Ons top 5 vir 2017: Musikale nuwelinge

04 Desember 2017

Ons top 5 vir 2017: Musikale nuwelinge

Dit roer jou hartsnare, laat jou voete jeuk of huis toe verlang ... Afrikaanse musiek steur homself nie aan afstand, demografie of ouderdom nie ... vanjaar was vol verrassings!

1) Jo Black

Met sy welige swart baard en ‘heuning-oor-donderweer-gegooi-stem’ het Jo Black vir al die regte redes opslae gemaak met sy 2017-debuutalbum, Skepe. Dié album het binne net ses weke goue status bereik en die enkelsnitte Skepe, Bring die hoop weer terug en Vrede vind was vir weke aaneen op die SA Top-20. Hy is ook bekend as die man agter die BTG-projek (Be that guy/girl). Met die projek beoog hy om ’n platform te skep vir mense om te besef dat dit soms vir ander mense moeilik is om hul stories te deel en dat dit belangrik is om almal soos ’n iemand te laat voel.

Kyk hier na Jo Black se enkelsnit Bring die hoop weer terug

2) Appel

Hoewel Appel (Christoph Kotzé) nie ’n nuwe naam in die Afrikaanse musiekbedryf is nie (hy is bekend as een van Suid-Afrika se bekendste kontemporêre liedjieskrywers met kunstenaars soos onder meer Laurika Rauch, Karlien van Jaarsveld en Bok van Blerk wat liedjies uit sy pen sing), het hy in 2017 vir die eerste keer self die kollig betree met sy debuutalbum, Lei my na die water. Dié album het afgeskop met ’n trilogie van musiekvideo's: Lei my na die water, Kom lê my neer en Vroumens. Die duet, Lemoene, wat hy saam met Bok van Blerk opgeneem het, het ook groot aftrek by die publiek gevind.

Kyk hier na Appel en Bok van Blerk se duet Lemoene.

3) Refentse

Die liefling van die Vaaldriehoek, Refentse, het in 2017 sy plek in die Afrikaanse mark versterk. Sy 2016-debuutalbum, My hart bly in ’n taal, is in 2017 vir ’n Ghoema sowel as ’n Tempo-toekenning benoem. Met sy 2017-album, Deur My Venster, het die sanger verder luisteraars bekoor. Veral die enkelsnit, Vuil Vanderbijl, het opslae gemaak en verseker dat die sanger verdere aanhangers kweek.

Kyk hier na Refentse se enkelsnit Vuil Vanderbijl:

4) Franja du Plessis

Met haar 2016-debuutalbum, My verhaal, het Franja du Plessis bewys dat sy meer is as net die dogter van Juanita du Plessis. Hoewel sy reeds vir ’n geruime tydjie die verhoog met haar ma gedeel het, het Franja met die album daarin geslaag om vir haarself ’n unieke musikale identiteit te skep. My verhaal is in 2017 vir ’n Tempo-toekenning benoem.

Luister hier na haar enkelsnit Ek kan nie ophou kyk nie

5) Wolwe-dans

Dié musiekduo, wat bestaan uit Landru Ehlers en Danré van der Spuy, het met hul 2017-debuutalbum, Groete van my, vir hulself ’n stewige voet in die deur van die Afrikaanse musiekbedryf losgesing. Ehlers en van der Spuy het mekaar as eerstejaarstudente op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus ontmoet. Nie net is Groete van my vir ’n Ghoema benoem nie, die jong sangpaar maak ook al hoe meer naam met hul openingvertonings vir kunstenaars soos Dozi en Kevin Leo.

Kyk hier na Wolwe-dans se enkelsnit Ek het jou lief: 

Speel saam ...

Liedjietrivia

Kan jy raai watter lirieke word hier uitgebeeld? Toets jou liedjiekennis met hierdie lekker Triviaspeletjie.
Klik op die prentjie vir die antwoord. 

  • 22. Het jy die antwoord gekry?
    Indien nie, kyk hier na die video. 

  • 23. Het jy die antwoord gekry?
    Indien nie, kyk hier na die video. 

  • 24. Het jy die antwoord gekry?
    Indien nie, kyk hier na die video. 

  • 25. Het jy die antwoord gekry?
    Indien nie, kyk hier na die video. 

Vorige Liedjietrivias ...