Afrikaans vier 92 jaar as amptelike landstaal

09 Mei 2017

“Die groei van Afrikaans as volle funksionele taal is een van die merkwaardigste kulturele verskynsels van Suid-Afrika."

Prof. Hermann Giliomee, historikus en skrywer.

In mensjare is 92 jaar dalk oud, maar as amptelike landstaal is 92 nog bloedjonk. 8 Mei 1925 was die dag waarop die parlement van die eertydse Unie van Suid-Afrika Afrikaans as amptelike landstaal erken het. En vandag, 92 jaar later, is Afrikaans steeds een van die 11 amptelike landstale van Suid-Afrika.

Afrikaans is amptelik as landstaal erken 50 jaar na die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), maar daar was ’n lang verloop. Van spreek- tot standaardtaal tot amptelike landstaal het hierdie eens “armsalige kombuistaaltjie” haar kop opgelig en met die ywer van ’n handjievol doelgerigte en begeesterde mense in ’n skryf- en kultuurtaal ontwikkel wat vandag beskryf kan word as ’n hartstaal waarin meesterlike prosa, poësie en teater verskyn. Vandag is Afrikaans ’n kansel-, universiteits- en ekonomiese taal wat kan kers vashou by enige ander taal in die wêreld.

Die ontwikkeling van Afrikaans word as een van die drie taalwonderwerke in die wêreld beskryf en die stene waarmee Afrikaans gebou is, is reeds vanaf 1595 gelê. Kom saam op reis deur ’n taal en haar mense en leer meer oor wat in Afrikaans gebeur.

Afrikaans word "wyd en syd" gepraat. Vreemdeling-Nederlands, veranderde omstandighede weens meedingende koloniale magte in ´n unieke Afrika-konteks, verleen uiteindelik aan Afrikaans sy eiesoortige karakter met Germaanse grammatika en letterkunde wat die aardse warmte van Afrika en Asië in 'n kleurspel van woorde uitdruk.

Afrikaans is ’n familie van dialekte. Die Afrikaanse spreektaal lyk anders as Standaardafrikaans (ons ken dit as die Afrikaanse skryftaal). Afrikaanse flaaitaal, Kaapse Afrikaans en Noordwestelike Afrikaans lyk byvoorbeeld anders. Soos ons Afrikaans se voetspoor volg moet ons sover moontlik rekening hou met die tekens van al die verskillende dialekte/variante en die oorsprong.

Die oorsprong
Die verskillende vorme van die Afrikaanse omgangstaal is baie ouer as Standaardafrikaans. Tot ná die helfte van die negentiende eeu was Afrikaans net ’n spreektaal, toe eers is daar begin om Afrikaans op verskillende plekke en maniere en met verskillende oogmerke in gedagte, te skryf.
“Die oud volk altyd zoo makum en daarom ons ook zoo makum.” Met hierdie sinnetjie regverdig ’n segsman van die Khoi-Khoin in 1727 die behoud van hulle ou gebruike teenoor die reisiger Kolbe. Meer as ’n eeu voordat Kolbe hierdie sin neergeskryf het, het die Kaapse Khoi-Khoin begin om ’n nuwe kontaktaal te praat. Die taal het ontstaan uit die situasie wat ontwikkel het toe die Khoi-Khoin en die skeepslui van Nederlandse skepe, wat sedert 1595 die Kaap begin aandoen het, mekaar beter probeer verstaan het sodat hulle ruilhandel beter kon vlot.

Die Afrikaanse taalgeskiedenis begin dus na regte eerder in 1595 as in 1652. Hierdie aanleerderstaal van die Khoi-sprekers toon ’n verskeidenheid ooreenkomste met latere Afrikaans en word daarom as Khoi-Afrikaans beskou. Kennis van Khoi-Afrikaans uit hierdie tydperk word betrek in die gesprek oor die vorming van Afrikaans. Die Afrikaans van die Khoi kon nie uit Nederlands na Afrikaans verander het nie. Die Khoi het nooit Nederlands gepraat nie!

Daar is 54 gevalle van Khoi-Afrikaans voor 1652 opgeteken wat deur prof. Christo van Rensburg behandel word met die bespreking van data wat tussen 1595 en 1652 gedokumenteer is. Lees gerus sy navorsingsartikel oor die vroegste Khoi-Afrikaans in die Junie-uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 56 No. 2. Laai die PDF hier af en lees die interessante geskiedenis. 

Afrikaans vandag

Op die Taalmonument en -museum se Facebook-blad word daar lekker gesels oor nuwe woorde – die waarvan hulle die meeste hou en die wat minder gewild is. So is oerknal vir “Big Bang”, galopsop vir “doping” en piemp vir “verraai” van die gunstelinge, terwyl potgooi vir “podcast” en gons vir “buzz” taamlik laag op die gewildheidsleer staan.

In 2016 lewer Coenie de Villiers ’n toespraak by die Universiteit van die Vrystaat en herinner hy ons net weer daaraan hoe ’n wonderlike taal Afrikaans is. Hy noem woorde soos: flaterwater (TipEx), Boeing-babelaas (jetlag), kombikraal (taxi-staanplek) en kuberwolk (daardie cloud waar ons data stoor) en vra uiteindelik hoe ons moet voel oor onsself en oor Afrikaans: “As dit ’n resep was, sou ek voorstel ons roer een skeut bekommernis by, twee groot lepels optimisme, ’n stewige porsie mededeelsaamheid, ’n knypie akademiese kennis en ons sit dit voor in ’n fliek, ’n advertensie, ’n lied, ’n boek, ’n grap en hier en daar ’n verhandeling.” Aldus Coenie de Villiers.

Reis saam op die spoor van Afrikaans en geniet Afrikaans.com se interessante interaktiewe tydlyn oor die oorsprong van Afrikaans. Klik hier.  

Afrikaans is die enigste taal ter wêreld wat kan spog met ´n monument tot sy eer. Klik hier en verken die monument van alle kante.