Woorde open Wêrelde

03 Maart 2017

“Wanneer jy ’n kind se oë sien ophelder ... as hulle eers besef dat taal nie moeilik hoef te wees nie ...”

- Fiona van Kerwel


Die Woorde Open Wêrelde (WOW)-jaarprojek van die US Woordfees is vanjaar vereer met die Neville Alexander-prestige-eerbewys van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument.

WOW het ten doel om ’n liefde vir lees en woorde by leerders te kweek. Die projek help jaarliks sowat dertien behoeftige leerders aan die Universiteit van Stellenbosch deur die beskikbaarstel van aanvullende beurse.


Die WOW-span

Die WOW-projek wil perspektiewe verruim, mense bemagtig en kinders se potensiaal ontsluit en ontwikkel. Die projek is betrokke by prettige aktiwiteite wat binne vier fokusse val: leesbevordering, taalontwikkeling, werwing en gehoorontwikkeling. In 2016 het die projek meer as 25 000 mense bereik deur verskillende aktiwiteite en ervarings. Die Sanlam WOW Nasionale spelfeeste, kultuurfeeste en leesprojekte groei by die dag.

Fiona van Kerwel, aan stuur van sake by WOW gesels tydens die US Woordfees 2017 met Afrikaans.com oor die projek wat perspektiewe verruim, mense bemagtig en kinders se potensiaal ontsluit en ontwikkel.

’n WOW-suksesverhaal: Patricia Zali en dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) wat sedert 2015 spesifiek op Afrikaanse onderwys fokus, gesels oor hul betrokkenheid by die projek.


Meer oor WOW

WOW bevorder woordvaardigheid, lees, geletterdheid en die kunste in Afrikaans. Hierdie projek staan onder die stuur van Fiona van Kerwel vir wie opvoeding ‘n passie is. Sy het 15 jaar onderwysondervinding en sê die werk wat WOW doen, is meer as die moeite werd wanneer jy ’n kind se oë sien ophelder as hy iets verstaan. “As hulle eers besef dat taal nie moeilik hoef te wees nie ... hier kry ons met baie rowwe diamante te doen, maar deur WOW gaan hulle soos geslypte diamante deur die lewe.”

Taalkennis bepaal prestasie in alle vakrigtings en die WOW-inisiatief loods jaarliks talle projek-aksies soos skrywersbesoeke aan skole vir voorgeskrewe tekste, leeskringe, leesfeeste, ondersteuning vir skoolkoerante, debatfeeste, kuns- en kultuurfeeste, werkswinkels, kompetisies (soos die verf- en verskompetisie vir jong leerders) en veral die snelgroeiende en alombekende Sanlam WOW-spelfees.

 

'n Groot fokus van WOW is om belowende leerders te identifiseer en aan te moedig tot tersiêre studie, veral binne die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe op Stellenbosch.

Lees- en skryfprojekte by skole

Boeke is steeds vir te veel kinders ‘n luukse en WOW poog om leesstof, gedruk en digitaal, meer beskikbaar te maak aan mindergegoede skole. Deur boeke en skrywerspraatjies deel te maak van ‘n kind se ervaringswêreld en kinders in aanraking te bring met kundiges, werkwinkels en skryfskole word vaardighede verskerp en kinders word bemagtig. Hierdie projek is van onskatbare waarde vir die leerders, maar ook vir die opvoeders, die breë gemeenskap en onderwysdepartemente. WOW se uitgangspunt is dat dit lekker moet wees vir skole om deel te neem en dat gehoorontwikkeling so spontaan plaasvind. As daar entoesiasme vir lees gekweek word, verbeter prestasie vanself.

Taalontwikkeling

Die WOW-projek span kreatiewe projek-aksies in om agterstande uit die weg te probeer ruim deur die perspektiewe van leerders te verruim. Dit word gedoen deur blootstelling deur middel van verskillende uitreike. Hierdie projek word ondersteun deur ‘n beursprojek wat studente vanaf WOW-skole tydens hul studiejare finansieel ondersteun.

Kuns- en kultuurprojekte, gehoorontwikkeling
WOW-kultuurfeeste word by landelike en stedelike skole aangebied. Die teikengroep vir hierdie projek is leerders en onderwysers van deelnemende skole, sowel as gemeenskapslede wat deur hul ondersteuning die kunste verder kan uitbou by die betrokke skole.

Deelnemers word deur kundiges tydens werkswinkels en slypskole vaardighede aangeleer sodat hulle self die kultuurfeeste kan aanbied.

Hierdie projek word reeds by elf laerskole en drie hoërskole aangebied. Tans vorm koorspraak, skoolkore, dramas en visuele kunste deel van hierdie kultuurfeeste en meer as 2 000 kinders het in 2016 deelgeneem.

Die Sanlam WOW-spelkompetisie
Die Sanlam WOW-spelkompetisie is nou in sy tiende jaar.



“Ons doel met die kompetisie is om leerders weer opgewonde te maak oor hul taal – en oor woorde. By WOW en by die Woordfees draai alles wat ons doen om woorde – lees, skryf, sang, toneel. Ons wil graag dié passie ook by ’n nuwe geslag laat vlamvat.”
Saartjie Botha (Direkteur US Woordfees).

 

Saartjie Botha, US Woordfees feesdirekteur se passie vir WOW


Fiona van Kerwel, die projekbestuurder vir die WOW-projek, sê sy en haar span deurkruis jaarliks die land om toe te sien die verskillende rondes van die kompetisie – van skoolvlak, dan na kring-, distrik- en provinsiale vlak – verloop foutloos en glad. “Ons maak staat op ’n hele klomp onderwysers en ouers wat ons vrywillig help om die projek verder uit te bou. Die potensiaal van ons leerders én hulle ouers en onderwysers is ongelooflik en gee ’n mens oneindig baie hoop.”

Drie leerders per graad uit elk van die nege provinsies dring jaarliks deur na die eindronde wat in Oktober plaasvind om sake uit te spook.

“As ware Welvaartmeesters™ is Sanlam trots om betrokke te wees by die WOW-Spelfees,” sê Francois Adriaan, hoof van Sanlam korporatiewe sosiale betrokkenheid. “Spel speel ’n groot rol in leerders se akademiese prestasie op skool, asook in die ontwikkeling van leerders se potensiaal om uiteindelik naskoolse opleiding te ondergaan, finansieel vooruit te kan gaan en waardige, suksesvolle landsburgers te word.”


 

Lees meer oor die Sanlam WOW-spelkompetisie en Woorde open Wêrelde (WOW).

 

Tydens die WOW-dag vir Graad 12 is leerders uit die Wes-Kaap ingelig en vermaak. ‘n Taalwerkswinkel is aangebied en bekende rolmodelle het die leerders inspireer.

Dr. Gillian Arendse, die programbestuurder gesels oor die dag.

Dann-Jacques Mouton, bekende akteur en hoofrolspeler in die fliek Abraham deel sy liefde vir teater en die kunste.