Die Afrika in Afrikaans: Afrikadag - 25 Mei

17 Mei 2017

Op Afrikadag, wat op 25 Mei, die herdenking van die stigting van die Organisasie vir Afrika-eenheid in 1963 gevier word, word daar gefokus op die suksesse wat daar al in Afrika behaal is.

“Die Afrika in Afrikaans” is vanjaar die tema van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Afrikadag-vieringe op Donderdag 25 Mei 2017. Dié viering sluit ‘n musiekoptrede deur die Lukhanyo marimba-groep, begeleide toere en ‘n spesiale opvoedkundige program in.

Volgens Michael Jonas, die direkteur van die ATM, wil die ATM met hierdie viering mense bewus maak van Afrikaans as ‘n Afrikataal, die taal se Afrika-oorsprong (saam met sy Europese en Oosterse oorspronge), wedersydse invloede tussen Afrikaans en ander Afrikatale, sowel as die diversiteit van die Afrikaanssprekende gemeenskap. Jonas sê dit is belangrik om te besef dat taalkontak tussen die Khoi-Khoin en Nederlandse seevaarders (sedert 1595) as die eerste periode in die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans beskou word.

“Die Khoi het ‘n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van Afrikaans, waaronder vroeë vorme van Afrikaans soos Khoi-Grensafrikaans. Bekende Khoi-leenwoorde sluit in ‘kanna’, ‘boegoe’, ‘dagga’ en ‘kierie’. Afrikaans bevat ook talle leenwoorde uit ander Afrika-tale, soos isiXhosa en isiZulu, waaronder ‘impala’, ‘mamba’, ‘pasella’ en ‘indaba’,” sê Jonas.

Begeleide toere word vir besoekers aangebied van 08:00 tot 16:00. ‘n Groep van 80 graad sewe-leerders van Mary Help of Christians Primêre Skool van die Paarl is genooi om ‘n spesiale opvoedkundige program by te woon as deel van die ATM se Borg-‘n-bus-projek.

Het jy geweet?

Daar is 54 gevalle van Khoi-Afrikaans voor 1652 opgeteken. As jy meer wil weet oor die oorsprong van Afrikaans en meer wil uitvind oor die stene waarmee Afrikaans gebou is. Klik hier.

Vir navrae, kontak Nkita Pietersen by 021 872 3441 of student@taalmuseum.co.za.

Die Lukhanyo marimba-groep van Mbekweni tree op 25 Mei 2017 van 12:00 tot 13:00 by die Taalmonument op Paarlberg op.

Lees meer:

Die Afrika-unie en ook by Mieliestronk.

Prof. Frans Viljoen (UP) oor hoe om Afrika-unie meer mensgerig te maak.