Simon Witbooi het nuwe skoene om vol te staan

14 November 2017

deur Alita Steenkamp

Hy word soms ʼn straatpredikant genoem, is een van ons land se bekendste én hardwerkendste Afrikaanse hip-hopkunstenaars en sy boek, God praat Afrikaans, wat vroeër vanjaar verskyn het, verander deurgaans die lewe van die mense wat dit optel om te lees. Simon Witbooi is ook een van Pasella se aanbieders, hy werk nou saam met die ATKV en hulle projekte soos Crescendo, maar bo alles staan Simon se liefde vir Afrikaans hemelhoog oorkoepelend oor alles uit. Hierdie Afrikaanse ambassadeur is pas aangestel as die kanaalhoof van die splinternuwe televisiekanaal, OnseTV, kanaal 462 op StarSat, ʼn toonaangewende satellietdiensverskaffer.

OnseTV saai vanaf 29 September 2017 uit en is gerig op die bruin gemeenskap. Die missie van die kanaal is om hierdie gemeenskap te bevorder ten opsigte van kuns, kultuur, geskiedenis, erfenis asook sosiale aspekte, iets wat vir Simon ook van groot belang is. Onse TV gaan hom ook daarop toespits om die diversiteit binne die bruin gemeenskap tot volle reg te laat kom.

Simon, wat die pos vanaf 6 November 2017 beklee, sê hy beskou dit as ʼn enorme taak omdat bruinmense nie veel mediablootstelling gekry het oor die laaste paar dekades nie, veral nie in Afrikaans nie. “Hierdie skoene wat my nou gegee is om aan te trek, is nie noodwendig my ‘size’ nie, maar ek sal of daarin moet groei, of dit moet inbreek.

“Ek het waardering vir hoe kundiges in Afrikaans hulle Afrikaans besig. Mense soos Riaan Cruywagen en Coenie de Villiers, maar ek waardeer ook die oom in Namakwaland en die antie in PE se Afrikaans. Tog word hulle stories nie so ten toongestel nie, juis omdat dit anders is en anders klink. Hierdie nuwe kanaal is ʼn nederige probeerslag om net die ewewig reg te stel en ook sulke mense se stories te laat hoor. Dit hoef nie die miljoene kykers te bereik wat die ander groot name bereik nie, maar dit moet ook gehoor word en OnseTV wil dus sê: “Luister! Hier is nog ander wonderlike stemme in Afrikaans,” sê Simon.

Simon gee egter die versekering dat hierdie werk nie sal inmeng met sy verhoogloopbaan nie en al die ander kanale en organisasies met wie hy so gereeld saamwerk, het reeds aangedui dat hulle hom ook in hierdie taak ondersteun. Hy sien OnseTV as ʼn bietjie groter mark om ander mense te bereik wat hy nie noodwendig met sy musiek en ander optredes kan doen nie. Hy wil ook graag kunstenaars en rolmodelle met wie hy al jare lank saamwerk en na wie hy opkyk, op hierdie platform ten toon stel.

Onse TV se nuwe kanaalhoof sien baie uit na dit wat voorlê: “Ons moet wys dat bruin mense “marketable” is, kunstig is, professioneel is en dat ons al hierdie wonderlike terme kan volstaan wat die kommersiële wiele in die wêreld aan die draai hou. Die’s my “attempt”. Ek beskou dit as ʼn eer dat hierdie beker my pad langs gekom het. Kom ons drink saam. Harde werk lê voor.”

SKAKELS:
Webwerf: www.onsetv.co.za
Facebook: https://www.facebook.com/onsetv/
Twitter: @Onse_Televisie