Besonderse San/Afrikaans-woordeboek bekroon

12 September 2017

Besonderse San/Afrikaans-woordeboek bekroon

Die beoordelaars vir vanjaar se Woordwystoekenning vir woordeboeke moes vanjaar tussen drie publikasies kies, en al drie bewys dat Afrikaans ʼn soepel, byderwetse taal is wat sy plek in ʼn veeltalige Suid-Afrika beslis vol staan. Die drie woordeboeke is Ouma Geelmeid gee N|uu, die Afrikaans-Japannese woordeboek en die Woordeboek van Ruimteterminologie.

Ouma Geelmeid ke kx’u ||xa||xa N|uu/ Ouma Geelmeid gee N|uu/ Ouma Geelmeid teaches N|uu/ is ‘n baie besondere koffietafelstyl-woordeboek wat nie net ‘n byna uitgestorwe taal bewaar nie, maar ook weer eens bewys dat Afrikaans ‘n belangrike skakel in die taalketting in Suid-Afrika vorm.

Die siel van die Kalahari lê opgesluit in 114 spraakklanke van N|uu, die Khomani San se dialek van die San-taal. Die Khomani San is ook een van die “hoofkarakters” in Karin Brynard se roman Tuisland, wat pas met die ATKV-Woordveertjie vir beste spanningsroman vereer is. Afrikaans speel ʼn belangrike rol in tradisionele San-gemeenskappe, en is al dekades lank die taal waarmee hierdie “eerste nasie” hul weg in ons land moes baan. Dit het tot gevolg gehad dat baie van hulle eie dialekte byna uitgesterf het omdat jongmense dit nie noodwendig leer praat nie.

N|uu is een so ʼn San-dialek, en daar is aanvanklik gedink dat dié taal al uitgesterf het. Maar in die 1990’s is vasgestel dat daar sowat 20 N|uu-sprekers oor is, verspreid oor die Noord-Kaap. Deesdae is drie susters uit Upington se wêreld die enigste drie vlot sprekers van dié karaktervolle aardse taal. Hulle is Hanna Koper, die oudste, Griet Seekoei en Katrina Esau, die jongste van die susters.

Katrina, beter bekend as Ouma Geelmeid, is die heldin in hierdie woordeboekverhaal. Op die rype ouderdom van 84 jaar het sy dit haar taak gemaak om haar hartstaal met die regte uitspraak te help bewaar. Hoewel Katrina nie kan lees nie, is sy en haar kleindogter, Claudia du Plessis, al tien jaar lank besig om N|uu vir die kleingoed – én “grootgoed” – in haar gemeenskap te leer.

Weens ouderdom kon sy nie vanjaar se Woordveertjiebekroning bywoon nie. Prof. Matthias Brenzinger het die toekenning namens haar ontvang.

 

Prof. Matthias Brenzinger en Nina Swart (gasvrou). Foto: Izak de Vries

Die Centre for African Language Diversity (CALDi) van die Universiteit van Kaapstad staan Katrina se skool by. Matthias Brenzinger, direkteur van CALDi, en Sheena Shah het in samewerking met ander kundiges en onder die leiding van Katrina die N|uu-taal in ’n pragwoordeboek opgeteken. Die woorde en begrippe word verduidelik in Afrikaans en Engels. Die woorde en frases is toegelig met foto’s ter illustrasie, en vang die gees van die taal vas terwyl dit ook as leesboek dien.

Die beoordelaars vir die Woordwystoekenning (proff. Wannie Carstens en Rufus Gouws en Dr. Frikkie Lombard) meen dis belangrik om binne ʼn veeltalige Suid-Afrika nie net aan die amptelike en gevestigde tale aandag te gee nie, maar ook aan kleiner en veral ook bedreigde tale. “Hierdie boek lewer ʼn waardevolle bydrae om veeltaligheid in Suid-Afrika te versterk,” lui hul persverklaring oor die wen-woordeboek.

En hoe voel die Khomani San oor hulle taal? “ǂKhomani San het die taal gekry. Hulle sing dit, hulle praat dit, hulle skryf dit.”