Dis hoekom ek lees

08 Februarie 2017

Bekendes vertel: “Die boek wat van my ʼn leser gemaak het.”

Enige reis begin met die eerste tree en enige boekliefhebber sal jou vertel dat dit presies dieselfde is met boeke. Daar is altyd daardie een boek wat die skaal laat kantel en van jou – wat dalk voorheen gelees het net omdat jy moes – ʼn passievolle, lees-alles-wat-letters-het leser maak.

Ilse Salzwedel sê in haar geval was dit ʼn Trompie-boek so aan die einde van graad een. "Vóór dit was dit die baie storieboeke wat vir my voorgelees is en natuurlik die (taamlik onavontuurlike) avonture van Koeloe en Duif en Sus en Daan waardeur ons daagliks in die leesklas eers geklank en toe gelees het. En die wonderlike boekies in die biblioteekhoekie van die klas.

"Maar toe kry ek iewers op ons boekrak ʼn ou Trompie-boek en ek verander in ʼn onversadigbare leser. Om net te kyk na die dikke boek wat ek op my eie gelees het, was fantasties, om nie eers te praat van al die avonture en kopreise waarop Trompie en Rooies en kie my geneem het nie. Daarna het die wêreld nog wyer oopgeval deur die avonture van Trompie, Saartjie, Jasper, die Uile, die seuns van Keurboslaan, die meisies van Maasdorp en Pippie Langkous. Maar tot vandag toe – en baie duisende boeke later – onthou ek steeds die onbeskryflike genot van daardie eerste Trompie."
 

Hier vertel ‘n paar bekendes van hul eie eerste treetjie op die wonderlike reis saam met boeke.
 

 

Fanie Viljoen, bekroonde kinder- en jeugboekskrywer, sê hy kan nie onthou of ʼn spesifieke boek hom aan die lees gekry het nie. “Ek het kleintyd al reekse boeke kafgedraf: Trompie, Pippie Langkous, Jasper, Die Uile, Klein Kaptein en meer.” Maar een reeks boeke was ʼn lewenslange inspirasie: die vertaalde Agaton Sax-boeke. “Ek was mal oor die speurder se avonture en sy aweregse soektog na skelms. Agaton het my eie Klits Kronkel-boeke jare later geïnspireer.” 

 

 

Sophia Kapp, bekroonde skrywer van onder meer Oorlewingsgids vir ʼn bedonnerde diva onthou dat Langenhoven se kinderstories in haar voorskoolse jare reeds haar liefde vir lees laat ontwaak het. “My pa het die gedenkuitgawe - so ʼn grys stel - gekoop en saans vir my daaruit voorgelees. Maar hy was slu, en het elke keer net so op die naelkou-oomblik ophou lees en die boek gebêre vir môre. Ek het myself leer lees omdat ek nie met dié uitsteltegniek kon saamleef nie. Môreaand het ek ewe vroom daar gelê en luister hoe hy voorlees, maar ek het klaar geweet hoe die storie gaan eindig.” Daar, vertel sy, het sy reeds geleer dat ʼn goeie storie nie iets is wat jy met die eerste leesslag hoef af te handel nie. “Die bekoring kan weer en weer herleef word.”

Die skrywer wat haar in ʼn romantiesefiksieleser – en uiteindelik skrywer in hierdie baie gewilde genre - verander het, was Ettie Bierman. “Ek was tien en ʼn ywerige leser by die plaaslike takbiblioteek. Een van Ettie se Jakaranda Lugdiens-boeke het per ongeluk tussen die kinderboeke beland en die biblioteektannie het oë toegeknyp en die boek vir my gegee. Ek het daardie nag die boek vier keer deurgelees, van voor na agter, direk ná mekaar. Die volgende dag was ek verdwaas van moegheid en lekkerte – en dis vandag nog presies dieselfde.” 

 

Die bekroonde misdaadskrywer Martin Steyn het op laerskool reeds reekse soos Die Uile en Joe Dever se Lone Wolf gelees, maar vertel dat ʼn boek wat hy op hoërskool gelees het, sy lewenskoers verander het. “Ek het The Dark Half by die biblioteek uitgeneem en dit het my totaal meegevoer. Ek het ʼn kinderlike opgewondenheid ervaar soos nog nooit tevore nie. Die donker storie, die verbeelding en uitbeelding daarvan, die karakters, die wêreld... Die woorde op daardie bladsye was pure betowering.”

Hierdie boek het uiteindelik van hom ʼn skrywer gemaak. “Eers wou ek net in Stephen King se wêrelde wegraak, maar teen die tyd dat ek by It gekom het, wou ek meer hê. Ek wou die magic self hê, en ook hierdie wêrelde skep. Ek onthou op daardie stadium was daar ʼn aanhaling voorop King se boeke wat gelui het ‘words are his power’. Ek wou ook hierdie towerkrag van woorde hê, en dis hoekom ek vandag ʼn skrywer is.” 

 

Schalk Schoombie, bekroonde dramaturg, joernalis en skrywer van Boomkastele, sê hy vind dit moeilik om net ʼn enkele boek te identifiseer na ʼn leeftyd van lees en skryf. “Ek onthou wel dat ek graag van jongs af strokiesprente gelees het. In boekvorm en koerante, en in jeugtydskrifte soos Die Jongspan, Patrys en Vonk. Gunstelinge was Rakkertjie Rob, Kosie en Kwak, Tarzan, Die Skim, Walter die Wonderman en Blits Gordon. DC Comics se superhelde in oorvloed!”

“Die Uile-reeks van Cor Dirks het my aan die lees gehou met gevaarlike avonture wat nie illustrasies nodig gehad het nie. Die ontdekking van Mikro se Huisies teen die heuwel in standerd 5 het my laat besef daar is ander vorme van ‘dieper’ leesstof. In standerd 6 het ek Engels aangedurf en Bram Stoker se Dracula het my nagte lank die bewerasie gegee. Ek herinner my dat ek obsessief Agatha Christie se moordraaisels verorber het, een na die ander, wanneer ek eintlik moes studeer. In die weermag was dit Wilbur Smith, Isaac Asimov en Ayn Rand.”

Maar Schalk sê die boek wat van hom ʼn lewenslange toegewyde leser van goeie boeke gemaak het, was The Magus deur John Fowles. “Ek het dit eers op 23 gelees, nadat ek klaar gestudeer en my dramagraad behaal het. Ek het die boek verlede jaar herlees net om te sien of dit my weer so sou vermaak, ontstem, frustreer en verras, en dit was weer eens ‘n grootse ervaring! Sedertdien soek ek gedurig na ‘n boek wat my op dieselfde manier oorrompel en betower.” 

 

Phyllis Green, fotograaf en SARIE se boekeredakteur, se vroegste herinneringe aan boeke is die materiaalboekies met groot prente waarmee sy as kleuter gespeel het. “Ek onthou ook hoe my ma vir my Dr. Seuss voorgelees het. Tussen haar voorlees en my blaai in boeke het ek geleer om te lees en kon ek reeds lees toe ek met my heel eerste leesboekie, Mossie en Baas, kennis gemaak het in Graad 1. Maar die boeke wat finaal my liefde vir lees gesement het, is beslis Stella Blakemore se Maasdorp-reeks.” Nadat sy in standerd drie al die toegelate boeke vir haar standerd in die skoolbiblioteek klaargelees het, het sy so geneul by die biblioteekjuffrou dat sy ingestem het dat Phyllis van die groter kinders se boeke mag lees. “En daar ontdek ek vir Kobie Malan, hoofkarakter en avonturier in die Maasdorp-reeks. Dit het ’n lewenslange liefdesverhouding met boeke geskep waarsonder ek my die lewe nie kan voorstel nie.”

 

Die kinderboekskrywer Wendy Maartens het haar leestande gesny op Bollie, Tina, Patrys en Vonk. “My ouma het by die Skool vir Blindes op Worcester gewerk. Sy het al my Bollies en Tina’s in sulke dik bundels laat bind wat my ure se leesgenot verskaf het. Ek het hulle later uit my kop geken en soms selfs in die nag opgestaan om deur hulle te blaai. Ons het ook nêrens heen gery sonder dat een van ma se gehekelde komberse en ʼn bundel saam is nie. My eerste 'leesoorwinning' was toe ek in Graad 2 die storie op Bollie se voorlaaste blad kon lees! Dit was die storie wat nie in strokiesprente opgedeel was nie.”

Toe sy eers die wonderwêreld van lees ontdek het, het Wendy al Helena Lochner se boeke, Saartjie, Trompie, Nancy Drew en The Secret Seven verslind. “Kort daarna het ek Heinz Konsalik se boeke ontdek en my dae op die steppe deurgebring saam met een of ander held wat bloeddorstige Kosakke afgeweer het. Dit was ook die tyd van André P. Brink se politieke romans wat destyds verban is. My ma het hulle altyd agter in haar bedkassie gebêre. So het ek dit ‘saam’ met haar gelees sonder dat sy dit geweet het. Of dalk het sy...”

Wendy sê daar was in haar tienerjare een spesifieke boek wat die kern van haar menswees geraak het en wat die res van haar lewe se koers verander het. “Dit was asof my hele wese gewag het op How green was my valley sodat ek stadig maar seker die mens kon word wat ek bestem was om te wees.” 

 

Ilse Salzwedel is ‘n bekroonde joernalis, skrywer en radio-aanbieder van Johannesburg. Daar het al vyf boeke uit haar pen verskyn: Seerowers, kameelkoppe en chillies vir tee (2011), Bloedsusters (2011), Onvertelde Stories van Afrikaans (2012), Selna Visser: My hel in Dubai (2013) en Van sprokie tot tragedie in die kollig (2014) wat op die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse 2015 in die kategorie: Nie-fiksie verskyn het. Sy is ook die vertaler van drie boeke: Haar eie Blood Sisters, asook Dwelmslagoffer: die Vanessa Goosen-verhaal deur Joanne Joseph en Die Modimolle Monster deur Karyn Maughn. Ilse is al met verskeie joernalistieke pryse bekroon, onder meer ʼn ATKVeertjie, ʼn PICA en vier Caxton-toekennings. Sy is ook deur die FAK bekroon met die HB Thom-toekenning vir ʼn besondere bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek. Die Cordis Trust het die Orde van die Beiteltjie in 2015 aan haar toegeken vir haar bydrae tot Afrikaanse letterkunde.”

 


Lees ook...