Herleef Boerneef

18 Julie 2017

Loslit en Lig... so al in Boerneef se kraal

"Bantom hom so en flennie die snare. Ek is verlief op die kind. Die son slaan vuur uit die sweetvoshare, ek is verlief op die kind.” - Izak van der Merwe (ook bekend as Boerneef; 1897–1967) was ’n Suid-Afrikaanse skrywer, digter, leksikograaf en akademikus. Hy word beskou as 'n fyn prosaïs en die beste onder die Afrikaanse skrywers wat "klein-realisme" of "fantasie-realisme" gelewer het. Hierdie skrywers het hulself buite die groter lewensproblematiek gestel, en hul blik gevestig op volkstipes, eenvoudige lui, kleindorpse lewe en die noue lewenskringe daarvan..” – Prof. Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Taalkommissie

Izak van der Merwe (Boerneef).

Hoe wonderlik is die wete dat die prosa en poësie van die skrywer, leksikograaf en digter Izak Wilhelmus van der Merwe 120 jaar na sy geboorte steeds oneindig plesier verskaf. Hy was natuurlik die welbekende volksdigter, Boerneef. Van sy digkuns en verhale is vernuftig aanmekaar gesit in die huldeblykproduksie, Flennie die Snare. In hierdie produksie wat in Julie 2017 by die Innibos Laeveldse Nasionale Kunstefees gedebuteer het, maak ’n gedugte span musikante en sangers Boerneef se werke opnuut lewendig op die verhoog. Dis ’n produksie propvol pret en plesier maar ook musikale uitnemendheid. Alita Steenkamp kon die produksie beleef en het met die kunstenaars oor hierdie besonderse ervaring gesels.

Chris Chameleon, Daniella Deysel, Johny Klein en Anna Davel skitter in Flennie die Snare.

Frans Swart, die teksskrywer en regisseur van hierdie produksie, se liefde vir die werke van Boerneef kom ’n lang pad en hy het besluit om dit weer af te stof vir ’n moderne gehoor en met die hulp van die Innibos-fees het die produksie ’n werklikheid geword.

“Alles het net in plek geval en ek het vier sangers wat elkeen op sy of haar eie manier ’n besonderse bydrae tot die produksie maak: Chris Chameleon bring ’n ongelooflike kreatiwiteit, Anna Davel het nie net ’n fantastiese stemkwaliteit nie maar is ook ’n talentvolle aktrise. Johny Klein is ’n formidabele karakterakteur en Daniella Deysel bring veral Boerneef se speelsheid na vore”, sê Swart.

Die produksie is sjarmant en propvol pret en plesier, ’n ware juweel.

Nie net het Frans hier vier begaafde sangers/akteurs bymekaar nie maar ook die orkes in Flennie die Snare is formidabel en word selfs by tye ingespan as akteurs. Jaconell Mouton, die musikale regisseur van Flennie die Snare, tokkel die klawers, Riaan van Rensburg wys sy slag op die tromme en Mauritz Lotz is die man wat die snare flennie, so in die woorde van Boerneef.

In ’n artikel wat in 2003 in die Tydskrif vir Letterkunde (40:1) verskyn het, gee prof Wium van Zyl ’n interessante kykie op Boerneef en sy volkspoësie. Hy sluit die artikel af met die woorde: “In watter mate hy só nogtans ’n moderne publiek verower het, blyk uit die vele toonsetters en voordragkunstenaars wat in ’n verskeidenheid nuanses steeds weer na sy poësie terugkeer.” Hierdie produksie is ’n praktiese voorbeeld van prof Van Zyl se waarneming.

Dis dan ook kostelik om te sien hoe Boerneef selfs plekname in die volksmond verander het. Hy verwys in van sy gedigte na die mense van Clanwilliam as die Klanwieljammers en die Duitse sendingstasie Wuppertal word Woeperdal in sy alombeminde liefdesgedig, Die berggans het ’n veer laat val.

Van watter een van hierdie kranse rondom die sendingdorpie Wuppertal het Boerneef se berggans sy veer laat val? Foto: Alita Steenkamp.

Chris Chameleon wat in hierdie produksie weer eens sy naam as verkleurmannetjie waardig is, gee ’n besonderse vertolking van Louis van Rensburg se “Voshaarnooi”, hy word een van die ‘Ligstraalsusters en rock en rol behoorlik in sy toonsetting van Boerneef se gedig, Varkleerbaadjie en Klinknaelbroek. Chris sê die grootste uitdaging van hierdie produksie was om binne die beperkte tyd wat die span tot hulle beskikking gehad het, hierdie besondere juweeltjie te skep. “Boerneef het, in ’n tyd toe die gebruik dikwels was om effe aangeplak te skryf ten einde die volk na hoër ideale as die wat in hul alledaagse lewens vergestalting gevind het aan te por, daarin geslaag met ’n ongewonde direktheid die werklikheid van mense se taal en gedrag uit te beeld. So gee hy vir die hedendaagse leser ’n besondere kykie in die werklikheid van die verlede, nie soos die verlede wou wees nie, maar soos die verlede wel was,” sê Chameleon. Van Daniella Deysel en die ander kunstenaars en musikante wat saam met hom op die verhoog was, sê Chris dat hy omring is deur ‘voortreflike uitnemendheid!’

Links: Chris Chameleon ruk en rol behoorlik. Regs: Daniella Deysel is tuis op die verhoog.

Anna Davel, een van Afrikaans.com se ambassadeurs, skitter ook in hierdie produksie. Nie net gee sy ’n besonderse vertolking van Laurika Rauch se “Die kind was lief vir Nalekokers vang” nie, maar sy speel uitstekend toneel. Anna verander op die verhoog in onder meer ’n Hollander, ’n Namakwalandse boervrou en ook ’n plaaswerker. Om dit te doen moes sy baie navorsing doen oor die uitspraak en aksente van die spesifieke Koue Bokkeveld waar Boerneef se plaasstories afspeel. Anna het ook die gedig By Pramberg sielvol getoonset vir die produksie.

Anna vertel hoe sy tydens die repetisies gesukkel het om haar lag te hou vir die ander se manewales op die verhoog. “Ek was gereeld hopeloos aan’t giggel. Voor ’n gehoor het jy egter ’n verantwoordelikheid, veral teenoor jou medespelers, om gefokus te bly en ek het nooit uitgebars van die lag nie. Die adrenalien van die verhoog help beslis ook,” sê Davel.

Plesierigheid op note.

As daar nou iemand is wat behoorlik moes bontstaan om elke keer, in ’n rekordtyd, ’n nuwe karakter te word, is dit die akteur Johny Klein wat ook sommer sy vuurdoop as sanger in die produksie het. Johny het sy vaardighede as akteur geslyp met velerlei kinder- en opvoedkundige teater wat hy by Laer- en Hoërskole gedoen het. Daar het hy geleer om vinnig van karakter en kostuum te verwissel. Johny het hom pas by die groep Afrikaans.com ambassadeurs aangesluit, ’n projek waaroor hy opgewonde is.

“Ek is mal oor Afrikaanse prosa en poësie maar ek het met Flennie die Snare eers agtergekom hoe lekker Boerneef se werk eintlik is. Toe ek die teks sien wat Frans Swart saamgestel het, was ek smoorverlief op Boerneef se werke en ek het toe eers verstaan waar alles vandaan kom. Boerneef se karakters het werklik bestaan en daarom is hulle so lekker en praat hulle so mooi. Van nou af sal ek altyd Boerneef se skat bewaar want dit wys net weer eens hoe mooi ons taal is en hoe verskillend ons praat,” sê Klein.

Boerneef se nimlike gedig waarmee duisende Afrikaanssprekendes al hulle liefde verklaar het.

Al is sy gedig oor die berggans wat ’n veer laat val het een van die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, strek Boerneef se kuns veel veel verder as die hoogste krans by Wuppertal.

Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
my hart staan tuit al meer en meer
ek stuur vir jou die berggansveer
mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê

 

Lees meer

  • Lees die gedig oor die berggans wat ‘n veer laat val het op Maroela Media.
  • Lees meer oor Boerneef hier.
  • In sy vroeëre jare het hy meestal net kortverhale en prosa geskryf en het later (die laaste 10 jaar van sy lewe),begin dig. Lees meer hier.