Internasionale Diabetes-maand – Vickie de Beer deel raad en resepte

14 November 2017

 

Vickie de Beer is ʼn Afrikaanse ambassadeur. Sy is die skrywer van My Low Carb-kombuis. Sy is die afgelope 14 jaar die kosredakteur van die glanstydskrif Rooi Rose, maar sy is ook ’n vryskut-kosstilis en -skrywer. Haar en haar gesin se reis met diabetes het in 2008 begin to hul seun Lucca (toe 8), met tipe 1-diabetes gediagnoseer is. Sy deel hier haar ervarings, raad en ‘n paar liplekkerresepte wat hierdie pad na gesondheid vergemaklik. 14 November is Internasionale dag vir Diabetes.

Het jy geweet?

  • 6% van alle Suid Afrikaners ly aan tipe 2 Diabetes.
  • Daar is ʼn geraamde 5 miljoen Suid Afrikaners wat Pre-Diabetes is.
  • Wêreldwyd is daar na beraming 366 miljoen mense met Diabetes – meeste van hierdie is tipe 2 Diabetes wat deur verkeerde leefstylkeuses veroorsaak word.
  • Navorsing wys dat Tipe 1 Diabetes besig is om jaarliks toe te neem.
  • Die voorkoms van Alzheimer se siekte en Dementia (wat tans Tipe 3 Diabetes genoem word) neem jaarliks toe.

Een oomblik was Lucca op die oog af 'n gesonde seun en 'n halfuur ná ons besoek aan ons huisdokter met wat ons gedink het 'n keelinfeksie was, is hy in die hospitaal opgeneem en met tipe 1-diabetes, 'n potensieel lewensbedreigende siekte, gediagnoseer.

Ons moes onmiddellik leer hoe om die diagnose te hanteer en noodsaaklike leefstylveranderinge maak. Om mee te begin, het dokters en dieetkundiges ons aangeraai om Lucca 'n lae-GI-, volgraandieet te laat volg. Dis presies wat ons gedoen het.

Ons het Lucca se diabetes getrou bestuur, sy bloedsuikervlakke getoets en insulien ingespuit volgens 'n stelsel wat koolhidraattelling genoem word. Ons het ook 'n goeie bloedsuikermeting, die HbA1c, bestuur, wat nog 'n bloedtoets is wat vir tipe 1- en 2-diabete gebruik word. Tog was ons lewens gevul met angs. Dit het gevoel of die diabetes alles wat ons doen, beheer.

Hoewel Lucca se gemiddelde bloedsuikervlak goed was, was dit ook soms onverklaarbaar hoog en laag, wat hom ellendig laat voel het. Hierdie hoë bloedsuikervlakke was nadelig vir sy langtermyngesondheid, en kon later in sy lewe ernstige komplikasies soos kardiovaskulêre siekte en lewerskade veroorsaak.

Die laekoolhidraatdieet

Ten spyte van konstante versorging en aandag, het ek gevoel dat ons Lucca faal. Ek het hierdie knaende gevoel gehad dat ons meer moet doen. Toe ontmoet ek professor Tim Noakes, ek lees sy boek, Die Kosrevolusie, en bestudeer 'n boek met die titel Dr. Bernstein’s Diabetes Solution: The Complete Guide to Achieving Normal Blood Sugars. Dr. Richard Bernstein, wat as twaalfjarige met tipe 1-diabetes gediagnoseer is, is 'n Amerikaanse dokter wat al dekades lank 'n laekoolhidraatdieet vir diabete voorstaan. Hy is nou 81 jaar oud.

Alles wat ek gelees het, was sinvol en al die lede van ons gesin – daar is vyf van ons – het besluit om ons eetgewoontes te verander en kos wat min koolhidrate bevat, te begin eet. Ons het dus almal opgehou om alle stysels en suikers, alle verwerkte en verfynde graan en graanprodukte, en alle verwerkte en klaargemaakte kosse, te eet.

Nadat ons 'n maand lank hierdie dieet gevolg het, het ons verstommende verskille in Lucca se bloedsuikervlakke gesien. Sy gemiddelde bloedsuikervlak was laer en meer stabiel. Hy het beter geslaap en was meer gefokus. Die res van die gesin het ook welkome veranderinge ervaar. Ons energievlakke was hoër en ons het beter geslaap. Sooibrand en spysverteringsprobleme het ook afgeneem.

Beter gesondheid

Ons hele gesin se gesondheid het stadigaan verbeter. Na twee maande het ons almal skraler begin lyk en Lucca se liggaam was heeltemal aangepas by hierdie manier van eet. Buiten dat sy bloedsuiker gestabiliseer het, het hy ook 'n persoonlikheidsverandering ondergaan. Lucca was nooit 'n depressiewe of negatiewe kind nie, maar nou het hy geborrel van lewenslus. Hy het poetse gebak en die heeltyd gebabbel en gelag. Kon dit dieselfde kind wees? Kon dit wees dat hierdie nuwe dieet Lucca se lewe verander het? Ja, dit het!

Iemand het my onlangs gevra of ons weer “normaal” sou eet indien daar 'n kuur vir diabetes gevind word. Ek het toe besef dat hierdie eetwyse nou vir ons “normaal” is. Ons ervaar almal die voordele en sal nooit weer terugkeer na ons ou manier van eet nie. Lucca se diabetes het ons dalk gemotiveer, maar elke lid van die gesin het die voordele van egte kos wat min koolhidrate bevat, ontdek. Jy kan ook!

Tipe 1 en Tipe 2 Diabete vind baat by ʼn laekoolhidraatdieet!

Ons het die volgende ervaar:

  • stabieler bloedsuikervlakke vir Lucca
  • beter slaap
  • beter energievlakke
  • verbetering in gemoedstemming – 'n meer positiewe uitkyk op die lewe
  • minder inflammasie in gewrigte en ledemate
  • beter spysvertering
  • geen sooibrand nie
  • minder hoofpyn en skeelhoofpyne
  • gesonder vel
  • beter konsentrasie en skerpheid

 

Carbonara-murgpampoentjielinte

Dit is ons nuwe gunsteling-aandete, en is perfek as ek die aand nie genoeg tyd het om kos te maak nie.

Genoeg vir 4

  • 500 g groot murgpampoentjies, in repies gesny
  • 30 g/30 ml (2 E.) botter
  • 250 g strepiespek, in blokkies gesny
  • 250 ml (1 koppie) room
  • 2 eiers
  • 50 g/125 ml (1/2 koppie) gerasperde parmesaankaas
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 'n hand vol gekapte pietersielie
  1. Maak 'n groot kastrol vol water, voeg sout by en verhit tot kookpunt. Kook die murgpampoentjierepies vir 30 sekondes in die kookwater. Dreineer en hou eenkant.
  2. Verhit die botter in 'n groot braaipan oor matige tot hoë hitte. Voeg die spek by en braai tot bros. Skep dit uit die pan en hou eenkant (hou die vet van die spek in die pan).
  3. Meng die room, eiers en parmesaankaas in 'n bak of maatbeker. Geur met sout en peper. Voeg dit by die braaipan en roer oor lae hitte tot die sous begin verdik. Meng die murgpampoentjies liggies deur die sous en krummel die spek oor. Strooi gekapte pietersielie oor en sit voor.

per 100 g: energie: 224 kkal. • proteïen: 6 g • vet: 21 g • koolhidrate: 3 g • allergene: suiwel, eier.  

 

 

Keiserslaai (ons weergawe)

Ek sit meestal op 'n Sondagaand 'n hoender in die oond: dit neem 2 minute om olyfolie daaroor te sprinkel en dit in die oond te sit, en dan rooster dit op sy eie vir sowat 'n uur en 20 minute terwyl ek 'n paar ander takies afhandel. Dié slaai is maar een van die maaltye wat ons daarmee maak.

Genoeg vir 4

Vir die slaaisous

  • 125 g/125 ml (½ koppie) crème fraîche
  • 3 knoffelhuisies, baie fyn gekap
  • 6 gedreineerde ansjovisfilette, fyngekap
  • 18 g/15 ml (1 E.) Dijon-mosterd
  • sap van 1 suurlemoen
  • 5 ml (1 t.) heuning (dit is regtig onskadelik in so 'n klein hoeveelheid)
  • 30 g/60 ml (1/4 koppie) gerasperde parmesaankaas
  • 125 ml (½ koppie) olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Vir die slaai

  • 1 heel, geroosterde hoender, gepluis
  • 250 g cos- of gem-blaarslaai, gewas
  • 2 avokado’s, in skywe gesny of fyngedruk
  • 50 g/60 ml (1/4 koppie) parmesaankaasskaafsels
  • 'n paar repies brosgebraaide spek (opsioneel)
  1. Vir die slaaisous: As jy dit met die hand maak, klits die crème fraîche, knoffel, ansjovis, mosterd, suurlemoensap, heuning en parmesaankaas in 'n bak tot glad. Klits geleidelik die olyfolie by tot dit loperig is. As jy dit in 'n voedselverwerker maak, meng net al die bestanddele behalwe die olie en verwerk tot glad. Giet die olyfolie in 'n dun straaltjie in die bak terwyl die masjien loop. Verwerk tot gemeng. Geur liggies met sout en varsgemaalde swartpeper.
  2. Meng die gepluiste hoender, blaarslaai en avokado op 'n opdienbord. Voeg die parmesaan-skaafsels by en sprinkel die romerige slaai-sous oor.

per 100 g: energie: 308 kkal. • proteïen: 18g • vet: 25 g koolhidrate: 4 g • allergene: suiwel, vis

 

Lees ook ...

Health 24 gee 12 belangrike feite oor diabetes.
Diabetes neem toe in Suid-Afrika – Solidariteit Welstand.
Wêreldfokus op diabetes – Rooi Rose.
Die Diabetes Vereniging van Suid-Afrika.