafdeling nooi jou saam op ‘n reis na kennis en hier vind jy leerhulp en nuttige skakels en toepassings ... alles wat leer lekker maak. Blaai jy deur die verskillende afdelings, besef jy net weer dat die rede hoekom sekere onderwysers vir ons uitstaan, juis is omdat hy of sy veel meer gedoen het as om kennis oor te dra – daardie gunstelingonnie het ons inspireer – vir ons ‘n wêreld ontsluit wat geen geld kan koop nie. 

Afrikaans.com is bevoorreg om as deel van ons span ambassadeurs ook ’n paar inspirerende onderwysers te hê wat werklik ’n verskil in kinders se lewens maak.

“Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.” Ware woorde as ‘n mens Eric van der Byl se verhaal van deursettingsvermoë lees. Hy het nie toegelaat dat enige iets in sy pad staan om homself as onderwyser te bekwaam nie en vandag is hy ’n Afrikaans-onderwyser by Parkfields Primêr in Hanover Park en het hy verskeie projekte by die skool waar hy kinders se menswees in totaliteit help ontwikkel – omdat hy werklik verstaan wat dit van sommige leerders verg om elke dag op die skoolbanke te sit. Van sy projekte sluit in: skaakafrigting, ’n spelkompetisie en ’n uitruilprogram met ’n laerskool in Amerika. Eric het ook ’n hip-hop-program by die skool geloods waaraan die kinders van Parkfields Primêr ywerig deelneem. Tydens die onlangse Suidoosterfees het ’n groep van sy leerders die geleentheid gekry om saam met hom die vertoning Die riel van Hip-Hop by te woon. By hierdie geleentheid het hulle vir David Kramer ontmoet en hulle het entoesiasties saam met hom vir ’n foto poseer. Lees meer oor Eric hier
Self die produk van ‘n onderwyseres wat haar in graad 6 geïnspireer het en ‘n liefde vir boeke en lees by haar aangewakker het, leef Marelize Swanepoel haar liefde vir Afrikaans en die onderwys met kreatiwiteit en entoesiasme uit. Marelize het aan die begin van die jaar by Wits se opvoedkundige kampus begin werk as Afrikaanse dosent, nadat sy vir ’n paar jaar skool gehou het en uitgeblink het as ’n Afrikaans Tweede Taal-onderwyser. Marelize bestuur ook die webwerf www.swanies.co.za waar sy gratis Afrikaanse Huistaal- en Eerste Addisionele Taal-hulpbronne en metodiek aan onderwysers en leerders verskaf. Lees meer oor Marelize hier
Kyk en luister ‘n mens so na Fanus Minnaar en die entoesiasme waarmee hy alles aanpak, is dit duidelik dat onderwysers gebore word en hy die regte beroep gekies het. Die leerders wat die toekomstige “meneer Minnaar” as hul onnie gaan hê, kan hulself gelukkig ag. Fanus is tans in sy finale jaar van onderwysstudies by Unisa, maar is reeds die afgelope paar jaar betrokke as fasiliteerder by verskeie jeugaktiwiteite. Hy sien baie daarna uit om so gou as moontlik die onderwys voltyds te betree. Lees meer oor Fanus hier

Kwêla se Inspirerende onnie

KykNET se Kwêla-program het aan die begin van die jaar ’n splinternuwe projek geloods waarin hulle weekliks fokus op een of ander inspirerende onderwyser plaas.

Is daar ’n onderwyser in jou omgewing wat jy as besonder inspirerend beskou? Klik hier om te kyk hoe jy hierdie onderwyser kan nomineer sodat Kwêla dalk die kollig op hom of haar kan laat val.

Kry inspirasie hier:

Maretha van Heerden se inspirerende storie.

Louisa Alberts help leerders met onsigbare gestremdhede: https://kyknet.dstv.com/video/kwela-louisa-alberts
Germandt Geldenhuys van Binnelanders vertel van onnies wat hom inspireer het: https://kyknet.dstv.com/video/inspirerende-onnie-germandt-geldenhuys