Fedsas se boeke op wiele

17 Maart 2017

Leesvreugde!

Die nuutste toevoeging tot Fedsas se mobiele biblioteke verskaf nou leesvreugde aan die leerders van Hermanus Woelwaters, ‘n kleuterskool.

Hierdie biblioteke op wiele bevat Afrikaanse leesstof ter waarde van tussen R15 en R55 000. Die biblioteekprojek is ‘n unieke inisiatief van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas) in samewerking met Quali Books en die sangeres Nedine Blom.

Elke mobiele biblioteek bestaan uit ‘n kabinet met wiele wat van klas tot klas geneem kan word en bevat boeke wat op laerskoolkinders gerig is.

Danie van Wyk, die bestuurder van die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingstrust (SAOOT, ‘n uitreikaksie van Fedsas) in die Wes-Kaap wat die projek stuur, sê “boeke verbreed horisonne en baie van ons laerskoolkinders in die voorheen benadeelde gemeenskappe het nie die luukse van ’n biblioteek in hul gemeenskap of skool nie.”

SAOOT in die Wes-Kaap wil die leeskultuur terugbring deur sy biblioteekprojek vir laerskole en wil uitbrei.

Die projek is in 2015 by die Primêre Skool Scottsville in Kraaifontein, Tygersig in Ravensmead en Irista in Kuilsrivier begin.

Die biblioteekprojek is een van drie projekte wat sy organisasie aanbied. “Ons bied ook leerderberade en wiskundeprojekte aan. Die wiskunde- en biblioteekprojek word in samewerking met die sanger Nedine Blom aangebied, wat ook as ons ambassadeur vir die projekte aangewys is.

Volgens Van Wyk werk SAOOT nou saam met Kingsley Kruger van Quali Books en ontvang hulle nie geld nie, maar die borg nader hulle om te sê in watter area hulle die biblioteekprojek wil begin.

Daar word gesamentlik besluit by watter skool die boekekas afgelewer word.
“Jy moet onthou in ons skole is daar nie biblioteke nie en baie van ons kinders weet nie hoe om ’n boek vas te hou of hoe om daarna te kyk nie.

“Met die biblioteekprojek kry daai kind nou die kans om die boek huis toe te neem, te lees en weer terug te besorg aan die biblioteek by die skool. “Ons is dankbaar vir die maatskappye wat voorheen ’n boekekas geborg het, maar doen nou ’n beroep op ander om ons in die Wes-Kaap te help.

“Maatskappye wat ’n boekekas borg, sien ook onmiddellik die impak wat ’n boek op ’n kind se lewe maak en hoe sy horisonne verbreed.”


Reuse hupstoot

NB-uitgewers se groot skenking van boeke verlede jaar, is ‘n reuse hupstoot vir die projek.
“Projekte soos hierdie het die steun van groot uitgewersmaatskappye nodig. Daarom beskou ons hierdie reuseskenking van NB-Uitgewers nie net as ’n belegging in die projek nie, maar in die toekoms van hierdie kinders,” Van Wyk.

By die oorhandiging van die boekskenking was, van links na regs, mnr. Johannes Bell (bestuurder van die NB-Pakhuis), sangeres Nedine Blom (ambassadeur van die projek), mnr. Danie van Wyk (bestuurder van SAOOT), me. Michelle Cooper (verteenwoordiger van NB-uitgewers), mnr. Paul Colditz (FEDSAS se uitvoerende hoof), mnr. Henry Botha (adjunk-provinsiale bestuurder van FEDSAS in die Wes-Kaap), mnr. Graham Bam (provinsiale bestuurder van FEDSAS in die Wes-Kaap) en mnr. Lewellin Brown (adjunk-provinsiale bestuurder van FEDSAS in die Wes-Kaap). NB-uitgewers publiseer onder sewe hoofdrukname naamlik Tafelberg, Human & Rousseau, Queillerie, Pharos, Kwela, Best Books en Lux Verbi.
Belangstellendes kan ’n e-pos aan Danie van Wyk stuur by weskaap@saoot.org.za.
 


Fedsas

Fedsas verleen hulp aan beheerliggame oor die hele spektrum van skoolbeheer en -bestuur, onder meer personeelaanstellings, arbeidsverhoudinge, strategiese beplanning, finansiële bestuur en opleiding.
Fedsas het ook grondige ervaring van onderwysaangeleenthede.

As ’n aktiewe, dinamiese organisasie is hulle op hoogte van veranderinge en herstrukturering op onderwysgebied en kan hulle hul lede dienooreenkomstig raadgee.

Nedine Blom en Danie van Wyk van die Fedsas-biblioteekprojek wat tans uitbrei. Danie van Wyk is die bestuurder van SAOOT in die Wes-Kaap.
Foto: Nadine Williams
 


Hermanus Woelwaters, deel van die boekeprojek 

Fedsas se uitreikaksie, SAOOT (Suid-Afrikaanse Onderwys Ontwikkelingstrust), het onlangs as deel van die Boekeprojek in die Wes-Kaap, leesboeke by die Woelwater Kleuterskool in Hermanus afgegee. Die kinders is duidelik ingenome met hul boeke!