Die Burger 100: Sy mense en hul stories

13 Maart 2017

“En onder dít lê daar hierdie wonderlike, kleurryke mengsel van joernaliste wat eintlik baie swak opgeteken is. En dit was vir my half die teken om te sê: Skuif die ding ’n kerf af; moenie ’n geskiedenisboek probeer skryf nie; moenie streef om volledig te wees nie en moenie ontledend wees nie. Die wekroep was: Hoe naby kon ons kom aan mense wat sekere goed, groot en klein, persoonlik beleef het.” – Bun Booyens

Een van die hoogtepunte op die US Woordfees 2017 se skrywersprogram, was die bespreking van die Burger 100: Sy mense en hul stories deur Bun Booyens en Aldi Schoeman. Die boek word uitgegee deur Jonathan Ball Uitgewers en is op 3 Maart 2017 in die ATKV-Boektent in Stellenbosch bekendgestel.

Die Burger se vorige redakteur, Bun Booyens, en voormalige nuusredakteur, Aldi Schoeman, wat die boek saamgestel het, het die gesprek gelei en die radioaanbieder Martelize Brink het met hulle oor die boek gesels.

Skandes en skandale, natuurrampe, persoonlikhede in die nuus, belangrike sportmomente – die boek is nie net ’n belangrike optekening nie, maar het ook groot nostalgiewaarde. Die “onthou jy nog?”-faktor word versterk deur hope foto’s én spotprente. Enkele hoogtepunte:

  • Lindie Koorts skryf oor DF Malan, eerste redakteur
  • Dana Snyman ondersoek die oorsprong van DJ Opperman se bekende gedig, Klara Majola – ’n Burger-berig in 1950
  • Johann Maarman deel sy indrukke van Jakes Gerwel
  • Leopold Scholtz beskryf die val van die Berlynse Muur
  • Francois Verster vertel van Die Burger se spotprent-tekenaars – DC Boonzaaier, TO Honiball en Fred Mouton
  • Bun Booyens was in Kazakstan vir Mark Shuttleworth se reis as eerste ruimtetoeris in 2002

Bun Booyens was redakteur van Die Burger van 2010 tot 2016. Hy was onder meer die stigtersredakteur van die reistydskrif Weg! en ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch se joernalistiekdepartement.

Aldi Schoeman het haar loopbaan in 2007 by Beeld begin en daarná vir sewe jaar by Die Burger gewerk, waar sy onder meer nuusredakteur was. Sy is tans ’n joernalis by Rapport.

Booyens het uitgewys dat die room van Suid-Afrika se huidige redakteurs hul penne by Die Burger geslyp het. Hulle sluit in Huisgenoot se Henriëtte Loubser, Sarie se Michélle van Breda, Wicus Pretorius van Tuis, Waldimar Pelser van Rapport, Weg se Pierre Steyn, Jaco Kirsten van Wegry en Barnie Louw, voormalige redakteur van Weg. Hulle het almal die geleentheid bygewoon.

Die Burger en Naspers, is in 1914 in die Heemstede-koshuis op Stellenbosch gestig “te midde van knellende omstandighede, wêreldoorloë en die aandklokreël”, het Booyens gesê.

Van die stories wat Suid-Afrikaners die meeste aangegryp het, word deur geskiedkundige berigte en ikoniese foto’s en spotprente in die boek oopgevlek: Van die Groot Griep in Kaapstad in 1918 toe die koerant uitgebring is met ’n redaksie van net vyf lede, tot die atoombom in Hirosjima, die storie van Klara Majola, die eerste hartoorplanting, die skêrmoordenares, die Laingsburg-vloed, prinses Diana se dood, oudpres. Nelson Mandela se dood tot Oscar Pistorius se verhoor.

Murray la Vita gesels met Bun Booyens: “As jy kyk na Die Burger se dekades, dan was die eerste dekade, en kom ons noem dit nou maar van 1910 tot 1920, ofskoon Die Burger in 1915 begin het, die dekade van trauma – die Groot Griep wat omtrent die redaksie uitgewis het, openbare teenkanting teen die koerant, die Eerste Wêreldoorlog. En dan is daar die 20’s . . . ek dink dit was ’n fenomenale dekade as jy kyk wie in daai tyd by Die Burger aangestel is. I.D. du Plessis, die latere digter, was die sportredakteur en daar was in daai tyd nie ’n sportblad nie, hulle het daai ding gevestig. Louis Hiemstra, wat waarskynlik die grootste woordskepper in Afrikaans is, het daai tyd begin werk. Uitstekende tegniese personeel. Phil Weber-hulle . . .”

Burger 100: Sy mense en hul stories deur Bun Booyens en Aldi Schoeman

Lees meer...

Lees die volledige berig hier.

Meer oor Die Burger se eeufeesviering. Klik hier.

Lees meer op LitNET: Boeke en skrywers.

Murray la Vita gesels met Bun Booyens in Die Burger van 10 Maart: Stories vertel laat mense bly leef.

Lees meer oor die boek hier.

  

Dit was veral merkwaardig dat vyf van die tien redakteurs van Die Burger wat die 101 jaar oue koerant al gehad het die geleentheid kon bywoon. Die boek, Burger 100: Sy mense en hul stories, is by US Woordfees 2017 bekendgestel. Voor is dr. Ebbe Dommisse en Wiets Beukes. Agter is Henry Jeffreys, Bun Booyens en Willem Jordaan (huidige redakteur). Arrie Rossouw, die ander redakteur wat nog leef, bly in die VSA. Foto verskaf deur Netwerk24.