30 Top liedjies van 2016!

11 Januarie 2017

'n Liedjie wat uitgestaan het, is Lianie May & Jay se liedjie, Da’ Vat Hy. Na slegs vier maande op YouTube is die musiekvideo reeds meer as 400 000 keer gekyk en het dit die Top 20-trefferparades van verskeie radiostasies gehaal.

 

2016 was ook ’n goeie jaar vir nuwe toetreders tot die musiekbedryf. Iemand soos Refentse Morake van Vereeniging, wat in 2015 die verbeelding aangegryp het met sy buitengewone sangtalent nadat Cecilia Marchionna ’n video van hom op haar Facebook-blad geplaas het. Binne vier dae is die video meer as 120 000 besigtig en het talle dit ook gedeel – sosiale media het behoorlik gegons. Dit is egter nie waar dit opgehou het nie. In April van 2015 het Refentse in Oudtshoorn in die straat opgetree en niemand anders nie as Karen Zoid, toe sy gunstelingsanger, het R10 in sy boks gegooi. Daardie aand het die organiseerders by die KKNK hom die geleentheid gegee om van die musieksterre agter die skerms te ontmoet en het hy saam met die einste Zoid opgetree en is hy ’n musiekkontrak aangebied. Die res? Wel, dis geskiedenis!

Nog ’n nuwe stem wat uitgelig moet word, is Georic Lomas. Hy is die eerste keer raakgesien in sy rol as Morné in die fliek, As jy sing. Tans werk hy aan sy debuutalbum Silhouette. Sy musiek word beskryf as “popmusiek op sy beste” en vind byval by almal wat jonk van hart is. Sy eerste enkelsnit, Bazaruto is onlangs op iTunes vrygestel.

Die immergewilde Karen Zoid se Waar was jy, ‘n lied geskryf ter viering van Huisgenoot se 100ste bestaansjaar het ook baie goed gedoen.

Verskeie Engelse kunstenaars het ook met groot sukses die Afrikaanse mark betree. Arno Carstens van Springbok Nude Girls se eerste album in Afrikaans, Die Aandblom 13, is een so ’n voorbeeld. Die snit, Ontwaak, op dié uitstekende album staan uit en het verskeie top 20-lyste gehaal.

Len Muller het in die middel van 2016 begin werk aan sy nuwe album wat hy vroeg in 2017 gaan vrystel.

TV- en radiopersoonlikheid, Martin Bester, en voorheen hoofsanger van die Engelse groep, Kinky Robots, het ook die groot stap geneem om sy eerste Afrikaanse album Vir die eerste keer, bekend te stel.

‘n Onbekende in die musiekbedryf is Namakwaland se Brian Cloete - ontdek deur Riku Lätti. Brian sing tans onder die sambreel van Die Wasgoedlyn en is stil-stil besig om naam te maak. Sy eerste groot publieke optrede was by vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom en sy liedjie, Soos Blomme het ook Maroela Media Afrikaanse Top 20 gehaal. 

Ander hoogtepunte van 2016:
Daniel BaronHart. Dit was ook sy eerste Afrikaanse liedjie wat hy vrygestel het en het baie goed gevaar op verskeie Afrikaanse Top 20-trefferparades.
Stella‘n Nuwe môre (akoestiese weergawe).
Richard van der WesthuizenYster en Vuur. Richard het weer verras met ’n splinternuwe album met ‘n paar nuwe liedjies. Die titelsnit van die album, Yster en Vuur, is ‘n terugskouing van ’n harderige lewe (“nie noodwendig myne nie”) verduidelik Richard.
1925 Band Eintlik nogal baie. Hierdie groep het ‘n ongelooflike jaar agter die rug. Hulle snit, Eintlik nogal baie, wat ook die titel is van die Afrikaanse film wat in 2016 vrygestel is, het hulle ‘n welverdiende plek in die Afrikaanse musiekbedryf besorg.
SuzanneVergewe my. Suid-Afrika se eie Taylor Swift. Baie van haar ander liedjies het op verskeie Top 20-lyste verskyn. Sy en haar man, Jacobus Uys, skryf al haar liedjies self en op haar nuwe album het sy ook met Fred den Hartog van Die Heuwels Fantasties saamgewerk.

Saamgestel deur Pieter Cloete. Kontak hom by info@pietercloete.com

2016 se top 30-liedjies:

1.Lianie May & Jay – Da’ Vat hy
2.Len Muller & Joshua na die Reën – Vir die een wat geval het
3. Georic Lomas - Bazaruto
4. Charlize Berg - Braaf
5. Refentse - Sonvanger
6. Neil Somers - Silwerkombers
7. Karen Zoid – Waar was jy?
8. Len Muller – Ek glo
9. Joshua na die Reën – Die wêreld binne my
10. Elvis Blue – Langs jou
11. Franja du Plessis – Stad van verlange
12. Arno Carstens - Ontwaak
13. Ricus Nel, Adam Tas, Bok van Blerk & Refentse - Hardekole
14. Kurt Darren – Kaalvoet sokkie
15. Liza Brönner – Verlief op die idee van my
16. Dewald Wasserfall – Jy is die storm
17. Touch of Class – Ek steek my hand op
18. Suzanne – Vergewe my
19. Jo Black - Skepe
20. Bok van Blerk & Laurika Rauch – Ek het
21. Leah - Volmaan
22. Brendan Peyper – Die perfekte een vir my
23. Refentse – Oom Faan se plaas
24. Martin Bester – Wat weet ek tog?
25. Nagligte - Ongelooflik
26. Bok van Blerk – Modder en Bloed
27. Kurt Darren – Ek wens vir jou
28. Burgerd Botha – As jy nog twyfel
29. Vaughan Gardiner – Bou aan liefde
30. Brian Cloete – Soos blomme

 

 

 

Musiekvideo’s – Top 30-liedjies (verskeidenheid):

 

Jo Black - Skepe 

Lianie May en Jay – Da ’Vat hy 

Georic Lomas - Bazaruto 

Ricus Nel, Adam Tas, Refentse & Bok van Blerk  

Refentse – Sonvanger 

Burgerd Botha – As jy nog twyfel 

Kurt Darren – Kaalvoet sokkie:  

Stella – Nuwe môre: