SBA en Kunstekaap se Vrouedag in vrouestemme toegedraai

10 Augustus 2017

Dit is nasionale Vrouedag en die teater by Kunstekaap bars uit haar nate – ‘n betowerende ervaring

- Tessa Louw vertel ...

Marlene le Roux, hoof uitvoerende beampte van Kunstekaap, die sangeres Karin Kortje en Niel le Roux, hoof uitvoerende beampte van die Stigting vir die Bemagtiging van Afrikaans (SBA) by Afrikaans sing in vrouestemme wat op Vrouedag by Kunstekaap aangebied is.

Vrouedag in vrouestemme toegedraai

“Maar magtig, waarom kies hulle so dan ‘n klein saal,” hoor ek iemand agter my mor terwyl ons ons pad oopstoei om by die teaterdeure in te kom. Daar is nie ‘n oop sitplek in sig nie. ‘n See van vriendelike gesigte sit bankvas en skuur elmboë. Dis présies hoe dit moet wees. Trappies kan ook sitvlakke vir ‘n uur of twee huisves.

””
””

Marlene le Roux, hoof uitvoerende beampte van Kunstekaap, is op die verhoog om almal te verwelkom. Sy is energiek en positief.

 “Ons is vandag hier byeen vir al die vroue van ons land; die vroue van Nyanga, van Gugulethu, Manenberg, Langa, Khayelitsha, Wellington, Riebeek-Wes; die vroue van Elsiesrivier. Maak julle kinders reg groot. Moenie wag vir die regering nie. Onthou, wat julle praat in julle huise is belangrik.”

“Kore is engelstemme wat hoop, inspirasie en vrede bring.” Anroux Marais.

Anroux Marais, Minister van Sport en Kultuur, Wes-Kaap, sluit by Marlene aan. Marlene stel haar voor as “die mense se minister”.

“Ons moet saamstaan en mekaar koester met ons kultuur. Ons respekteer mans wat vroue respekteer. Ons moet vir ons seuns leer om vroue te respekteer.”

Met Afrikaans Sing in Vrouestemme word daar fees gevier in al die verskillende gedaantes van ons taal. Hierdie unieke geleentheid word moontlik gemaak deur borgskap van die Dagbreek Trust in samewerking met Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en Kunstekaap.

Kô laat ons sing

Bloemhof Accelerando Dogterskoor onder leiding van Maryke Roos skop die program op ‘n hoë noot af. Ek is in vervoering toe hulle ook die klank van paddas, krieke, ‘n uil, reëndruppels en donderweer naboots.   

””
””
””
””

Niks staan in haar pad nie.

Die 17-jarige Robyn Waters van die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester is sedert haar geboorte blind. Robyn is vreesloos en dis baie duidelik dat sy lief is vir sing. Haar stem het ‘n engel-timbre. Eers sing sy “Soos ou vriende” van Annelie van Rooyen en daarna volg sy dit op met ‘n emotiewe vertolking van “Don’t cry for me Argentina”.

As jy wil weet hoe Robyn klink, volg hierdie skakel: https://youtu.be/jqXMRZwsF6w

Vreugde en passie

Matjiesrivier Plaaskoor bestaan uit slegs twaalf koorlede, maar hulle sing met die hart van ‘n honderd. Veral hulle tweede lied, “Om ‘n man te kry” word dawerend toegejuig. 

””
””

Stemme wat betower

In stemme soos satyn strik die Transnet Dameskoor die gehoor vas met “Kom na my toe” en “Come again”. Hulle is baie jonk, maar hierdie dames kan reeds die beste klanke uit hulle instrumente haal.

””
””

“Multitaligheid is baie belangrik.” SBA

Soos die meeste kore wat optree, sluit Kuilsrivier Gemeenskap Dameskoor se repertoire ook ‘n Engelse liedjie in, nl. “The Rose” van Bette Midler. Hulle vertolking van “The Rose” is sielvol en aangrypend. Ook Juanita du Plessis se “ Ons Koning kom” word diep uit die hart gehaal.

Ons eie superster

Karin Kortje het geen bekendstelling nodig nie, sy is ‘n ster ... ’n superster. Die eerste note van “Ek kan rock in my taal” van Amanda Strydom vul die teater en jy weet dadelik: Karin kán rock in ons taal. Haar stem is warm karamel. Die gehoor is in die palm van haar hand. Ons voete jeuk, ons wil saam dans in ons taal. Wanneer sy “So Ready” begin sing, bedaar die gehoor ‘n bietjie. Om te sing soos Karin kan sing, moet daar engelbloed deur die are vloei.

””
””

Klik hier as jy wil hoor hoe Karin “Natural Woman” sing.

Stemme vanuit die Paarl

Die Frank Pietersen Dameskoor is ‘n jong koor, maar ‘n mens sou dit nooit sê nie. Hulle sing “Blou” van André Swiegers en ek betrap my dat ek in deskant saamsing. Ek dink nie ek is die enigste een nie. Hulle tweede lied, “You are the new day” val ewe mooi op die oor.


 

Drie minus een

Van die Three Smith Sisters kon net twee optree, maar hierdie twee dames sing met soveel drif dat hulle opmaak vir die suster wat afwesig is. “’n Vrou het genoeg outoriteit om vir die berg te sê, werp jouself in die see,” verklaar hulle voordat hulle wegval met “ Speak to the mountain”. Dis die eerste keer wat ek hulle hoor, maar as ek so om my kyk, sien ek hierdie twee enigmatiese dames is ou bekendes en seer geliefdes. Met “Niemand kan weerlê” pluk hulle die hartsnare flenters.

 

Hartstaal oor grense

‘n Sangfees bestaande uit Afrikaanse koorsang, gemeng met ander inheemse Suid-Afrikaanse tale, dialekte van diverse afkoms, klank, gebiede, sanggenre en agtergrond,”

só beskryf Nelmari Kemp hieride sangfees en so was dit ook.

Die VGK Vrouekoor, Ring Wynberg tree saam met Karin Kortje op wanneer hulle die “Aandgesang” sing. Die verrigtinge word met ‘n crescendo afgesluit.  

””
””

Die laaste noot

‘n Vrouedag in vrouestemme toegedraai in die skoonheid wat samehorigheid skenk; twee salige ure sonder ‘n enkele bekommernis. Die dag kon nie op meer gepaste wyse gevier word nie. Die ontspanne gesigte om my spieël my gedagtes vir my terug. Ons vroue kan baie dinge doen en sing is beslis ook een daarvan. En ja, vandag het ons mekaar se vreugde ingevul.