Afrikaans in die Noord-Kaap – ‘n geskiedkundige gesprek

08 November 2017

Dit was ‘n broodnodige byeenkoms wat die geleentheid gebied het om hernude aandag te vestig op die verskeidenheid Afrikaanse taaluitings en kulturele vorme in die Noord-Kaap en ‘n ideale geleentheid vir rolspelers, akademici, navorsers, kultuurwerkers en studente om opnuut te fokus op geleenthede en projekte wat kan lei tot die bewaring en uitbouing van die Afrikaanse taalerfenis. Karien Brits (ATKV) het die gesprek bygewoon en gee haar indrukke.

Die konferensie sal om verskeie redes in die geskiedenisboeke oor Afrikaans aangeteken word. Dit is die eerste keer dat daar spesifiek ʼn konferensie oor Oranjerivierafrikaans as dialekbundel gehou word. Oranjerivierafrikaans sluit volgens prof. Frank Hendricks van die Universiteit van Wes-Kaapland die volgende subvariëteite in: Griekwa-Afrikaans, Namakwalandse Afrikaans, Boesmanlandse Afrikaans, Richterveldse Afrikaans, Rehobothafrikaans en Riemvasmakerafrikaans. Die konferensie is ook aan Hendricks opgedra wat aan die einde van die jaar aftree. (Hendricks se boek, Taalkundige essays – 'n gerf uit die vroegskemer, is heel gepas by die konferensie bekendgestel). Die konferensie wat op 2 en 3 November aangebied is, was ʼn besonderse produk van goeie samewerking tussen die Departement Afrikaans en Nederlands (Universiteit van Wes-Kaapland) en die Skool vir Geesteswetenskappe (Sol Plaatje-Universiteit). Dit was terloops ook die eerste konferensie van dié aard by die jong Sol Plaatje-Universiteit.

Die doel van die konferensie was om bestek op te neem van bestaande navorsing oor die streektaalvorme en letterkunde in die Noord-Kaapse variëteit (-e) en om nuwe perspektiewe op die rol van dié streek in die Afrikaanse taal te belig.

Nuwe perspektiewe op taal, literatuur en kultuur

Die konferensie val saam met die jaar wat die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) sy 100ste bestaanjaar vier en dit was gepas dat Hendricks in die hooflesing na die hantering van variëteite in die AWS gekyk het. Dit het byna 100 jaar geneem om Oranjerivierafrikaans sy regmatige plek in die AWS te gee, maar in die besprekings was almal dit eens dat dit ʼn goeie beginpunt is. Dit is wel wat dit is, ʼn beginpunt. Daar lê nog baie werk in die taal- en onderwyswêreld voor om vir die Oranjerivier sy regmatige plek te gee. Dit was soos ʼn refrein deur die hele konferensie dat onderwysers van die waarde van die variëteite bewus gemaak moet word en ook opgelei moet word oor hoe hulle die variëteite van Afrikaans in die klaskamer moet hanteer.

Die res van die aanbiedings het oor ʼn wye reeks onderwerpe gehandel en dit was verfrissend om kundiges uit die letterkunde, taalkunde, onderwys-, kerk- en kultuurlandskap by één konferensie te hê. Prof. Jacques van Keymeulen van die Universiteit Gent in België, het in sy aanbieding na die interessantste ooreenkomste tussen die Wes-Vlaamse dialekte en Oranjerivierafrikaans verwys. Prof. Christo van Rensburg, bekende taalkundige, het weer oor Khoi-Afrikaans gepraat. In die besprekings het dit sterk na vore gekom dat daar vir beter insig in Afrikaans meer navorsing oor Khoi en die ander Afrikatale nodig is. Daar sal dalk in die volgende AWS voorsiening gemaak moet word vir die klapklanke wat daagliks in Afrikaans gebruik word.

Twee hoeke van Afrikaans wat selde belig word, is die geskiedenis van Afrikaans in die Katolieke Kerk asook die rol wat die Katolieke Kerk in Afrikaans gespeel het – veral in die Noord-Kaap (Anastasia de Vries) en die rol van rap (nie kletsrym nie) in Namakwaland (dr. Annie Klopper).

Die konferensiegangers het na afloop van die konferensie versoek dat daar weer ʼn konferensie gehou moet word, maar wat meer mense sal betrek. Daar is ook werk uitgedeel wat intussen gedoen moet word sodat dit nie maar net weer nog ʼn konferensie is nie. Daar sal meer aandag aan die Afrikaanse variëteite in die skoolstelsel, die letterkunde en ook in die hoofstroommedia gegee moet word. Soos wat dit ook in die konferensieprogram staan: “Ons beweegrede is dat Afrikaans as taal slegs kan gedy as alle Afrikaanse variëteite gelyke status het, én as meer aandag aan al die variëteite van die taal bestee word as wat tans die geval is”.

 

””

Dr. Lionel Snyders, prof. Victor Teise en Adean van Dyk (SPU).

””

Prof. Christo van Rensburg (NWU) en prof. Steward van Wyk (UWK).

””

Prof. Gertrude Fester (SPU) en Seymour Bothman (ATKV).

””

Ria Olivier (ATR) en prof. Frank Hendricks (UWK).