Fokus: Tegnologie in die klaskamer

16 Mei 2017

Heelwat navorsing word deesdae gedoen oor die gebruik van tegnologie in die klaskamer, maar watter impak het dit op die leerders? Daar word gesê dat die hedendaagse kind, of sogenaamde Z-generasie, meer visueel leer omdat hulle meer toegang tot tegnologie het en ook baie meer kundig in die gebruik daarvan is as kinders wat voor 2000 gebore is. Daarom moet die tradisionele manier van onderrig en leer hierby aanpas en is die doeltreffende gebruik van tegnologie vir innoverende onderrig en leer belangrik.

So laat die gebruik van tegnologie in die klaskamer diversiteit in leertegnieke toe en is die leerders meer betrokke by die leerproses, juis omdat leer meer visueel is. Leerders kan konsepte nou beter visualiseer omdat tegnologie dit moontlik maak. En dit het tot gevolg dat hulle meer vrae vra, meer ontleed, probleme oplos en kritiese denke toepas. Sodoende kan tegnologie ’n belangrike hulpmiddel in onderrig wees. Maar help dit werklik vir breinontwikkeling, of maak dit juis die brein lui?

Dis so maklik om Google te raadpleeg. So hoekom dan nog enigsins feite probeer onthou? Indien tegnologie reg aangewend word, kan dit juis daartoe bydra dat leerders se breine sterker ontwikkel. Boonop word die onderwyser se werk verminder en is dit makliker om komplekse onderwerpe te behandel. Dit bly egter die onderwyser of fasiliteerder se verantwoordelikheid om toe te sien dat leerders tegnologie toepas maar steeds hulle brein oefen.

Voordele van die gebruik van tegnologie

  • Dit motiveer leerders en bevorder hul betrokkenheid by leeraktiwiteite wat terselfdertyd die geleentheid bied om probleemoplossingsvaardighede te ontwikkel.
  • Nuwe moontlikhede van leerruimtes buite die klaskamer word ontsluit.
  • Hoëvlakdenke en vaardigheidsontwikkeling word gestimuleer – en dit is belangrik omdat die hedendaagse arbeidsmark dit vereis.
  • Die praktiese toepassing van kennis deur self navorsing te doen, take uit te voer en die gevolglike interaksie met ander leerders, dra by tot die leerproses.
  • Die ouer het nou die geleentheid om saam met die kind te leer en te sien hoe hulle die werklikheid van die wêreld ervaar binne ’n omgewing waar die ouer steeds beheer kan uitoefen.
  • Dit is ‘n bykomende hulpbron wat leer makliker maak omdat dit kan voldoen aan die leerder se spesifieke behoeftes.
  • Leerders en ouers kan met die onderwyser per e-pos kommunikeer indien nodig.
  • Omdat elke les anders aangebied kan word, bly die leerervaring nuut en nie vervelig nie.
  • Sukses is ook meer gefokus, kan gemonitor en bestuur word sodat daar bepaal kan word hoe om projekte te benader en te ontwikkel sodat die leerder die meeste voordeel daaruit kan geniet.

Hoe tegnologie in die klaskamer help

Rekenaars:
Die programme waarop leerders werk, help hulle leer en vergemaklik kommunikasie tussen die leerder en onderwyser wat onderrig vergemaklik. Daar is ook genoeg hulpbronne in die klaskamer en minder papierwerk.

Die “smart” bord:
Dit is ’n interaktiewe wit bord wat dit makliker maak vir die leerder om te sien. Vorige notas kan ook gestoor word en gebruik word om leerders se geheue te verfris.

Selfone:
Leerders kan stil kommunikeer in groepe deur SMS’e.of WhatsApp’s onderling te stuur. Besprekings in die klaskamer kan opgeneem word sodat die leerder weer later daarna kan luister.

Bronne

Johan van Lill se program Ons en die onderwysTegnologie in die klaskamer.

Maroela Media - Tegnologie, leer en ons kinders

Tegnologie in klaskamer vergemaklik onderrig en leer – blog.

’n Praktiese voorbeeld:

In die Biologieklas kan leerders byvoorbeeld op hulle selfone of iPads kyk hoe lyk die hart en dan prentjies aflaai en meer lees. Die onderwyser hoef dus nie alles voor in die klas te verduidelik en te illustreer nie. Dit beperk die gebruik van handboeke, want daar is duisende bronne tot hulle beskikking. Leerders leer ook by mekaar, want indien reg bestuur, kan die onderwyser verskillende leerders vra om spesifieke inligting te soek wat hulle dan met hul klasmaats kan deel omdat hulle die inligting kan stoor en rondstuur. Op die manier word heelwat meer inligting as gewoonlik in een lesuur oorgedra. Hierdie aktiewe deelname wakker kritiese denke aan en maak leerders opgewonde om te leer.

Luister
Johan van Lill se program Ons en die onderwys, Sondae van 16:30 tot 17:00 op RSG, fokus op aktuele sake in die onderwys. Luister hier hoe die Hoërskool Hexvallei op De Doorns tegnologie in die klaskamer inspan.

Lees meer:
Negatiewe gevolge? Gaan lees hier oor die visuele impak en wat jy as ouer kan doen sodat jou kind die beste uit tegnologie kan haal.

iPads dra by tot beter prestasies. Lees hier. 

Helpende Hand se inligting oor Tegnologie en opvoedkunde en meer oor knip en plak met jou rekenaar, assessering met selfoon, asook nuttige toeps vir onderwysers.

Lees die blog: Ja, vir selfone in my klas.

Inspirerende onnies:

Nicole Masureik by die Hoërskool Pinelands in Kaapstad span tegnologie vir onderrig in. Sy vertel oor haar gebruik van Edmodo, hoe sy klas gee en gee wenke vir onderwysers waar tegnologie-hulpbronne skaars is. Lees hier. 

Warren Sparrow, ‘n rekenaaronderwyser en hoof van IT by Rondebosch Seuns Voorbereidingskool, het ’n projek ontwikkel om vir leerders entrepreneursvaardighede aan te leer. Hy het die Beste Praktyk-toekenning ontvang vir sy “Who wants to be a millionaire”-projek in die Innovasie in Inhoud-kategorie by die 2010 Pan-African Innovative Educators Forum. Lees hier.

Johan van Lill kry nog 'n veer in sy hoed.

Geluk aan Johan van Lill, aanbieder van Ons en die onderwys op RSG wat so pas ‘n Mediaveertjie ontvang het vir Beste insetsel in ’n opvoedkundige program vir sy bydrae oor Tegnologie in die klaskamer.

Johan is ’n ervare onderwyskundige, radioaanbieder en skrywer. Hy spesialiseer in breinontwikkeling en lei ouers en onderwysers op om hulle kinders voor te berei vir die moderne lewe. Wanneer hy weg wil kom van kinders, versamel hy Suid-Afrikaanse kuns en beoordeel saam met ’n paneel debuutproduksies op Nasionale Kunstefeeste.