Vriende van Afrikaans voeg daad by die woord

25 Julie 2017

23 jaar gelede het ’n klein groepie Afrikaanssprekendes in Stellenbosch ’n vereniging, Die Vriende van Afrikaans (VVA), gestig met die doel om hul liefde vir Afrikaans prakties uit te leef deur dinge te doen. Doendinge vir Afrikaans het ook die naam van die organisasie se nuusbrief geword. In 2014 is hierdie organisasie by die ATKV se kultuurdivisie ingelyf. Sedert hierdie insluiting, is die VVA nie meer voortdurend besig om vir oorlewing te veg weens ’n gebrek aan fondse nie.

Amanda de Stadler is die uitvoerende beampte van die Vriende van Afrikaans.

Amanda de Stadler, uitvoerende beampte van die VVA, gesels entoesiasties met Alita Steenkamp oor hierdie organisasie se vlagskipprojek, die Boektrommelprojek. Hierdie projek behels ’n trommel vol heerlike boeke wat aan verdienstelike skole en kleuterskole geskenk word en aan die einde van Februarie kon die VVA spog met meer as 50 boektrommels wat tussen Maart 2016 en Februarie 2017 landswyd uitgedeel is. “Rofweg bereken, het ons in die afgelope boekjaar aan 3420 kleuters toegang gegee tot splinternuwe boeke en as ’n mens in ag neem dat so ’n trommel se lewensduur ongeveer vyf jaar is, bring dit die aantal jong kinders wat hierby baat op 17100 te staan. Een van die mooiste stories van die wyse waarop hierdie projek een kind se lewe totaal verander het, is die verhaal van Marcelino,” vertel De Stadler.

Kinders is altyd gretig om na stories te luister. (Foto's: Izak de Vries LAPA Uitgewers)

Marcelino se verhaal begin waar hy vyf jaar oud is en as ’n hawelose seuntjie in Lionsdale, Elsiesrivier woon. Elke oggend vroeg daag Marcelino by die kleuterskooltjie op en in die middae verdwyn hy weer na ’n onbekende plek toe. Daar is nooit enige volwassene by die seuntjie nie. Elke Maandagoggend word al die kindertjies in die kleuterskool gebad, kos gegee en dan mag hulle onder hul eie kombersie, wat by die skool gehou word, slaap totdat hulle uitgerus is. In hierdie woonarea kry die kinders oor naweke min of geen kos nie en ook nie die geleentheid om te rus nie, vandaar die bederf by die kleuterskool.

Die skoolhoof, juffrou Hanlie, het die gebou waarin die kleuterskool gehuisves word, by die laerskool afgebedel en daar versorg sy en die vier onderwysers die kinders nie net liggaamlik nie, maar hulle maak hulle ook skoolgereed en wanneer hulle sewe word, gaan die kinders dan na die skool net langsaan die kleuterskool.

Hierdie kleuterskool is een van die instellings wat so ’n boektrommel by die VVA ontvang het. Elke oggend wanneer Marcelino by die skooltjie opdaag, stap hy reguit na die boektrommel toe waar hy een van sy drie gunstelingboekies uithaal: Babalela, Parmant of Wie jy ook al is. Marcelino ken die stories so goed, hy ‘lees’ dit vir die ander kinders voor en die wonderlike boodskap van al drie hierdie boeke, ‘Kinders het ook regte’ en ‘Elkeen in die lewe maak saak en is spesiaal’, verkondig hy met trots:

Marcelino het die hart van een van die hulponderwysers gesteel. Hierdie assistent, Angie, is ’n epilepsielyer wat by haar ouers inwoon. Sy wou toe weet wie se kind Marcelino is, en toe niemand weet nie, en dit blyk dat hy op straat woon, het sy gevra of sy hom maar saam met haar huis toe mag neem. Van daardie dag af het Marcelino ’n ouerhuis met ’n ma, ’n ouma en ’n oupa en nou word hy elke dag skool toe gebring en in die middae kom haal en op sy oupa se heup huis toe gedra. Toe Marcelino sewe geword het, het sy skoolloopbaan by die laerskool langs die kleuterskool begin en hy kom nou nog kuier om te vertel hoe hy vorder in die skool en ook om alles van die wonderlike nuwe boeke wat hy in die skool ontdek, te vertel.

Martie Preller se Babalela verskaf vreugde aan almal wat die boek optel.

“Boeke is Marcelino se lewe en dit maak sy wêreld soveel groter. Hy het besluit om eendag ’n onderwyser te word sodat hy ook vir kinders kan vertel hoe boeke jou uit jou omstandighede kan lig en aan jou ’n beter lewe kan gee. Wat ’n wonderlike verhaal is hierdie nie - van die verskil wat die boeke in een van ons trommels aan ’n klein seuntjie se lewe gemaak het. Boeke maak nie net in Marcelino se lewe ’n verskil nie, maar dis belangrik om te besef dat lees bepalend is vir alle leersituasies en om denkende kinders groot te maak,” sê De Stadler.

Benewens die uitdeel van die boektrommels, help die AVV ook met aktiwiteite soos leesondersteuning en boekopvoedingwerkswinkels. Hulle bied ook jaarliks gesprekke aan by die US Woordfees en daar vind ook Ommietafel-gesprekke in samewerking met die Afrikaanse Taalmonument plaas. “Afrikaans se Opkoms” is die tema vir hierdie jaar se gesprek wat op 17 Augustus in Stellenbosch plaasvind.

Kontak vir Amanda de Stadler en Chareldine van der Merwe indien jy wil betrokke raak.

Die VVA bied gereeld boekopvoedingwerkswinkels aan.

Sedert 2005 reël die VVA ook elke jaar die Koop-’n-Afrikaanse-boekdag wat vanjaar weer op 14 Augustus val. Chareldine van der Merwe, projekorganiseerder by die VVA, sê met hierdie jaarlikse projek wil die organisasie Afrikaanssprekendes aanmoedig om skrywers, boekwinkels en uitgewers te ondersteun met die aankoop van ’n Afrikaanse boek. Baie deelnemende boekwinkels bied dan afslag aan op die Afrikaanse boeke wat hierdie ’n geleentheid maak om nie mis te loop nie.

Chareldine van der Merwe, projekorganiseerder by die VVA.

Die Vriende van Afrikaans is nie bloot net ’n klompie mense wat spog dat hulle Afrikaans lief het nie. Hulle rol moue op en spring uit en takel verskeie projekte waarby Afrikaans kan baat. Nie net skenk hulle jaarliks die wonderwêreld van boeke aan duisende kinders nie, maar met al hulle projekte help hulle om die beeld van Afrikaans as ’n vriendelike taal te vestig.

Die VVA reël elke jaar die Koop-’n-Afrikaanse-boekdag.

Om meer te lees van die VVA, besoek https://www.atkv.org.za/Taal/Vriende-van-Afrikaans
of volg hulle op Facebook by https://www.facebook.com/vriende.sa?fref=ts
 

Lees meer ...