Moedertaalonderrig is nie 'n opsie nie - wat nou?

06 Februarie 2018

Moedertaalonderrig is nie 'n opsie nie - wat nou?

Ons almal weet hoe belangrik moedertaalonderrig is. Navorsing toon dat kinders wat in hul moedertaal onderrig word nie net beter presteer op skoolvlak nie, maar ook in die tersiêre omgewing.

Afrikaans.com stel ondersoek in oor die verskillende Afrikaanse tuisonderrigopsies en wat ouers vir wie moedertaalonderrig of tuisonderrig nie moontlik is nie, kan doen.

Verband tussen moedertaalonderrig en prestasie

Kyk hier na 'n video hoekom dit belangrik is om in jou moedertaal te leer en studeer: 

Moedertaalonderrig behels dat leerders die fundamentele konsepte van 'n vak of onderwerp in hul moedertaal leer. Sodra hulle hierdie konsepte begryp, kan hulle dit toepas wanneer hulle 'n tweede taal aanleer. Kinders verstaan konsepte makliker in 'n taal wat aan hulle bekend is, maar in 'n tweede taal word dit 'dooie' woorde wat net gememoriseer, maar nie geïnternaliseer word nie.

Indien 'n leerder nie moedertaalonderrig ontvang nie, het dit 'n enorme invloed op sy/haar vermoë om die kurrikulum te verstaan. Die leerder presteer nie net swak in taalvakke nie, maar ook in al die ander vakke omdat hulle nie verstaan wat hulle moet lees en leer nie. In wiskunde byvoorbeeld, kan 'n leerder swak vaar indien hy nie die konsepte van halveer en verdubbel verstaan nie.

Vian Singleton

Die bekende kinderakteur en uitblinker Vian Singleton (12) vertel hoe hy sukses behaal deur sy moedertaal.


Maar hoe gemaak wanneer die opsie nie daar is om jou kind in sy/haar moedertaal te onderrig nie?

Tuisskool

Jare gelede is ouers wat hul kinders tuis geskool het snaaks aangekyk, vandag is dit egter 'n uitstekende opsie wanneer goeie skole nie tot jou beskikking is nie.

Tegnologiese vooruitgang het dit ook maklik gemaak om toegang te verkry tot verskeie platforms en bronne wat jy benodig.

SA Tuisskolers (https://www.sahomeschoolers.org) is 'n goeie wegspringplek indien jy meer wil weet van tuisonderrig in Suid-Afrika. Dié webblad bevat omvattende inligting oor waar om te begin, die wetlike aspekte van tuisonderrig, nuus, hulpbronne en skakels van organisasies wat kurrikulums en ondersteuning bied.

Daar is 'n magdom verskillende opsies wanneer dit by tuisonderrig kom. Deeglike navorsing oor watter kurrikulum die beste vir jou kind en julle as gesin gaan werk, gaan nodig wees. Elke kind is tog 'n individu met sy/haar eie behoeftes en leerstyle.

'n Paar kurrikulumopsies wat in Afrikaans beskikbaar is, is:

As jy tuisskool oorweeg, kyk hier. 


Maar wat kan jy doen as moedertaalonderrig of tuisonderrig nie 'n opsie is nie?

Lees



Lees bly beslis die belangrikste wapen in jou kind se arsenaal wanneer dit by akademiese sukses kom. Alles wat ons doen, behels die vermoë om te lees. Lees kweek immers begrip en sonder begrip gaan jou kind kleitrap, nie net op skool nie, maar ook in hul alledaagse lewe!

Lees verbeter jou algemene kennis, jou taalvermoë (woordeskat, skryf- , spel- en praatvermoë), jou kommunikasievermoë, dit stel jou bloot aan nuwe dinge en help jou ook om die wêreld rondom jou te verstaan. Die skrywer George R.R. Martin, van die Game of Thrones-faam, het by geleentheid gesê:

"'n Leser leef 'n duisend lewens, 'n nie-leser leef slegs een."

Al is moedertaalonderrig nie 'n opsie vir jou kind nie, kan jy verseker dat hy/sy steeds in hul moedertaal lees. Sorg dat jou kind altyd toegang het tot Afrikaanse leesmateriaal.

Sluit by jou plaaslike biblioteek aan, besoek gereeld boekwinkels (tweedehandse boekwinkels is ook 'n goeie opsie) begin 'n gesinsboekklub waar jul boeke in Afrikaans bespreek en sorg dat jy tydskrifte in Afrikaans koop.

Maak Afrikaans deel van jul daaglikse lewe

Ons is geneig om te vergeet hoe baie kinders leer deur osmose. Gebruik net een maal daai gewraakte drieletterwoordjie voor jou kind en voor jy jou kom kry, herhaal hul dit kliphard op die mees ongewenste plek (dikwels in die ry by die supermark of voor die dominee as hy huisbesoek doen).

Sorg dat jou kind omring word met Afrikaans in hul daaglikse lewe; luister Afrikaanse radio en musiek, kyk Afrikaanse TV-programme, kook Afrikaans en gesels Afrikaans. Al gaan jou kind in Engels skool kan jy steeds sorg dat sy huislewe Afrikaans is.

Jy kan ook sorg dat jou kind pret het in Afrikaans. Daar is verskeie bordspeletjies, rekenaarspeletjies en toeps wat in Afrikaans beskikbaar is. Leer en speel gaan hand aan hand en wanneer jou kind pret het in 'n taal, leer hulle!

Ander doen-dinge om jou kind se moedertaal te bevorder

Een van die wonderlikste geskenke wat jy jou kind kan gee is om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem. 'n Organisasie soos die Voortrekkers en Landsdiens verskaf nie net pret nie, dit kan 'n waardevolle leerskool word vir jou kind waar hy/sy, in Afrikaans, kan leer en speel.
 

Jy kan ook jou kind laat deelneem aan ander kulturele aktiwiteite. Laat jou kind by 'n jeugkoor aansluit, eisteddfods en kunstefeeste en redenaarskompetisies soos die ATKV Redenaars en Radikale Redenaar kan ook help om jou kind se liefde vir Afrikaans te bevorder.

Jy kan ook vir 'n Lees- en Leersentrum naby jou soek. Al gaan jou kind nie skool in sy/haar moedertaal nie kan jy steeds sorg dat hulle die nodige akademiese leiding in hul moedertaal ontvang. Edublox, en Kumon is van die bekendste name, maar doen navorsing oor watter sentrum in jou area beskikbaar is.

Dink buite die boks wanneer dit kom by jou kind se opvoeding. Daar is verskeie maniere om by dieselfde eindresultaat te kom: 'n Gelukkige, gebalanseerde kind wat na die beste van sy/haar vermoë presteer ongeag van die taal waarin dit gebeur

Laai af ...

Internasionale Moedertaaldag - 21 Februarie 2018

Hierdie spesiale dag is in 1999 deur UNESCO ingestel om mense bewus te maak van die belangrikheid van moedertaalonderrig en veeltalige opvoeding.

Op 17 November 1999 het UNESCO (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) die heel eerste Internasionale Moedertaaldag aangekondig. Sedertdien word Moedertaaldag elke jaar op 21 Februarie gevier. Die datum verteenwoordig die gebeure op 21 Februarie 1952 toe vier jong studente in Dhaka, die hoofstad van Bangladesj, dood is weens konflik tussen Bengali- en Urdu-sprekers. Die studente het geveg vir die reg om in hul moedertaal gehoor te word, en die datum is ook tot openbare vakansiedag verklaar in Bangladesj.

Internasionale Moedertaaldag beklemtoon die belangrikheid van moedertale regoor die wêreld en moedig mense aan om ingelig te wees oor hul moedertaal en die belangrikheid van moedertaalonderrig en laat val die fokus op die bewaring van kultuur en erfenis.

Afrikaans.com se interaktiewe lekker-lees Moedertaalonderrig-blad is beskikbaar! Hier beantwoord ons jou vrae oor hoekom moedertaalonderrig so belangrik en broodnodig is vir toekomstige sukses, vertel jou meer oor veeltaligheid en besweer sommer ook 'n paar bekommernisse en mites oor moedertaalonderrig. Ons nooi jou uit om jou vrae te vra sodat ons die kundiges kan raadpleeg en saam met jou ons kennis oor hierdie belangrike onderwerp kan uitbrei in ons strewe na suksesvolle opvoeding en opleiding vir ons kinders in 'n veeltalige, multikulturele land.

Klik hier vir ons Moedertaalonderrig-blad ...