Lekkerlees Boekrak word 10!

06 Julie 2017

Drie boeke, drie radiodramas en ʼn virtuele leeskring met 7 500 lede wat Afrikaanse boeke bevorder, wil gedoen wees. Dis presies waarmee Marion Erskine, skrywer en stigter van die Lekkerlees Boekrak op Facebook, kan spog. Ilse Salzwedel gesels met hom oor boekedrome wat waar word.

Marion Erskine, skrywer van Vlerke vir Almal.  

Marion Erskine: boekdrome kan waar word

 “Ek was vandat ek kan onthou, lief vir boeke,” vertel Marion Erskine per e-pos uit Doebai, waar hy woon en werk. Boeke was van kleins af vir hom ontvlugting van die lewe in ʼn Gautengse myngemeenskap. “Ek het ʼn ryk verbeelding, en boeke het my geneem na plekke waar ek gevoel het ek pas in. Deur boeke het ek geleer dat daar ander lande is, waar in die wêreld watter dinosourusse voorgekom het en waarom Chinese met stokkies eet en nie vurke nie.”

Marion vergelyk die bekoring van boeke met dit wat die hoofkarakter in die boek – en later film – Neverending Story ervaar het. “Vir my word die karakters ook eg, en die plekke regte plekke. Ek dink dis hoekom ek so lief is vir reis.” Hy was 21 toe hy vir die eerste keer op ‘n vliegtuig geklim het, en twee dekades later is daar al stempels vir 74 lande in sy paspoort.

“Boeke is ook ‘n manier hoe ‘n skrywer vir altyd kan voortleef. ‘n Skilder laat prente agter, maar skrywers laat stukkies van hulself agter.”

Hy is nie net ʼn boekwurm nie, maar het ook al drie boeke op sy kerfstok. Marion het sy skryfdebuut gemaak met Oos, ʼn roman vir jong volwassenes. Dit speel af in die Verre Ooste, en die idee daarvoor het ontstaan toe hy in Taiwan Engels-klasse gaan gee het en elke week of twee ʼn e-pos oor sy belewenisse vir almal tuis gestuur het. “Sommer oor dinge soos die kosse wat ons eet, en hoe vreemd dit was dat die asbliklorries daar dieselfde liedjies speel as die roomyskarretjie in Suid-Afrika.” Een van Marion se universiteitsdosente, prof. Betsie van der Westhuizen, het hom aangemoedig om ʼn roman te skryf oor sy ervarings. “Oos gaan oor ʼn Suid-Afrikaner wat oorsee gaan om van sy verlede te ontsnap, maar dan besef dat sy gedagtes saamgekom het en dat hy sy lewe sal moet uitsorteer.” Die roman was een van die finaliste in NB Uitgewers se “Ek is ‘n skrywer”-kompetisie in 2007. Met sy tweede boek, Donatello en Volksie, het Marion sy hand – met groot sukses – aan “chick lit” gewaag.

Marion saam met van sy jong bewonderaars.

By die onlangse bekendstelling van Marion se boek: Vlerke vir almal saam met Christelle Webb-Joubert van RSG by Graffiti in Pretoria.

Vlerke vir almal, sy jeugroman wat hy onlangs in Suid-Afrika kom bekendstel het, handel onder meer oor groepsdruk en kuberboelies en het tieners aan die gons. “Ek het ʼn paar jaar gelede ʼn video gesien van ʼn vyftienjarige Kanadese-tiener, Amanda Todd, waarin sy vertel hoe sy op skool en aanlyn geboelie is. Nadat sy die video op die internet gelaai het, het sy selfmoord gepleeg, en dit het wêreldwyd opslae gemaak.” Dit het hom geweldig ontstel, en die idee vir ʼn jeugroman is gebore. “Maar ek het eers werklik met my navorsing besef hoe baie tieners daar is wat daagliks deurloop onder boelies. Waarom word daar nie meer hieraan gedoen nie?” Vlerke vir Almal gaan oor Dewald, ‘n 17-jarige tiener wat probeer sin maak van sy beste vriendin se groot, skokkende besluit. “Tieners, ouers en onderwysers moet dit beslis lees om die evolusie van boelies en hul dade te verstaan.”

Hy hou van uitdagings, en het ook al sy hand gewaag aan drie radiodramas vir RSG. Sy mees onlangse drama, die sielkundige riller Siembamba, is vanjaar benoem vir ‘n ATKVeertjie in die kategorie beste teks vir ʼn radiodrama.

Tyd vir skryf en reis?

Marion, ʼn gekwalifiseerde onderwyser, werk tans oorsee in die opleidingsafdeling van ‘n bekende internasionale lugredery. Waar kry hy tyd vir skryf tussen werk en reis deur? “Baie skrywers sal jou vertel hulle het ‘n roetine, en skryf byvoorbeeld elke dag tussen 04:00 en 06:00 voordat hulle gaan werk. Ongelukkig werk dit nie vir my nie. Soms gebeur daar eenvoudig niks. Die storie wil nie vloei nie, of ek is nie in die regte bui nie. Maar wanneer die storiekrane oopgedraai is, tik ek teen die spoed van lig en vang wat ek kan vang. Soms spring ek 01:00 in die oggend op, skryf vir drie ure en maak dan reg vir werk.”

Sal hy ooit voltyds skryf? “Ek dink nie so nie. Dit gaan nie net oor die min geld wat skrywers verdien nie, maar ek hou daarvan om ander dinge ook te hê wat my aandag aftrek en my besig hou.”

Lekkerlees Boekrak het ‘n storie ...

Marion is ook die stigter van die Lekkerlees Boekrak op Facebook. Hierdie virtuele leeskring vier vandeesweek – op 7 Julie om presies te wees – sy tiende verjaarsdag. Marion is met reg trots daarop dat hy 7 500 boekliefhebbers van regoor die wêreld daar kon verenig om oor landsgrense heen oor Afrikaanse boeke te kan gesels. “Terwyl ek in Taiwan was, het dit gevoel asof ek my erfenis begin verloor. Ek het begin voel ek verloor tred met wat in Afrikaans aan die gebeur is. Soms wanneer ek huis toe is, het ek drie Afrikaanse boeke op ‘n rak by die lughawe gegryp, en ek was nie altyd beïndruk met die stories nie.” Die idee met die Lekkerlees Boekrak was om Afrikaanse boeke te identifiseer wat wye byval sal vind. “Ek het ‘n besige lewe gehad en het nie tyd gehad om te sukkel met boeke nie. Mense het by die groep begin aansluit, en dit was asof ek my verlore familie ontdek het. Mense wat – soos ek – winkel toe sal gaan vir melk en eiers en met drie nuwe boeke by die huis sal aankom,” skerts hy.

Dit staan enigeen van die Rakkers, soos lede genoem word, vry om te kom vertel watter boeke hulle geniet het. “So ontdek ons almal nuwe skrywers en genres. Dit verbreed ons horisonne, en ek het al die wonderlikste boeke ontdek danksy ander se aanbevelings.”
Daar is een besliste reël op die Lekkerlees Boekrak: jy moet vriendelik wees. “Lede is welkom om te sê as hulle nie van ʼn boek hou nie, maar ons kraak geen skrywer of boek af nie.” Die Rak bied aan Afrikaanse uitgewers die ideale forum vir marknavorsing, en Rakkers het ook help kies aan die wenboek tydens LAPA se Lekkerlit-kompetisie. Die groep was ook instrumenteel daarin om die pryse van Afrikaanse e-boeke te verlaag. “Op ʼn stadium was die meeste Afrikaanse e-boeke amper R50 duurder as die gedrukte weergawe. Ons het ‘n digitale protesaksie begin, en joernaliste het betrokke geraak. Binne ‘n maand is e-boekpryse verlaag.”

Dis vir hom baie lekker dat talle Afrikaanse skrywers ook lede is van die Lekkerlees-rak. “Ek wou ʼn forum skep waar hulle direk met hul lesers kon kommunikeer. Lesers waardeer dit ongelooflik dat hulle as’t ware virtuele koffiekuiers kan hê saam met hul gunstelingskrywers. Skrywers het vir ons op die Rak mense geword, en het bewys hulle is nie verhewe bo ander mense soos wat dikwels in ander lande die geval is nie.”

Wat is vir hom die lekkerste uitvloeisel van sy virtuele leeskring? “Meeste van die Rakkers sal vir jou vertel dat hulle omtrent net Engels gelees het voordat hulle by die Rak aangesluit het. Nou lees hulle twee Afrikaanse boeke vir elke Engelse boek wat hulle optel – of meer! Dit is vir my die beste gevoel op aarde om te dink dat ek iewers oorsee sit en amper nooit Afrikaans praat by die werk nie, maar dat ek daar uit die vreemde vir my taal iets kan doen.”

 

Lees meer ...