Fiëstas 2017

24 Februarie 2017

“Die kunste is 'n baie belangrike skakel in enige land se psige. Daarom is kunstefeeste en toekennings soos die Fiëstas broodnodig. Daar is genot en oorgenoeg vreugde, maar daar is ook die produksies, die kuns en die woorde wat jou anders na jouself en die mense om jou laat kyk. Lank lewe die kunste.”

- Ilza Roggeband

Fiëstas: 'n Viering van feestalent

Soms word die grootste juwele die diepste weggesteek. Dít was vanjaar by die Fiëstas, die enigste toekenning van sy soort in Suid-Afrika, weer ooglopend.

'n Paneel van elf lede sien al die debuutproduksies by die land se grootste Afrikaanse kunstefeeste – US Woordfees, KKNK, Suidoosterfees, Vrystaat Fees, Innibos en Aardklop. Van die paneellede besoek ook Klein Karoo Klassique, 'n fees wat fokus op klassieke musiek. 


Produksies

In 2016 het die paneel meer as 120 produksies gesien. Almal debute, oorwegend in Afrikaans. Dan begin die proses. Daar moet deur lyste en lyste gegaan word, gestem word en dan weer gestem word tot daar uiteindelik vier nominante en een wenner in elk van die sestien kategorieë, wat die toekenning vir gewildste fees waarvoor feesgangers stem insluit, aangewys word.

Vir Fiëstas 2017 was daar 'n heelpaar swaargewigte onder die benoemdes: Sandra Prinsloo, John Kani, Antoinette Kellerman, Marthinus Basson, Tobie Cronjé en Amanda Strydom.

Daar was ook heelpaar nuwe name. Jong akteurs, aktrises, musikante, sangers en ontwerpers wat hul merk in die industrie begin maak het. En dit was dan ook die jonges wat vanjaar met die grootste toekennings weggestap het!

Uitskieters

Nico Scheepers, maar net 28 jaar oud, se produksie Rooivalk het met drie toekennings weggestap – een vir beste spel in 'n solo-vertoning vir Richard September, die teks is aangewys as die beste nuutgeskepte Afrikaanse produksie (dit het ook verlede jaar 'n ATVK Woordveertjie as beste nuwe teks gewen) en Rooivalk het die groot prys van die aand losgeslaan, dié van beste aanbieding van die jaar.

In die kategorie beste akteur het die jong Stefan Erasmus met die Fiësta weggestap vir sy spel in As wat by die US Woordfees te sien was. Die ander benoemdes was John Kani (So Ry Miss Daisy), Chris van Niekerk (Pa) en Tobie Cronjé (Kul).

Min mense het As gesien. Oftewel, nie naastenby genoeg mense het As gesien nie. Dit is opgevoer in die legendariese Breughel Teater in Cloetesville in Stellenbosch. Twee onbekende akteurs was te sien in verskeie rolle elk. Die tema van die stuk is 'n moord op 'n gay man. Met die laaste applous het ek vir my mede-teatergangers gesê hulle moet my net 'n tydjie gee sodat ek my sinne weer bymekaar kan kry. Ek het geskarrel vir 'n sneesdoekie, 'n laaste paar snikke gegee en toe eers uit die teater gestap. Buite het van my mede Fiësta-lede gewag, almal met rooi oë. Dít is wat teater moet wees. Dit moet jou raak tot in die diepste van jou siel. Of dit jou laat huil en of dit jou laat lag of vir dae daarna laat dink, dit móét 'n emosie in jou wakker maak. Dit kan jou selfs kwaad of ongemaklik laat voel, maar iets moet jy vóél.

Rooivalk was eweneens 'n produksie wat diep getref het. Die verhaal van 'n jong tienerseun op 'n plaas en sy vriendskap met 'n ander seun. Eenvoudig op die oog af met 'n treffende stel van gebrande boomtakke en 'n huisie met verligte vensters wat onderstebo van een van die takke afhang. Dit is egter wanneer jy die lae begin afkrap wanneer die kern van die stuk jou in die maag skop.

Vreugdetrane was daar ook. Veral die musiekblyspel Heidi is meesterlik na die verhoog gebring. Heidi en haar ouma se broodrolletjies, Klara in haar rolstoel, kwaai juffrou Rottenmeier, oupa in die berge… 'n Stel, wat die Fiësta vir beste teaterontwerp vir Francois Toerien en Kosie Smit besorg het, wat moeiteloos tussen die stad en die berge beweeg. En wie sou kon raai dat Dawid Minnaar en Albert Maritz net so gemaklik in musiekteater is as wat hulle in ernstige dramas is? Ook die musiekproduksie Hensop, 'n satiriese blik op die Anglo-Boereoorlog het elkeen van sy benoemings verdien. Die feit dat ons al kan grinnik oor hierdie oorlog, wys hoe ver ons gekom het en hoe braaf sommige teatermakers is.

Toekenningsaand

Die toekenningsaand was 'n produksie van internasionale standaard. Om in die Operahuis van die Kunstekaap op 'n warm somersaand te sit en die room van Suid-Afrika se talent te sien, was louter vreugde. Dit was 'n visuele skouspel van woorde en musiek. Vanjaar is vier jong regisseurs gebruik om dele van die program te regisseer – Wolf Britz, Amy Jephta, Nico Scheepers en Steven van Wyk. Elkeen het hul eie stempel afgedruk en mens kan gerus terugsit met die wete dat die aflosstokkie vir Suid-Afrikaanse teater in talentvolle hande gelos gaan word.


'n Leeftyd van woeker en werk vir en in die kunste

Daar is drie toekennings oorhandig aan persone vir hul bydraes tot die kunste. Die formidabele koormeester Acáma Fick is vereer vir haar bydrae tot musiek, Alvon Collison is vereer vir sy bydrae tot musikale teater en Ton Vosloo is vereer as kunste-filantroop. Die onderskeie commendatios is gedoen deur Zorada Temmingh, Mark Banks en Tim du Plessis.

Die wenners

Beste opkomende kunstenaar
Faith Kinniar – Valencia – KKNK
Beste teaterontwerp
Francois Toerien & Kosie Smit – Heidi – KKNK
Lewensbydrae tot musiek
Acáma Fick
Beste vroulike byspeler
Nicole Holm – In Ongenade – Woordfees
Beste manlike byspeler
Dawid Minnaar – Die Huis van Bernarda Alba – KKNK
Beste prestasie in ’n solo-vertoning
Richard September – Rooivalk – Woordfees
Lewensbydrae tot musikale teater
Alvon Collison
Beste musiekgedrewe produksie (arena)
Charl du Plessis – Big Band Boogie Woogie – KKNK
Beste musiekgedrewe produksie (podium)
Hunkering na die ses – SOF
Beste musiekgedrewe produksie (teater)
Heidi – KKNK
Lewensbydrae as kunste-filantroop
Ton Vosloo
Beste prestasie in klassieke musiek
Corelli & Co. – Stefan Temmigh & Erik Dippenaar – Woordfees
Beste prestasie in visuele kuns
Alex Hamilton – Kurator van visuele kunsprogram – Woordfees
Beste nuutgeskepte Afrikaanse produksie
Nico Scheepers – Rooivalk – Woordfees
Beste regie
Marthinus Basson – Die Gangsters – Woordfees
Beste aktrise
Ilse Klink – Kristalvlakte – SOF
Beste akteur
Stefan Erasmus – As – Woordfees
Gewildste fees
Innibos
Beste aanbieding
Rooivalk – Woordfees
Bloustoel
Die Bloustoel-toekenning gaan aan KKNK vir die Uitkampteater-inisiatief.



“Dit is my eer en voorreg om op die paneel te dien, 'n ondervinding wat ek vir niks in die wêreld sal verruil nie. Ja, natuurlik is daar produksies wat jy liefs sal wil vergeet, maar een ding is seker ná verlede jaar se feeste: Ons is 'n land en taal wat met uitsonderlike talent geseën is.” Ilza Roggeband is ‘n vryskutjoernalis van Melkbosstrand.

 

Ilza Roggeband

 

 

 

Anton Goosen en Dana Snyman. Die produksie Anton Goosen - Die Liedjieboer is benoem as beste musiekgedrewe produksie - arena en Snyman is saam met Frank Opperman benoem vir beste nuutgeskepte Afrikaanse produksie vir die eenmanstuk Hond.

 

Milan Murray, wat saam met Chris van Niekerk en Roeline Daneel ’n uittreksel uit Pa opgevoer het, en die feesbestuurder van Aardklop, Alexa Strachan.

 

Cintaine Schutte, Mariechen Vosloo en Rocco Pool. Schutte is benoem as beste vroulike byspeler vir Die Huis van Bernarda Alba en Pool is benoem vir sy teaterontwerp vir dieselfde produksie.

 

Hemelbesem, benoem vir Afrikaansvatter, sy vrou, YOMA, en Pedro Kruger voor die toekenningsgeleentheid.

 

Francois Toerien, wat al die pad van Seattle vir die toekennings gekom het, Esther von Waltsleben en Jan-Hendrik Opperman.

 

kykNET se Nicola van Niekerk (produksiehoof) en Anneke Villet (opdraggewende vervaardiger).

 

Dean-John Smith en Vashti Smith op die blou tapyt. Smith is benoem as beste manlike byspeler vir Kristalvlakte en Smith is benoem as beste opkomende kunstenaar.