'Afrikaans - Van vrees tot liefde'

31 Oktober 2016

'Afrikaans is my doentaal'

Datum: 27 Oktober 2016
Plek: Rosendal, Oos-Vrystaat

In Rosendal kry mens maklik aanwysings soos "Kom na Wessel se huis. Ons sit almal op die stoep, jy kan dit nie mis nie." En om een of ander rede - miskien omdat ek die afgelope sewe maande meer as 30 000 km sonder GPS, met slegs ’n outydse padkaart, gery het - is dit een van die min dinge wat my onmiddellik om-ellie. Ek soek duidelike en korrekte aanwysings! Daar is nie tyd vir verdwaal as ek 'n afspraak vir 'n onderhoud het nie.

 

 

Dus daag ek weggesteekmoerig op by ene Wessel se huis. Die badkamerteëls is splinterbeelde van wat lyk na 'n comic boek. In die gang hang 'n skildery van 'n man wat met 'n yo-yo speel. Ek word aan die geselskap voorgestel as 'die een wat eergister vir die eerste keer van Rosendal gehoor het!' 'n Soekgeselskap klouter van die stoep af die donker tuin in om die regte geurige blare bymekaar te maak wat in my drankie moet gaan. As iemand wat oorwegend glad nie drink nie en boonop pas eers van Rosendal gehoor het, sien ek Wessel beskou dit as 'n persoonlike uitdaging om vir my iets voor te sit wat my Bokka se swak aanwysings sal laat vergewe. 

Bokka du Toit was my eintlike afspraak. Gilda, die reisblogger, saam met wie ek in Mpumalanga gekuier het in die ou ossewa-herberg in Schoemanskloof, het my van hom vertel en hierheen gestuur.

Een iets wat ek dadelik van Rosendal se mense kan sê, is dat ek hier nie verveeld gaan wees nie. Afrikaans en hoe ons praat en hoe Afrikaanse woorde klink en resoneer, is hier deel van lewendige gesprekke waarin die geheel van die mens bepeins word.

Bokka praat sag, soos iemand wat daaraan gewoond is om in 'n grot te sit en op die rotse wat rondom hom uittroon staat te maak om sy stem verder te dra en sy woorde te beaam.  "Verandering is deel van die lewe," sê hy. "En daar is 'n wêreldrevolusie, 'n re-evolusie oral aan die gang. En dit praat ook hard Afrikaans."

Bokka was glo 'n koevoet, het sy eie sangoma-opleiding ondergaan en het ook ander sangomas opgelei. Hy het al verskeie tempels gebou en bedryf tans 'n maatskappy wat die dekoratiewe stelle vir groot korporatiewe funksies bou. Hy is besig om 'n rolprent te maak wat ek hom sê net sowel oor my as persoon kon gegaan het, al het ons nou eers weer ontmoet. Bokka glo in liefde soos ander mense in gras glo wat hulle weet na die reën weer gaan opkom. Na ons wankelrige eerste indrukke, voel ek of ons ou vrinne is teen die tyd wat hy my na die katedraalgrot neem.

Die Oos-Vrystaat is droog. Suid-Afrika is droog, maar hoe meer ons in verwondering die grot se lieflikheid betree, hoe meer bou die weer buite op. Met gesigte vol as gesmeer, sit ons en luister na die duiwe se vlerkgeklap wat uit die kranse uit opvlieg. Tussen dié klank en die holte-stilte van die spelonk vergeet ek byna als. My lag kom terug. Ek blink in 'n asvaalgloed van losbandige gelukkigheid.

"Die Aarde se resonansie is besig om te verander en ons het almal 'n bewustelike of onbewustelike soeke om te harmoniseer met daai hartklop van ons planeet. Dit is 'n bewustelike skuif van 'n klein veld van vrees waarin ons al lank vassit na 'n groter, meer ruim dimensie." Terwyl hy praat, dink ek aan wat 'n vriendin onlangs oor mans gesê het: "As meeste van hulle praat, wil ek net 'n 'fast forward' knoppie druk." Maar om na Bokka te luister, is soos om by 'n waterstroompie te sit. 'n Rustige klank in goeie Afrikaans en hope kennis wat meeste mense nog nooit eers 'n dag lank aan gedink het nie.

"Die grootste uitdaging van ons tyd is hoe om hierdie verandering te hanteer. Hierdie beweging van vrees na liefde. Vrees wat in sommige van ons Afrikaanssprekendes op sellulêre vlak opgesluit was en waarvan ons nou die keuse het om dit te laat gaan."

Teen die tyd wat ons weer moet gaan, begin die eerste druppels val. Bokka steek sy arms hoog op in 'n fluisterdankie. As ek weer kom, belowe hy, sal hy my die grot gaan wys waar Boere-vroue en -kinders verraai is.
"Hulle stemme is nog almal daar."

In die stort terwyl ek die as en grond van my afwas, skryf ek met my toon: VRY VAN VREES. Buite word die Oos-Vrystaat deur die Skepper goed natgelei en sonder wonder of hoop weet ek - hier gaan 'n liefdesafrikaans geil opkom.

    Foto's ...

  

Joernalis Sybrandus Adema kon nie glo dat ek nog nooit van Rosendal gehoor het nie. Hy het verskeie kere in die loop van 'n gesellige aand herhaal "Kan jy glo sy het maar eergister eers van Rosendal gehoor?"
En daar ontmoet ek 'n Ligkind met die naam van Misha! En ek en Misha gesels paddas dat dit hop! Vreemd dat ek daai selfde oggend van ons ontmoeting hierdie onbekende hond, Pedals, voor my deur in 'n ander deel van Rosendal aangetref het. Geen twyfel, Pedals is hier besig om uit haar maag uit te lag!

  

Arms uitgestrek teen die rotswand van die katedraalgrot, verdiep Bokka du Toit hom in die genesende stilte. Dit is deel van die aarde se resonansie wat mens in plekke soos spelonke, sterker kan aanvoel.
In die parkeerterrein van Constantia Padstal wys 'n vriendelike motorfietsryer my daarop dat iets agter my kar se stang losgebreek het en sleep. Gelukkig het ek my oranje skêrtjie en groen kleeflint om 'n tydelike kontrepsie te bewerkstellig voor ek weer pad vat.
Net in Afrikaans! Agteroormoermampoer, ja.
Ek slaan 'n gloed uit by die toonbank van die Waterval Padstal in Senekal toe ek besef die oulik verpakte 'pippirmints' wat ek oorweeg het om vir my ouers te gee, is toe 'n bees van 'n ander kleur! Maar heng, is ek gaande oor hoe oorspronklik hierdie bewoording en verpakking is!
Die stoorkamer van 'n One stop buite Drie Susters in die Karoo op die N1 waar ek 'n insetsel oor die verwoestende haelstorm by Bloemfontein sit en maak. Enigste plek wat stil genoeg is!
Bokka du Toit, rolprentmaker en kenner van Afrika-geestelikheid.