ʼn Mengelmoes rympies sorg vir ure se genot

10 Januarie 2018

Rympies is pret vir enige kind en daar het pas weer ʼn splinternuwe bundel propvol oulike rympies verskyn.

 Alita Steenkamp het met Gertie Smit, een van die samestellers gesels.

Is dit nie wonderlik hoe ʼn mens nog die heel eerste kleuterrympies wat jy kleintyd geleer het, kan onthou nie? Een van daardie rympies wat my steeds woord vir woord bybly, is my pa wat ons hande kleintyd gevat het en die name van ons vingers afgetel het: “Duimpie, Duimpie se maat, Langeraat...” Wanneer hy dan uiteindelik by “Piepie in die Kooi” gekom het, het ons gekraai van die lag en vinnig gevra om dit weer ʼn keer te hoor.

Opvoedkundiges is dit eens dat rympies, of dit nou as liedjies gesing word of bloot opgesê word, geweldig belangrik is in die ontwikkeling van ʼn kind in sy of haar totaliteit. Op hierdie manier leer kinders speel-speel nuwe woorde, dit ontwikkel kinders se taalvermoë en vaardighede, hulle leer meer oor klank en ritme, selfs wiskunde en dit help hulle ook om sekere sosiale vaardighede te ontwikkel. Boonop kan die tyd wat ʼn ouer gebruik om vir sy kind rympies voor te lees, ʼn belangrike bousteen vorm in die vestiging van ʼn goeie ouer/kind-verhouding.

 

Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit is die samestellers van Rympies vir Pikkies en Peuters en Rympies vir Kleintjies en Kleuters.

Gertie Smit het haar hele professionele loopbaan gewy aan kleinkinderopvoeding. Eers as ʼn “sub A-juffrou” en daarna was sy vir meer as 30 jaar betrokke by onderwysersopleiding op Wellington. As beheerraadslid van Kinderland Kleuterskool op Wellington, was sy verantwoordelik vir die kurrikulumontwikkeling van hierdie kleuterskool. Met haar soektog na die regte rympies en liedjies wat by die voorgeskrewe temas van die “National Curriculum Framework from Birth to Four Years” sou inpas, het sy besef dat daar nie naastenby genoeg rympies beskikbaar is om vir hierdie doel te gebruik nie. Wat van ʼn bundel wat op hierdie temas fokus, het sy begin wonder en haar droom met Riana Scheepers gedeel. Riana het baie van die idee gehou en vir Suzette Kotzé-Myburgh geskakel om koppe bymekaar te sit. Riana en Suzette het in 2009 die pragtige Nuwe Kinderverseboek saamgestel en was dus heel ervare met die keuring, redigering en samestelling van so ʼn bundel.

“Riana het baie skrywers en digters op haar databasis gehad wat haar gehelp het met die vorige bundel en ons het ook oor die radio, in die Burger en op LitNet mense uitgenooi om rympies in te stuur. Ons het gehoop om 500 rympies te ontvang sodat ons daaruit ʼn bundel kon saamstel maar toe kry ons oor die 5000 rympies,” vertel Gertie. “Daaruit het ons die eerste bundel, Rympies vir Pikkies en Peuters saamgestel wat gemik is op die kleintjies van 1 tot 3 jaar oud. Dit het in November 2015 by Tafelberg verskyn. Daar het nog so baie rympies oorgebly en ons het geweet dit sou genoeg wees om nog ʼn bundel mee te vul. Rympies vir Kleintjies en Kleuters, wat in November 2017 verskyn het, is gemik op 3 tot 5-jariges. Die rympies is bietjie langer en die inhoud ʼn bietjie meer gevorderd. Ek is Tafelberg ewig dankbaar dat hulle die potensiaal van die projek raakgesien het en ingestem het om dit uit te gee.”

Aanvanklik is daar 20 onderwerpe, wat temas in die kurrikulum van kleuterskole en speelgroepies is, aan die skrywers gegee. By elkeen van hierdie 20 temas het hulle ook riglyne voorgestel waaroor om te skryf. Nadat hulle al die rympies van heinde en verre ontvang het, het die groot siftingsproses begin. Gertie vertel dat die redigeerproses ʼn groot werk was. Van die gediggies was te woordryk en dit moes na die kern toe afgeskaal word. Die rym is baie belangrik, maar die metrum nog belangriker en natuurlik die heel moeilikste. Dit was nie altyd moontlik vir al drie, Suzette, Gertie en Riana, om om een tafel te sit met die redigering nie. Gewoonlik het twee-twee saamgewerk, en dan is dit na die derde een gestuur vir haar insette. Philip de Vos was dan die laaste leser om seker te maak die metrum is korrek en dat die rympie sal werk.

Soos met enige boek wat gemik is op die kleingoed, lewer die illustrasies ʼn reusebydrae tot die sukses van die boek. Vir Rympies vir Kleintjies en Kleuters is Alzette Prins, Karen Ahlschläger, Marleen Visser, Dale Blankenaar en Vian Oelofsen se illustrasies gebruik. Dis heerlike humoristiese sketse, maar by die afdeling wat gaan oor die donker kant van die lewe, waaraan kleuters hier op ʼn slim manier blootgestel word deur die rympies, is die illustrasies in ʼn strakker styl. Dit sluit rympies oor onderwerpe soos hartseer, bang, die dood van ʼn hondjie en onaanvaarbare aanraking in.

Daar het baie water in die see geloop sedert Gertie in 2013 die behoefte raakgesien het vir ʼn kleuterbundel wat uitstekend by die leerplan van kleuterskole sal inpas. Nou is daar twee pragtige bundels op die rak wat oorloop van vryheid, kreatiwiteit, verbeelding en speelsheid; ʼn wonderlike skatkis vol juwele wat nagelaat word vir geslagte Afrikaanssprekende kleintjies wat kom.

“Al twee die rympieboeke, sowel as die Liedjies vir Pikkies en Peuters wat toonsettings bevat van 40 van die eerste bundel se rympies, is ʼn wonderlike saamwerkpoging. Dit was dalk een mens se droom, maar dit het ʼn hele span geverg om dit te laat realiseer, sê Gertie. “Ek, Riana en Suzette het heerlik saamgewerk al was dit lang ure en laat nagte. Daarna is dit na die mense by Tafelberg wat die bladuitleg gedoen het en ook die illustreerders wat hulle wonderlike bydrae gelewer het. Dit was ʼn baie bevredigende ervaring. Ek onthou so goed toe ek vir die eerste keer ʼn Rympies vir Pikkies en Peuters in my hande gehou het, het ek op die stoel gaan sit, totaal oorweldig. Dit was soos om kleintyd ʼn krismisboks oop te maak. Elke keer wat jy omblaai, sien jy iets nuuts. Dis wonderlik om deel van hierdie nalatenskap te wees.”

*Suzette Kotzé-Myburgh het ʼn honneursgraad in joernalistiek en het vir baie jare in die uitgewersbedryf gewerk waarvan ses jaar as kinderboekuitgewer by Tafelberg. Sy werk sedert 1998 op ʼn vryskutbasis en doen onder meer teksredigering, manuskripkeuring, manuskripontwikkeling, proefleeswerk, vertaling, projekbestuur, boek- en filmresensies sowel as skrywersonderhoude vir RSG. Sy tree ook op as mentor vir teksredakteurs en gee ook opleiding. Benewens Rympies vir Pikkies en Peuters en Rympies vir Kleintjies en Kleuters, is sy ook die medesamesteller van Nuwe Kinderverseboek en Nuwe Stories 1, 2 en 3.

*Riana Scheepers het reeds ʼn belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer. Sy het ʼn PhD in Afrikaans en Nederlands en het onder meer die Eugène Marais-prys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang vir Dulle Griet. Riana is ook die skrywer van die baie gewilde Haai, Katriena, wat vertel jy my nou?, Katriena, nou lieg jy mos!, en Katriena, née! In 2012 is haar Die Vrou in die Vuur deur Tafelberg gepubliseer. Hierdie is ʼn bundel van haar beste kortverhale. Van haar literêre werke is in Nederlands en Spaans vertaal en vele van haar kortverhale in Frans, Nederlands en Engels. Riana is ook passievol betrokke by enige projek wat te make het met geletterdheid en leesopvoeding en help talentvolle jong skrywers om hulle volle potensiaal te bereik.