Hilde se Hartsklanke

20 November 2016
Hildegardt Whites
Hildegardt Whites het geen bekendstelling nodig nie. Haar debuut op TV in 7de Laan het haar in duisende Suid-Afrikaners se harte laat inkruip. Hierdie talentvolle aktrise woeker met haar talente ... op die verhoog, voor die kamera en nou met haar passie vir musiek. ‘n Jaar gelede is besluit om uiteindelik haar eerste album te vervaardig. Dit was die begin van ‘n kleurvolle reis ... en ‘n TV-program .. Hilde se Hartsklanke!

Afrikaans.com nooi jou saam op haar onthoupad ... terug na haar herkoms ... die mense en klanke van haar kinderdae. Reis elke Woensdagaand, 20:00 saam met Afrikaans.com en Via-TV... dan is Hilde se Hartsklanke op die kassie!

Jy kan aanklop by medemusikante uit die kleurvolle en unieke streke van die Weskus en Noord-Kaap waar Hilde grootgeword het. Sy is gebore op Nieuwoudtville. Stap saam met haar op die spoor van haar mense ... sy ontdek opnuut haar hartsklanke en hierdie ritme is aansteeklik!

Sy het 13 liedjies nodig vir haar album en sy het 30 dae! Reis saam met haar na Vredenburg, Clanwilliam, Vredendal, Van Rhynsdorp, Garies, Karkhams, Kamieskroon, Leliefontein, Pella, Kakamas, Kenhardt, Calvinia, Loeriesfontein, Nieuwoudtville en die Paarl. Elke dorpie en elke liedjie is spesifiek gekies om Hilde se eerste album uniek en oorspronklik te maak. Reis saam.

Indien jy die episode gemis het, kan jy elke Vrydag luister na die liedjie en na die volledige program op Afrikaans.com kyk. Ons bring vir jou die storie agter die storie en so ’n kykie agter die skerms.

Praat Hilde met jou hart? 

Episode 13 - Paarl

Hilde se musikale reis kom tot ’n einde.

 

Hildegardt Whites se soeke na haar eie, unieke klank kom eindelik tot ’n hartseer einde. Hilde se Hartsklanke, het dié aktrise en sangeres gevolg soos sy wyd en syd deur die land getoer het om haar eerste album op te neem. Die laaste episode wys vanaand om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147).

Hilde, haar man, Kuba Silkiewicz, en haar orkes het 13 dorpies wat na aan haar hart lê, besoek en oral saam met plaaslike kunstenaars liedjies opgeneem.

Hilde is beide hartseer en bly dat dié spesiale reis tot ’n einde gekom het. “Ek kan nogsteeds nie glo ons het dit gedoen nie! Ek het dit verskriklik geniet en só baie geleer. Dit was vir my ’n ongelooflike reis en ek het ongelooflik baie geleer as mens én as musikant. Musiek leef binne my.”

Die finale liedjie, Kinders van die stof, geskryf deur Kuba, bring die hele reeks bymekaar. “Dit is vir my ’n baie mooi liedjie,” vertel Hilde. “Ons het só baie mense ontmoet vir wie ons só liefgeraak het. Dit is ook ongelooflik om te sien wat die ervaring vir hulle beteken het.”

Dié vers in die liedjie som dit pragtig op:

Hulle los voetspore
Van blomme en drome
Hulle sing met die stem van die wind
Hulle dans onder die sterre
Tot son op
Die kinders van die stof

Daar is baie kunstenaars wat vir Hilde spesiaal was. “Ek was mal oor die musikante wat ons in Clanwilliam ontmoet het. Hulle het dit so vinnig gekry. En dan natuurlik die omies in Kenhardt. Ek het hulle so baie geniet. Boeta Gammie in Calvinia staan ook uit op die reis.”

En as sy terugkyk na dié bedrywige ervaring? - “Ek sal dit alles weer doen!”

Heruitsendings van Hilde se hartsklanke wys Donderdag om 08:00 en 16:30, Vrydag om 14:00 en Saterdag om 19:00. Slegs op VIA (DStv-kanaal 147).

  Lees meer ...

Episode 12 - Nieuwoudtville

Die liedjie wat Hilde in Nieuwoudtville opneem, is saam met  Arlene Bowers.
    

 In die week se episode van Hilde se hartsklanke is Hildegardt Whites uiteindelik in haar tuisdorpie, Nieuwoudtville, en ’n een-keer-in-’n-leeftyd-ervaring wag vir haar in die strate van haar kinderdae. Met die voorlaaste episode van hierdie 30 dae lange toer, vind Hilde haar hartsklanke in die dorpie waar haar wortels lê.

“Hierdie is my laaste dorpie, hierdie is vir my ’n persoonlike plek,” vertel Hilde oor die plek waar sy “mens geword het.”
In die stofstrate van Nieuwoudtville staan Hilde en die gemeenskap en sing die liedjie, Middernag, wat haar van vooraf roer. “Dit is ’n baie spesiale liedjie vir ons familie. As ons iets gedoen het, het ons dit gesing in die huis,” vertel sy met trane in haar oë.

Hilde is uiteindelik in haar tuisdorp, Nieuwoudtville, en ’n een-keer-in-’n-leeftyd-ervaring wag vir haar in die strate van haar kinderdae. Hilde sing die liedjie, Dogters van Eva.

KITSFEITE
Naam: Arlene Bowers
Blyplek: Nieuwoudtville
Liedjie: Dogters van Eva

Hoe lank sing jy al?
Ek was vyf toe ek begin sing het, maar het vir ’n lang tyd nie gesing nie en weer in 2015 begin.

Waar het jou liefde vir musiek ontstaan?
Ek kom uit ’n musikale familie. My oupa aan moederskant het altyd liedjies geskryf en my ouma aan vaderskant het ook gesing.

Watter tipe musiek sing jy graag?
Ek het in die kerk begin met gospel-musiek en het in die koor ook gesing. Deesdae sing ek meestal jazz, pop en R&B-musiek. Die liedjie met Hildegardt is my heel eerste Afrikaanse liedjie.

Waar tree jy oral op?
Ek werk eintlik vir ’n huurmotormaatskappy, maar ek tree op as ek die geleentheid kry.

Hoe was dit om saam met Hilde op te neem?
Ek en Hilde ken mekaar van kleins af en het saam grootgeword. Ek het langs haar tannie gewoon en ons pa’s was besigheidsvennote. Vir my was dit ’n groot voorreg om saam met haar op te neem. Dit het my weer selfvertroue gegee en was ’n leersame en opwindende ervaring. Dit was ’n ongelooflike geleentheid vir my.
 


“As jy wil weet wat in my familie se harte leef, luister na die liedjies wat oor hulle lippe vloei. Die liedjies kom uit een plek, een familiegeskiedenis, een stamboom en ons almal is soos takke aan die boom. Ons takke reik ver in tyd en ons takke reik terug. Ons takke groei soos die jare verbygaan, ons takke groei tot hoog by die maan. Almal groei in verskillende rigtings, maar ons wortels bly een.” - Hildegardt Whites

.  

Nuwe episodes van Hilde se hartsklanke wys elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) en herhaal dan weer Saterdagaande om 19:00 en Sondagoggende om 07:00.

  Lees meer ...

Episode 11 - Loeriesfontein

Die liedjie wat Hilde in Loeriesfontein opneem, is saam met Loeriesfontein-orkes & Boesmanland Bitterbessie-rieldansgroep.
    

 

KITSFEITE

 

Naam: Loeriesfontein-orkes & Boesmanland Bitterbessie-rieldansgroep
Blyplek: Loeriesfontein
Liedjie: Ver in die Ou Kalahari

Hoe lank bestaan die band al?
Dis ’n familie-orkes wat al jare lank bestaan.

Waar het julle leer speel?
“Ons het as kinders onder mekaar begin speel toe ons so rammetjies maak. Ek was 11 jaar oud toe ek ernstig begin speel het. As ons so met die kitaartjies speel, dans die meisiekinders so om ons. Ons het saans gedans en musiek gemaak,” vertel orkeslid, Dirk van Zyl.
“My pa het kitaar gespeel, my oupas het gespeel en my ooms ook. So daardie musiekbloed sal nie sommer gaan lê nie,” vertel Hendrik Oakus, ook lid van die orkes. Hy verduidelik dat as musiek in die familie is, die kanse groot is dat jy ook eendag musiek sal maak.

Watter tipe musiek maak julle?
“Ons speel Afrikaanse musiek, ons speel nie Engelse musiek nie,” sê Johannes van Wyk, ook lid van die orkes.

Hoe lank speel julle al?
“Ek kan nie skryf nie, so musiek was die eerste ding wat ek geleer het,” vertel Johannes. “Ek luister na die noot en klank en dan kan ek dit speel.”


Boesmanland Bitterbessies
Hoe lank bestaan die groep al?
Ons het in 2010 ons groep gevorm toe ons van ons onderskeie groepe af weggebreek het.
Waar tree julle oral op?
Ons dans op uitnodiging, dus oral waar ons heen genooi word regoor die land.  

Nuwe episodes van Hilde se hartsklanke wys elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) en herhaal dan weer Saterdagaande om 19:00 en Sondagoggende om 07:00.

  Lees meer ...

Episode 10 - Calvinia 

Die liedjie wat Hilde in Calvinia opneem, is saam met Jan Isaacs “Boeta Gammie".
    

KITSFEITE
Naam: Jan Isaacs “Boeta Gammie”
Blyplek: Calvinia
Liedjie: Ek wonder deur Hildegardt Whites 

Hoe lank speel jy al kitaar?
Toe ek agt was, het ek my pa se Wonderkroon-blikkie gevat en ’n blikkitaar daaruit gemaak. Ek het lekker daarop getokkel.

Waar het jy leer speel?
Ek het grootgeword met rielmusiek en dis in my bloed. Ek was deel van die AGS-jeugkoor toe ek 15 was en daar het ek viool ook begin speel.

Wat is jou klank/inspirasie in die Hantamberge?
Ek is in die skerm (area) gebore en die geluid van voëls in ’n boom en die mooi natuur was alles vir my ’n inspirasie. As ek my kitaar vat en ek kom in die natuur, kon ek binne ’n minuut ’n liedjie maak. Ek het gesien as jy kitaar vat en in die veld gaan en jy doen jou ding, is dit ’n groot inspirasie.

Watse tipe musiek maak jy?
Dis plattelandse musiek wat gaan oor ons omgewing hier.

Waar tree jy oral op?
Ek tree binnekort by die KKNK op en meestal by feeste in die Namakwaland-area. Ek het ook al saam met Jack Parow in Springbok opgetree. Toe ek vir Jack sien, het ek gedink: “Ek hou van die ou se styl!” Dit was een van die wonderlikste dinge gewees toe hy ’n rap-liedjie kon deel maak van rielmusiek.

Hoe was dit om saam met Hilde op te neem?
Dit was vir my ’n baie wonderlike ervaring. Dit het alles so natuurlik gekom. Hilde het my baie gemaklik laat voel en ek het dit baie geniet.  

Nuwe episodes van Hilde se hartsklanke wys elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) en herhaal dan weer Saterdagaande om 19:00 en Sondagoggende om 07:00.

  Lees meer ...

Episode 09 - Kenhardt

Die liedjie wat Hilde in Kenhardt opneem, is saam met die Kenhardt Snare-orkes.
    

KITSFEITE
Naam: Kenhardt Snare-orkes
Blyplek: Kenhardt
Liedjie: Xabara

Hoe lank bestaan die band al?
Die VGK-kerk bestaan reeds sowat 120 jaar, wat beteken hierdie orkes bestaan al vir meer as 100 jaar, want die orkes het kort ná die kerk se opening begin.

Waar het julle leer speel?
In Kenhardt leer ons onsself of kyk na die ouer mense en leer by hulle. Ons leer speel gewoonlik met blikrammetjies (blikkitare) wat ons sommer self uit ’n kan maak en aan ’n plank vasmaak. Ons gebruik skaapderms vir die snare.

Watter tipe musiek maak julle?
Die orkes is deel van die VGK-kerk in Kenhardt en ons speel slegs gesange.

Waar tree julle oral op?
Ons speel Sondagoggende in die strate voor die erediens en loop tot by die kerk waar ons daar ons laaste gesang speel. Ons word betrek by begrafnisse en ook die gemeenskap se sangaande.

Hoe was dit om saam met Hilde op te neem?
Dit was vir ons baie lekker, want ons was nog nie voorheen op televisie nie. Die orkes-manne praat nou nog oor die ervaring!

 

  

Nuwe episodes van Hilde se hartsklanke wys elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) en herhaal dan weer Saterdagaande om 19:00 en Sondagoggende om 07:00.

  Lees meer ...

Episode 08 - Kakamas

Die liedjie wat Hilde in Kakamas opneem, is saam met die 14-jarige Junaid Coetzee.
    

KITSFEITE
Naam: Junaid Coetzee (14)
Blyplek: Kakamas
Liedjie: Stilletos op die stofpad

Hoe lank speel jy al kitaar?
Ek speel al vir omtrent ’n jaar kitaar. Ek het in 2015 begin. In 2015 het ek ook ’n dubbelgoud-diploma vir kitaar ontvang.

Waar het jy kitaar leer speel?
Meneer Van Vuuren, ’n onderwyser by Laerskool Perseverence op Kakamas, het my geleer.

Watse tipe musiek maak jy?
Ek speel meestal gospel.

En watter tipe musiek luister jy graag?
Ek hou van gospel en R&B en ek is ’n aanhanger van Justin Bieber.

Waar tree jy oral op?
Ek tree meestal by plaaslike gospel-shows op en ek het ook onlangs by die Kakamas Liggiefees en die dorp se jeugdag opgetree.

  

Nuwe episodes van Hilde se hartsklanke wys elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) en herhaal dan weer Saterdagaande om 19:00 en Sondagoggende om 07:00.

  Lees meer ...

Episode 07 - Pella

Op Pella in die Noord-Kaap sing Hilde Glenda Meissenheimer se liedjie: Dans bietjie meer. Dit is opgeneem in ‘n kokerboomwoud saam met Ryan Basson wat Nama praat.
  

KITSFEITE
Naam:
Glenda Meissenheimer Ouderdom: 20
Blyplek: Vredenburg
Liedjie: Dans bietjie meer

Wanneer het jy begin musiek maak?
Ek was nog op laerskool toe ek met die kitaar begin het en musiek begin skryf het.

Wie het jou geleer?
Ek het baie mense wat my geleer het. My pa se broer het my eerste geleer. Koeba, my pa se swaer, het my ook geleer.

Wat is jou gunstelingliedjie?
Riana Nel se Wys my jou hart. Ek luister gereeld daarna.

Wat is jou gunsteling-Afrikaanse woord?
Vryheid.

Hoe was die ervaring om saam met Hilde musiek te maak?
Omdat ons mekaar nou al ken, kan ek nie sê dit was veel anders as die kere wat ons voorheen musiek gemaak het en saam gesing het nie. Dit was baie gemaklik en ons is al gewoond daaraan om saam te sing en te speel.

  

Nuwe episodes van Hilde se hartsklanke wys elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) en herhaal dan weer Saterdagaande om 19:00 en Sondagoggende om 07:00.

  Lees meer ...

Episode 06 - Leliefontein

Die liedjie wat Hilde in Leliefontein opneem, is saam met Ivan Roberts.  

 

KITSFEITE
Naam: Ivan Roberts
Blyplek: Leliefontein
Liedjie: Ek sien ’n nuwe hemel kom

Hoe lank speel hy al orrel in die kerk?
Hy het orrel begin speel toe hy 11 jaar oud was.

Waar het hy leer speel?
Hy het altyd sy pa dopgehou en alles wat hy gehoor het, het hy presies so gaan oorspeel. Ivan se pa het in die aand klavier gespeel en as hy die volgende middag uit die skool uit kom, het Ivan presies gedruk waar sy pa op die klavier gedruk het. Tot hy een aand sy ma en susters geroep het om te hoor hoe hy speel en vandaar het dit gegroei.

Watse tipe musiek maak hy?
Hy speel Sondae die orrel in die kerk.

Waar tree hy oral op?
Wanneer hy nie Sondae in die kerk die orrel speel nie, bied hy Maandae-oggende godsdiens by Laerskool Leliefontein aan waar hy Christelike liedjies saam met die kinders sing. Saterdae begelei hy die plaaslike brigade op Leliefontein en speel tromme en die fluit.

Hoe was dit om saam met Hilde op te neem?
“Dit was ’n wonderlike ervaring!” vertel Ivan. “Ek het nog nooit so iets beleef nie en nog nooit saam met iemand soos Hilde opgetree nie. Sy het soveel warmte gehad en ek het dadelik opgewonde geraak.”

 

Nuwe episodes van Hilde se hartsklanke wys elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) en herhaal dan weer Saterdagaande om 19:00 en Sondagoggende om 07:00.

  Lees meer ...

Episode 05 - Garies

Die liedjie wat Hilde in Garies opneem is saam met die Kamiesberg Rieldansorkes asook die Kamiesberg Rieldansers.  

 


KITSFEITE
Naam:
Kamiesberg Rieldansorkes
Blyplek:
Garies
Liedjie:
Stofpad en Dis Stil

Hoe lank bestaan die band al?

Hulle speel al van kleins af saam.

Waar het hulle leer speel?

Dit is in hulle gene gene! Hulle oupa’s en pa’s het gespeel en so het die groep talentvolle musikante geleer. Hulle speel net van gehoor af.

Watse tipe musiek maak hulle?

Dit is rieldansmusiek, maar hulle kan ook langarm dansmusiek speel as hulle saam het ander groepe optree. Hulle is aanpasbaar!

Waar tree hulle oral op?

Vroëer jare as daar danse was, het hulle gesorg vir die musiek en veral die kitare ingespan en gesorg vir ‘n opskop sonder vergelyk. In die dae was daar geen ander musiek beskikbaar nie en mense was afhanklik van musikante om die musiek te verskaf.. Hulle speel by al wat ‘n funksie is op die dorp en ook in die kerk. Oom Lukas se rumatiek keil hom op, maar hy tree steeds op wanneer hy ‘n spesiale uitnodiging ontvang.

Hoe was dit om saam met Hilde op te neem?

“Dit was vir fantasties gewees.” Hulle sê hul kon dit self nie glo nie. “Hilde is mos net op die televisie, so dit was regtig ’n groot eer. Hulle het ons ook baie gemaklik laat voel. Hulle is professionele mense, maar hulle het ons taal gepraat.”

  

Nuwe episode van Hilde se hartsklanke wys elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) en herhaal dan weer Saterdagaande om 21:00 en Sondagoggende om 09:00.

  Lees meer ...

Episode 04 - Vanrhynsdorp

Die liedjie wat Hilde op Vanrhynsdorp opneem is saam met die koor op die dorp, Joyfull Noise. Dié groep jongmense draai na musiek eerder as dwelms en geweld en dit beteken vir hulle baie om aan die groep te behoort.

KITSFEITE
Naam: Joyfull Noise
Blyplek: Vanrhynsdorp
Liedjie: Drink ’n bietjie water

Hoe lank bestaan die koor al?
Die groep is nou amper ’n jaar lank saam. Dit het by ’n groot interkerklike funksie begin ten einde geld in te samel vir kinders om skool toe te gaan. Van daar af het ons aanhou saamsing om die kinders van die strate af te hou.

Wie het hulle leer sing?
Die dorp hou baie van musiek en mense leer maar by mekaar. Mens sien die talent raak op die dorp en vat dit van daar af. Niemand het formele opleiding nie en dis alles rou talent hierdie. Ons probeer sover moontlik lesse en idees van die internet af kry om die sang vorentoe te vat.

Watse tipe liedjies doen julle?
Die groep fokus meestal op gospel, maar so nou en dan sal mense ons versoek om kulturele items uit die streek te sing.

Waar tree julle oral op?
Ons het altyd net in die area opgetree, maar ons tree nou al baie verder as dit op.

Hoe was dit om saam met Hilde op te neem?
Ons ken al ’n bietjie vir Hildegardt omdat sy hier op skool was, maar veral die kinders was nogsteeds in ekstase. Net die feit dat ons ’n geleentheid gekry het om gehoor te word, en dat mense kan hoor watse talent hier is, maak ons verheug. Dit kom nie elke dag nie, so dit was werklik ’n eer.

Wat is julle gunsteling liedjie om te sing?
Jehovah is your name. Die liedjie is baie na aan ons en mens sien die repetisie daarvan op die program.

 

Nuwe episode van Hilde se hartsklanke wys elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) en herhaal dan weer Saterdagaande om 21:00 en Sondagoggende om 09:00.

  Lees meer ...

Episode 03 - Vredendal

Sy benodig ’n spesifieke klank vir dié liedjie en vra vir Tannie Mary Kriel, die bekenste blikslaner op die dorp, om haar te help. Alfred Basson kom verras haar al die pad van Clanwilliam af om daardie spesifieke kitaarklank, bekend in die Weskus as fynknyp, te bring. Nico Klein en Elverno Kok maak die groep vol, en dié vyf baljaar lekker in die stof buite Namaqua wynkelder.

 

KITSFEITE

Naam: Mary Kriel
Ouderdom: 75
Blyplek: Vredendal
Instrument: Blik
Liedjie: Kupitika deur Pieter van der Westhuizen

 

Hoe lank speel Mary nou al die blik?
So lank as wat die mense in die dorp vir Mary ken, speel sy al die blik.

Waar het sy dit geleer?
As kind het sy tussen die grootmense gesit terwyl hulle musiek gemaak het, en die blik het haar só geïnteresseer, dat sy dit begin optel het.

Waar speel sy oral?
Sy hou gereeld opvoerings in die Namakwaland. Sy het al selfs saam met David Kramer ook opgeneem.

Hoe bekend is Mary in die area?
Almal op die dorp weet wie Mary is! Noem maar net haar naam, en mense weet presies van wie jy praat.

Hoe dink jy was haar ervaring om saam met Hilde te speel?
Dit was vir Mary ’n baie lekker ervaring en sy het baie geleer. Sy pas maklik haar musiek aan by ander, so sy het vinnig by Hilde en die res van die orkes ingeval.

KITSFEITE
Naam: Alfred Basson
Ouderdom: In sy 60’s
Blyplek: Clanwilliam
Instrument: Kitaar
Liedjie: Kupitika deur Pieter van der Westhuizen

Hoe lank speel hy al kitaar?
Alfred het vir die eerste keer die kitaar opgetel toe hy nege jaar oud was en nooit weer opgehou nie.

Hoe bekend is Alfred in die area?
Alfred is baie bekend in die area. Hy is van Clanwilliam af, maar mense ken hom baie wyer as dit in die Namakwaland.

Waar speel hy oral?
Alfred speel in ’n plaaslike rieldans band in Clanwilliam en toer oral saam met hulle rond.

Hoe sal jy sy musiek beskryf?
Alfred doen wat hulle in die Weskus ken as fyn knyp. Hy speel die kitaar sodat jy net anders kan nie as om te begin dans.

Hoe was sy ervaring om met Hilde op die neem?
Hy was eintlik geskok, want hy moes vinnig die dag van Clanwilliam af ry, maar hy het dit baie geniet om saam met Hilde te speel. Dit was vir hom iets heeltemal anders as waaraan hy gewoond is.

Nuwe episode van Hilde se hartsklanke wys elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) en herhaal dan weer Saterdagaande om 21:00 en Sondagoggende om 09:00.

  Lees meer ...

Episode 02 – Clanwilliam 

Díe week besoek hulle Clanwilliam. Hildegardt ontmoet die Nuwe Graskoue Trapper Band en neem die liedjie Laaste dans saam met hulle op in Clanwilliam se Tronkmuseum.

 

KITSFEITE
Naam: Die Nuwe Graskoue Trapper Band
Blyplek: Clanwilliam
Liedjie: Laaste dans

Hoe het die band ontstaan?
Meeste van hulle is deel van ’n ander musiekgroep op Graafwater wat al meer as 60 jaar ’n tradisie van musiekmaak daar voortsit.

Wie het hulle leer speel?
Die kinders wat hierdie band het, het by hulle oupa, oom of pa geleer. Die musiek word so van generasie tot generasie oorgedra.

Hoe lank speel hulle al?
Al van dat hulle groot genoeg was om ’n instrument op te tel leer hulle onder die vlerk van ouer orkeslede.

Speel hulle van gehoor of lees hulle musiek?
Nie een van hulle kan bladmusiek lees nie. Hulle maak almal staat op gehoor.

Hoe kan mense hulle musiek beskryf?
Die rielmusiek is ’n unieke musiekstyl met ‘n besonderse ritme waarop jy kan rieldans!

Dit het ’n kort afslag op die kitaar wat die ritme gee. Al die ander instrumente wat bykom, gee kleur. Tradisioneel is die rielmusiek net ’n kitaar, viool en banjo. Om dit te vernuwe, het die groep tromme, baskitaar en trekklavier bygevoeg.

Was dit spesiaal vir hulle om met Hilde aan die album te werk?
Hulle het die vreeslik geniet. Die liedjie was vir hulle baie maklik om te leer, omdat hulle gehoor so goed ingestel is tot hierdie spesifieke klank. Hulle kon dit vinnig optel en het lekker idees met Hildegardt en haar span uitgeruil.

Nuwe episode van Hilde se hartsklanke wys elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) en herhaal dan weer Saterdagaande om 21:00 en Sondagoggende om 09:00.

  Lees meer ...

Episode 01 - Vredenburg 

Die liedjie wat Hilde opneem, is saam met Glenda Meissenheimer. Dié 20-jarige sing, speel kitaar én skryf haar eie liedjies, maar min mense buite Vredenburg weet van haar. Hilde besluit om Glenda se liedjie, Hier by jou, saam met haar op te neem.

 

KITSFEITE
Naam: Glenda Meissenheimer
Ouderdom: 20
Blyplek: Vredenburg
Liedjie: Hier by jou

Wanneer het jy begin musiek maak?
Ek was nog baie jonk. Ek was nog op laerskool toe ek begin het met die kitaar en begin musiek skryf het.

Wie het jou geleer?
Ek het baie mense. My pa se broer het my eerste geleer. Toe help Koeba my. Hy is my pa se suster se man.

Wat is jou gunstelingliedjie?
Riana Nel, Wys my jou hart. Ek luister gereeld daarna.

Wat is jou gunsteling-Afrikaanse-woord?
Vryheid

Hoe was die ervaring om saam met Hilde musiek te maak?
Omdat ons nou al mekaar ken, kan ek nie sê dit was veel anders as die kere wat ons voorheen musiek gemaak het en saam gesing het nie. Dit was baie gemaklik en ons is al gewoond daaraan om saam te sing en te speel.

Jy het self die liedjie geskryf wat julle opgeneem het. Waaroor gaan dit vir jou?
Dit gaan oor iemand na aan die hart. Dit kan vir elke persoon oor iemand anders gaan.

Wanneer het jy dit geskryf?
Ek was nog op hoërskool toe. Dit was seker in 2010 toe ek 14 was.

Is dit ’n spesiale liedjie vir jou?
Dit is baie spesiaal. My pa het van die begin af gesê dit gaan ’n treffer wees, maar ons het nooit gedink dit gaan so uitdraai nie. Die feit dat ons dit kon opneem, is vir my baie spesiaal.

Nuwe episode van Hilde se hartsklanke wys elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) en herhaal dan weer Saterdagaande om 21:00 en Sondagoggende om 09:00.

  Lees meer ...