’n Nuwe klank in Afrikaans – Gerrit Boonzaier

20 September 2017

“… ek het ‘n Afrikaanse woord wat ek self gemaak het, mens noem dit: ‘Oefthentic’. ‘n Mens moet ‘oefthentic’ wees, in enigiets; besigheid, sport en in kuns veral… mense hou van iets vars. Die Engelse woord is ‘authentic’… kan jy dit sommer net in Afrikaans ‘n ‘oef’ maak en dit [vir my] staan ook vir oefen, want ‘n mens moet oefen om goed te wees, en al wat jou goed maak in iets, is tyd …” ” 

- Gerrit Boonzaier.

’n Nuwe klank in Afrikaans – Gerrit Boonzaier

Gerrit Boonzaier, of soos almal hom ken, ‘Boon’, het op vyf begin sing. Sy ma was ‘n kranige pianis. Op sewe skryf hy sy eerste boek, Die Singende Seun. Na skool moes hy kies tussen tennis en musiek, en dit was nie vir hom ‘n moeilike keuse om laasgenoemde te kies nie. Hy het musiek gaan studeer aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie en tree professioneel op vandat hy agtien is.

Hy beskryf die styl van sy nuwe klank as ‘n mengsel van pop en ‘folk’.
“… ek dink daar is definitief plek vir nuwe musiek” en oor ‘doef-doef’-musiek sê Gerrit: “... ek dink daai musiek wat die heeltyd ‘doef-doef’... mense begin moeg raak daarvoor. En dit was alles musiek wat die sanger gedans het met ‘n klinknaelbroek en ‘n paar bewegings en ek weet daai musiek is nog steeds popular, maar daar is definitief plek vir iets nuuts …”

Liezel, Gerrit se vrou, skryf al die lirieke. “Die Afrikaanse mark het baie liedjies oor braaivleis, brandewyn, partytjies, sport en liefdesteleurstellings. Ons wou aan Suid-Afrikaners musiek bied wat gaan oor die dieper dinge in die lewe, soos die hemel, onsekerheid, vrees, lewensvrae, die toekoms, geloof, hoop, ensovoorts. Dis ’n kombinasie van lekkerluister- en geestelike musiek en kan beskryf word as vitamiene wat geluister word vir die siel,” verklap Gerrit en Liezel entoesiasties.

Die eerste enkelsnit, Lewe, is pas vrygestel en is een van daardie liedjies wat jou diep raak wanneer jy dit vir die eerste keer hoor. Die snit, wat deur die duo self geskryf is, bou voort op die inspirerende wenresep waarvoor hulle bekendheid verwerf het en sluit ’n mengsel van elektroniese klanke en ander snaarinstrumente, soos die banjo, mandolien, kitaar, klavier en viool, in.

“Ons skryf emosionele musiek wat pas by die spesifieke tydstip in ons lewens. Tydens my skoonpa se lang siekbed het ons al ons eie emosies, asook syne, probeer vasvang in ons liedjies. Lewe gaan spesifiek oor die vrae en soeke na ons menslike doel op aarde,” sê liedjieskrywer en bestuurder, Liezel. “Alhoewel die woorde baie diep is, is die melodie kommersieel en maklik om na te luister. Die musiek is ook geskryf vir alle ouderdomme, sodat ons ’n wyer mark kan bereik.”

Luister na die lied, Lewe.

Pieter Cloete het met Gerrit gesels oor hulle nuwe klank in Afrikaans. 

Kyk hier:

Klik hier vir nog ...


Kyk ook ...