Amerikaner sing Afrikaans en vang harte met Sonvanger

23 November 2017

Amerikaner sing Afrikaans en vang harte met Sonvanger

’n Amerikaanse musikant van Ventura in Kalifornië is besig om haar pad na Afrikaanssprekendes se harte oop te sing.

Camille van Niekerk wat met ’n Suid-Afrikaner getroud is en besig is om Afrikaans te leer praat, het onlangs haar weergawe van die Valiant Swart treffer, Sonvanger, op haar Facebook-blad gedeel. In haar plasing sê sy dat musiek een van haar gunsteling-maniere is om Afrikaans aan te leer en dat haar poging deur die Afrikaanse musiekster, Refentse, geïnspireer is.

Suid-Afrikaners en Afrikaanssprekendes is gaande oor haar video en haar Facebook-plasing is al 3 500 keer van gehou en 4 100 gedeel. Op YouTube is haar video al byna 3 000 keer gekyk. Aanmoedigings en waarderings vir haar poging stroom ook in. “Dit lyk of daar ’n nuwe ‘Afrikaanse ster’ op pad is. Jou hubbie kan trots wees,” is Duane Cronje se kommentaar. Trüter Smith het Camille gekomplimenteer met “Wow. Daai was regtig goed. Jou ‘R’ is baie goed vir ’n Amerikaner.”

Afrikaans.com wens Camille geluk met haar uitstekende poging om die Afrikaanse taal te bemeester en ons hoop om nog baie van haar te hoor!
Klik hier vir toegang tot haar kanaal.