Vyf handige toeps vir graad 1-3

16 Januarie 2018

Vyf handige toeps vir graad 1-3

Is jy bekommerd oor jou graad 1-3-leerder se vaardighede en vordering? Oorvol klaskamers, min tyd en ander veeleisende leerders in jou kind se klas kan dalk veroorsaak dat hy/sy nie sekere belangrike vaardighede wat nodig is vir akademiese sukses behoorlik onder die knie het nie. Gelukkig kan jy iets hieraan doen! Afrikaans.com het ’n paar toeps gaan uitsnuffel wat jou kind kan help om hierdie vaardighede aan te leer en in te oefen. Die lekker van elektroniese leer is immers dat jou kind dit enige tyd, op enige plek, kan doen!

1.) Die A+-toeps

A+ Graad 1, A+ Graad 2 en A+ Graad 3 is toeps wat honderde pretbelaaide oefeninge vir die ontwikkeling van elke graad se vaardighede bevat. Van die vaardighede wat ontwikkel word, sluit onder meer in: Optel, aftrek, lees, spelling, logiese beredenering, geheue, konsentrasie, kreatiwiteit en basiese rekenaarvaardighede.

Alle aktiwiteite word aangebied in ontspanne en genotvolle speletjies en die speletjies is so ontwerp dat kinders dit verstaanbaar vind en sonder die toesig van hul ouers kan voltooi. Hierdie selfdoenmetode lei dan ook tot die ontwikkeling van die kind se selfbeeld en gee hulle vertroue in hul intellektuele vermoë ’n hupstoot.

Hierdie toeps is NIE beskikbaar in ’n gratis formaat nie en is dus eksklusief beskikbaar vir lede van die opvoedkundige webblad, Besige Breintjies. Jy kan dus slegs die toep aflaai indien jy lid is van Besige Breintjies. Indien jy lid wil word, besoek hul webblad by: www.besigebreintjies.co.za.

2) Die GOBE-toeps

GO & Be programming het verskeie toeps beskikbaar wat jou graad 1 – 3-leerder se vaardighede kan help ontwikkel. GOBE Optel en Aftrek, GOBE Spoed Lees, GOBE Graad 1 Wiskunde, GOBE Graad 2 Wiskunde, GOBE Graad 3 Wiskunde en GOBE Graad 3 Afrikaans om maar net ’n paar te noem. Jy kan die soekwoord GOBE gebruik om te sien watter ander toeps beskikbaar is.

Die GOBE-toeps is beskikbaar op die Google Playstore en hoewel sommige daarvan gratis is, kos die meeste van die toeps R12.99.

3) Helpende Hand-toeps

Helpende Hand het ook verskeie toeps ontwikkel wat spesifiek op grondslagfaseleerders gemik is. Die Sigwoorde Pret-toep help leerders om sigwoorde onder die knie te kry, die Skryf Pret-toep help leerders om te leer skryf en die Hoofletter Pret-toep help leerders om die gebruik van hoofletters te verstaan.

Al die Helpende hand-toeps is gratis op die Playstore beskikbaar.

4) Wiskunde Hoofrekeninge

Die Wiskunde Hoofrekeninge-toep bevat +, -, x en ÷ somme spesifiek gemik op grondslagfaseleerders. Die program bestaan uit vier moeilikheidsvlakke (gr 1-2, gr 3-5, gr 6-8 en ook ’n persoonlike vlak waar jy self die limiete van somme stel) en is tydgebonde. Leerders kry twee minute om soveel moontlik vrae te beantwoord. Die program genereer self die vrae, merk dit en gee die leerling se finale punt asook ’n lys van al die vrae en antwoorde.

Hierdie is ’n 100% gratis toep wat geen advertensies bevat nie! Jy kan dit op die Google Playstore aflaai.

5) Lees & Lees: Flink dink

Die Lees en Lees: Flink dink-toeps is spesifiek ontwikkel om jou kind se lees-, begrips- en taalvaardighede op ’n prettige wyse te ontwikkel. Leerders kry te doen met ’n wye verskeidenheid leesstukke (resepte, gedigte, tongknopers, idiome en kopkrappers).

Daar is verskeie moeilikheidsvlakke en leerders moet eers die vorige vlak bemeester voor hul na die moeiliker vlak kan beweeg.

Hierdie toeps is gratis op die Google Playstore beskikbaar.