Vox Novus - kontemporêre komposisies op ’n vars nuwe manier aangebied!

14 Desember 2017

“Pretoria is ryk met innoverende, jong komponiste. Net soos die klassieke meesters het ons gehore nodig om die inisiatief te ondersteun sodat die skepping van nuwe musikale kuns 'n groeiende bedryf kan bly.”  

- Franco Prinsloo.

Vox Novus is ʼn splinternuwe ensemble-koor wat in Pretoria gebaseer is. Die komponis en dirigent, Franco Prinsloo, het die ensemble op die been gebring. Hul konsertreeks, getiteld Magnificat. Miserere. O Salutaris, is in Oktober vanjaar bekendgestel.

Vox Novus fokus op die vervaardiging van hoëkwaliteitvertonings en -opnames van Prinsloo se eie koorkomposisies, maar sing ook werke deur ander Suid-Afrikaanse komponiste, soos Zander Fick en Pieter Bezuidenhout.

“Ons doel is om oorspronklike kontemporêre komposisies op ʼn vars, innoverende manier meer toeganklik te maak vir almal,” sê Prinsloo. “Ek het ʼn spesiale, uitgesoekte ensemble geskep wat as ʼn instrument kan dien om ons musiek lewe te gee.”

ʼn Verskeidenheid werke word vertolk, wat wissel van tegnies-uitdagende stukke, soos Magnificat, tot die mooiste toonsetting van Afrikaanse liefdesgedigte deur digters soos NP van Wyk Louw en Breyten Breytenbach.

“Pretoria is ryk met innoverende, jong komponiste. Net soos die klassieke meesters het ons gehore nodig om die inisiatief te ondersteun sodat die skepping van nuwe musikale kuns ‘n groeiende bedryf kan bly,” sê Prinsloo.

Die konsertreeks het deel gevorm van Vox Novus se voorbereiding vir die Wêreld Koorspele wat in Julie 2018 in Pretoria aangebied word. “Ons sal seker maak dat die Suid-Afrikaanse musiek goed verteenwoordig word tydens die kompetisie, en neem deel in twee van die ensemble-kategorieë.”

Pieter Cloete het met Franco Prinsloo, Zander Fick en Pieter Bezuidenhout gesels oor die ensemble wat ’n nuwe platform skep vir kontemporêre koormusiek.

Kyk hier:

Luister hier na ’n uittreksel uit een van Vox Novus se uitvoerings onder die bekwame leiding van Franco Prinsloo.

Klik hier vir nog ...


Kyk ook ...