Maandag, 14 Augustus is Koop-‘n-Afrikaanse-boekdag!

10 Augustus 2017

 

Op 14 Augustus vier ons weer Koop-’n-Afrikaanse-boekdag, ʼn konsep wat in 2005 uitgedink is deur die Vriende van Afrikaans (VVA). Op hierdie dag kry boekwurms afslag van tussen 10% en 20% op Afrikaanse boeke by deelnemende boekwinkels*, en as jy tussen 13 en 15 Augustus direk van LAPA Uitgewers se webwerf bestel, kry jy 50% afslag op alle boeke.

Boonop ondersteun jy Afrikaans, Afrikaanse skrywers en die Afrikaanse boekbedryf. As jy nie vir jouself ʼn boek wil koop nie, koop dan vir ʼn vriend, jou dorpsbiblioteek, skoolbiblioteek of kleuterskool, en verryk so iemand anders se lewe.
Wat beveel Afrikaanse boekliefhebbers aan ...

””

Elna van der Merwe, HUISGENOOT se boekeredakteur, se keuses:

Die Laksman Se Dogter deur Gerda Taljaard (Penguin) word bevolk deur interessante karakters wat die swaar tema van dwelmverslawing verlig. My gunsteling is die rokende predikantsvrou wat haar spreeu leer vloek.

Heiliger is Dibi Breytenbach (LAPA) se derde misdaadtreffer. As jy haar nog nie ken nie, is dit nou hoogtyd – hier’s bloed, passie, droogte, trane, skelm sangomas — en ‘n man wat baie mooi kan werk met ‘n vrou.”
 

””

Phyllis Green, SARIE se boekeredakteur, beveel die volgende boeke aan:

“Ek het elke bladsy van Die Wêreld van Charlie Oeng deur Etienne van Heerden (Tafelberg) opgeslurp, en heerlik saam met Tian Killian gereis op soek na Charlie Oeng. Wie is die ware Charlie Ng, oftewel Soutchinees? Is hy Koekepan, of Gelatenheid? Killian se reis is een na vrede en afsluiting, en selfs vergifnis. Eksentrieke karakters soos Ouma Voetjies en Ouma Ogies maak dit 'n meesleurende verhaal wat ek nie kon neersit nie.

Die Laksman se Dogter deur Gerda Taljaard (Penguin): Die manier waarop Taljaard haar karakters skets, maak hulle onvergeetlik. Jy kan nie anders as om empatie met hulle te hê nie. Ten spyte van die donker temas, raak mens nooit swaarmoedig nie. Lewensdrama, waarmee ons almal kan identifiseer, word boeiend, realisties en ontvanklik ondersoek. ’n Broeiende verhaal wat mens bybly lank na die lees daarvan.”

””

Naomi Meyer, skrywer van Web en inhoudsbestuurder van LitNet, kies drie boeke:

Die Groot Klein Kaptein-omnibus deur Paul Biegel (Protea) is een van daardie kinderboeke wat my verbeelding van my eie kinderdae af aangegryp het en nou ook deur my kinders geniet word.

Superma en ander mites deur Chantelle de Wet (LAPA) is die soort boek waarby enige ma met jong kinders sal kan aanklank vind. Jy sal saam met die skrywer van hierdie boek lag en huil.

Ek kan ook die Die wêreld van Charlie Oeng deur Etienne van Heerden, Die derde spoel deur SJ Naudé, Die bergengel deur Carina Stander en Hierdie huis deur Kleinboer aanbeveel.”

””

Johan Myburg, bekend vir sy weeklikse bydraes op RSG se Skrywers en Boeke, se keuse lyk so:

“In John Miles se Op 'n dag, 'n hond (Human & Rousseau) is dit die broosheid van die menslike bestaan wat opval. Dié boek spel egter nooit alles uit nie, en het sóveel registers waarin 'n mens betekenis kan gaan soek. As meesterverteller boei Miles enduit met 'n verhaal wat bly draal – soos 'n hond.

In Dan Sleigh se 1795 (Tafelberg) besef mens opnuut wat ʼn wonderlike manier Sleigh het om met geskiedenis om te gaan. Sonder om pedanties te wees of om ʼn overte parallel te trek tussen die Kaap van die laat 18de eeu en omstandighede vandag. ʼn Mens kan egter nie anders nie as om te dink aan George Santayana se gevleuelde woorde: “Dié wat nie die verlede kan onthou nie, is gedoem om dit te herhaal.”
 

””

Izak de Vries, boekbemarker, se keuse val op twee baie uiteenlopende spanningsromans:

“Dibi Breytenbach se Heiliger (LAPA) gaan oor ʼn opslagkoeël, ʼn kind wat sterf en rassespanning wat dreig om ʼn gemeenskap te verdeel. Die onbevoegde blanke speurder wil wys dat hy nie ’n wit man sal laat wegkom met moord nie, selfs al is hy moontlik onskuldig. Dit lees baie lekker, maar die vrae waarmee die boek jou treiter, is aktueel.

Doodsroeper deur Rika Cloete (LAPA) is ʼn misdaadroman wat afspeel in 1861. Niemand het toe nog gehoor van CSI nie, en daar bestaan nie iets soos bloedtoetse of DNS-bewyse nie. Dit is Soois Bruwer se vermoë om op die outydse manier te luister wat maak dat ons weet wie skuldig is. Juis hierdie andersheid maak die boek so ʼn lekker leeservaring.”
 

””

Corina van der Spoel, voormalige aanbieder en gereelde bydraer tot Skrywers en Boeke, beveel twee van Karel Schoeman se laaste boeke aan:

“Die selfdood van die skrywer Karel Schoeman vroeër vanjaar het baie vrae by my losgemaak oor die denke wat so ‘n besluit agterlê. Schoeman laat egter nie stilte na nie, maar neem afskeid met twee laaste boeke: Afskeid van Europa en Slot van die dag (albei van Protea). Dis ontroerend om al lesend saam met hierdie grootse skrywer van Afrikaans die inwaartse reis te volg: “nóg is die stilte nie volslae nie, maar gevul met eggo’s en fragmente en onrus; maar die tyd het aangebreek om afskeid te neem, om afstand te doen, en te leer swyg.” (Uit: Slot van die dag)

 

* Lys van boekwinkels wat afslag gee op 14 Augustus:

Meer oor Koop-‘n-Afrikaanse-boekdag

  • As deel van die jaarlikse Afrikaansweek, word 14 Augustus bevorder as die dag waarop mense aangemoedig word om ‘n Afrikaanse boek aan te skaf.
  • Die projek is in 2005 deur die Vriende van Afrikaans (VVA) van stapel gestuur , ‘ n groep mense wat werk vir Afrikaans. Die idee het ontstaan omdat een van VVA se lede moeg geraak het om te luister na mense wat sê hulle wil graag Afrikaans lees, maar daar is nie Afrikaanse boeke beskikbaar nie.
  • Vandag, word die dag ook onder meer deur die Afrikaanse Taalraad bevorder.

Hoekom 14 Augustus?
Die eerste Afrikaanse Taalbeweging het op 14 Augustus 1875 begin toe die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl gestig is, dus ‘n gepaste dag om Afrikaanse skrywers, boeke, uitgewers en boekwinkels te ondersteun.
Lees meer oor die Vriende van Afrikaans