Lundi se lekker liedjiekeuse

10 Januarie 2017

Lundi Khoisan, een van Afrikaans.com se ambassadeurs, is iemand wat heel tuis voel in haar eie vel en nie skroom om vir haarself te lag nie. Hierdie talentvolle platejoggie, radio-omroeper en deesdae ook televisiepersoonlikheid, se besonderse liefde vir Afrikaanse musiek kom al ’n lang pad. Lundi is deesdae deel van die span wat #chatNOU! op kykNETNOU! (kanaal 146) aanbied. Op ’n Donderdag deel Lundi haar indrukke van die jongste rolprente. Bedags is sy bedrywig by ’n multimediamaatskappy waar sy veral radioadvertensies verkoop, en meer van die vermaaklikheidsbedryf leer.

Op Lundi se lysie gunstelingmusiek, is die volgende te vind:

Karen Zoid – Deurmekaar

Hierdie liedjie gaan oor verlore liefde en laat my terugdink aan die goeie en slegte besluite wat ek oor die jare geneem het. Karen Zoid het ’n groot impak op my lewe gehad, aangesien ek dikwels snaaks aangekyk is oor my “rock-chick” uitkyk. Karen Zoid het dit genormaliseer en my gemakliker in my eie vel gemaak.

 

 

Die Heuwels Fantasties – Oorlewing 101

Hierdie liedjie het ek en my woonstelmaat op Stellenbosch omtrent daagliks gesing, omdat dit so relevant was tot ons lewensomstandighede. Die lirieke herinner my dus aan die goeie en swaarkrytye, maar ook aan hoe ver ons al in die lewe gekom het sedert toe:

“Middelmatigheid
Ons voorland en ons vrees…
Ons veg om oorlewing
Ons bewys ons bestaan
In 'n tweeslaapkamerwoonstel
Waar jy sukkel om te slaap
Ons kaste is leeg en
Ons traankliere soveel leër…”

 

 

Foto na Dans - Konings

’n Liefdesliedjie wat presies beskryf hoe ek voel oor verhoudings, op ‘n baie poëtiese wyse:

“Kom ons vind geloof in mekaar…
Verwyder jou verlede…
Vandag
Is dit ek en jy
Sonder skuiling in die winterreën”

 

>

 

Koos Kombuis – Johnny is nie dood nie

Ek het op hoërskool verlief geraak op rock-musiek en hierdie was een van die liedjies wat die bands in die “battle of the bands” gecover het. Dit bring goeie herinneringe terug aan tienerpartytjies in die skool se ondergrondse saal.

 

 

Valiant Swart – Eyeshadow

‘n Ligte liedjie, wat my altyd in ‘n goeie bui plaas en my laat terugdink aan kleindorpse kuiers in die skoolsaal. Dit stel Valiant se vermoë om stories te vertel en karakters te skep, ten toon. Ek is ’n groot aanhanger van Valiant Swart, aangesien ons in dieselfde dorp, Wellington in die Boland, grootgeword het.

Wonderboom se weergawe van Eyeshadow

 

 

Fokofpolisiekar – Tiny Town

Hierdie is my gunstelingliedjie van Fokofpolisiekar; ek is ’n groot aanhanger van hierdie musiekgroep. Dis moontlik hul rustigste liedjie, maar spreek presies tot die denke en dinge waarmee ek al vir jare worstel. Dit spreek ook tot die hart - die lirieke “soetslaap sonder sonde” laat my voel asof als okay sal wees.

 

 

Johannes Kerkorrel – Halala Afrika

Ek is bekendgestel aan die musiek van Kerkorrel deur hierdie liedjie wat ons as skoolkoor gesing het. Sy stigting van die “rebelse” Voëlvry-beweging sou egter ’n baie belangrike invloed op my lewe hê en ek is tot vandag toe ’n voorstander van die bevryding van Afrikaanse musiek en die rol wat hierdie musiek speel in ons siening van die sosiaal-politieke toestande in ons land.