Jans Rautenbach: 1936 – 2016

07 November 2016

Dromer, filosoof, omgeemens...

““Ek het in my lewe geleer jy dra die liefde vir die lewe saam met jou. Of jy in ’n krot sit, of in ’n paleis, as jy nie die liefde het nie, is dit ’n holle dop wat jy leef. Daar is geen beuel wat ek wil blaas nie, geen wonderlike boodskappe wat ek wil nalaat nie. Al wat ek vra is dat mense na my lewe sal kyk, en kyk wat is in die boekrak van my siel. Dan het ek ook vir Almari gesê as hulle die dag my as hier op Oulap uitgooi, en sy sit ’n klip neer wat sê: Dáár lê die ou man se as, dan moet daar op daardie klip net een ding staan: Dromer.” 

“Een van Suid-Afrika, en Afrikaans, se grootste regisseurs en vervaardigers is oorlede. Jans Rautenbach, baanbrekerregisseur van Jannie Totsiens, Katrina en veral die briljante Die Kandidaat is nie meer by ons nie. Simpatie aan sy famile en almal wat soveel respek en bewondering vir hierdie grootse kunstenaar en filosoof gehad het, en veral vir sy versiende rolprente. Sy nalatenskap is geweldig en omvangryk en sal moontlik nooit oortref word nie.” – Leon van Nierop

Kunste Onbeperk het die volgende op Facebook gesê: “Rus sag oom Jans. Baie dankie dat jy ons geleer het om te droom én gewys het hoe om drome te bewaarheid. Die passie waarmee jy by dit wat jou hartsnare geroer het betrokke geraak het, sal ons altyd bybly.”

Abraham - ’n Juweel in sy kroon


Riku en Jackie Lätti gesels oor Jans Rautenbach en hul ervaring van die mens tydens die verfilming van Abraham. Dit was vir hom belangrik om Abraham se storie te vertel, want dit was ’n storie wat sy hele lewe geraak het en sy hele lewenspatroon verander het. As gevolg van Abraham, die jong kunstenaar wat sy pad gekruis het, het hy hom vir 35 jaar heeltemal onttrek uit die maak van films en op ’n Sabbatsreis gegaan om te ontdek waaroor die lewe werklik gaan. Lochner de Kock en Boet Pretorius gee ook hul indrukke. Kyk hierbo.

Van mynwerkerseun tot baanbrekerregisseur ...

Jans Rautenbach is op 2 November oorlede in die ouderdom van 80 jaar. Hy is in 1936 in Germiston gebore en het in Boksburg grootgeword. In die laat 1960’s het hy as regisseur saam met die vervaardiger Emil Nofal baanbrekende vernuwing in die Afrikaanse filmbedryf teweeggebring met die films Die Kandidaat (1968), Katrina (1969) en Jannie Totsiens (1970). Ander hoogtepunte van sy loopbaan was Die Ongewensde Vreemdeling (1974), Eendag op ’n Reëndag (1975), Blink Stefaans (1981) en Abraham (2015).

In die vroeë sewentigerjare het hy en sy gesin op die dorpie De Rust in die Klein-Karoo gaan woon en het hy en sy vrou Almeri die plaas, Oulap, aan die voet van die Swartberg ontwikkel. Met die jare het hy gereeld erkenning gekry vir sy volgehoue gemeenskapsdiens, veral vir die transformasie van die plaasskool Vlakteplaas UCC Primêr in een van die top landelike skole in die land. In sy laaste fliek, Abraham (2015), het hy hoofsaaklik lede uit die gemeenskap met geen formele drama-agtergrond nie, as akteurs ingespan.

Hy word oorleef deur Almeri - sy vrou van 60 jaar - en sy kinders Andri, Erika, Gert, Strydom en sy kleinkinders.

Die pasafgelope Prins Albert Leesfees, is aan hom opgedra. 

Hoogtepunte van loopbaan:  

Dit was onder sy leiding dat die KKNK gevestig is as ’n leefstyl-ervaring, met grensverskuiwende produksies en uitstallings. Gedurende sy termyn as voorsitter (2000 tot 2001) het hul vir oud-president Nelson Mandela op Oudtshoorn verwelkom.

Hy was regisseur van: Die Kandidaat (1968), Katrina (1969), Jannie Totsiens (1970), Pappalap (1971), Ongewenste Vreemdeling (1974); Eendag op ’n Reëndag (1975); My Way II (1977); Blink Stefaans (1981); Broer Matie (1984); No One Cries Forever (1985); Abraham (2015).

Lees meer ...

Maroela Media deel huldeblyke.

kykNET sê totsiens aan ’n baanbreker.

So berig die George Herald oor Jans Rautenbach se dood.

Huisgenoot berig oor die legendariese rolprentmaker se dood.

Onderhoude oor Abraham: Eerste rolprent van Jans Rautenbach in 30 jaar.

Meer oor Abraham – Jans Rautenbach se eerste fliek na 30 jaar.

Video: Jans oor Abraham op Maroela Media.

Bekendstelling van Abraham.

Artikel oor Jans Rautenbach op Netwerk24 deur Willemien Brummer.

Oor: Pappalap.

Oor: Eendag op ’n Reëndag.

Lees hier oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent (die Jans Rautenbach-era).

YouTube/video:

Lokprent vir Abraham.

Lokprent vir Jannie Totsiens

Die kandidaat.

Katrina met die bekende temaliedjie. 

  

 

Jans Rautenbach gesels oor Abraham:   

In ’n telefoniese onderhoud wat Jans Rautenbach in Oktober 2015, pas na die bekendstelling van die fliek Abraham, met Alita Steenkamp gevoer het, het Jans gesê dat dit vir hom belangrik was om Abraham se storie te vertel, want dit was ’n storie wat sy hele lewe geraak het en sy hele lewenspatroon verander het. As gevolg van Abraham, die jong kunstenaar wat sy pad gekruis het, het hy hom vir 35 jaar heeltemal onttrek uit die maak van films en op ’n Sabbatsreis gegaan om te ontdek waaroor die lewe werklik gaan. In die tyd het hy besef wat die belangrikste is wat ’n mens in die lewe moet ervaar en beleef om waarlik mens te wees. Tog wou hy glad nie met die maak van die rolprent een of ander preek probeer afsteek nie. Abraham se storie is ’n storie van lewe en verlange en van die begeerte om skeppend te wees, maar veral om net gesien te word en erken te word.

Jans het bygevoeg dat hy nie voorbarig wil klink nie, maar dat hy Abraham as ’n mylpaal in die Afrikaanse rolprentbedryf beskou. Hierdie fliek was die eerste Afrikaanse fliek wat ’n storie oor ’n verlore Afrikaanse generasie vertel het. Vir te lank is bruin mense gebruik as die humoristiese element in flieks. Hulle is bloot gebruik as ’n soort aanhegsel aan blanke Afrikaanssprekende mense wat nie besef het dat almal net eenders is nie. Jans het bygevoeg dat ons almal mense is, mense met bloed en verlangens en liefde en dit was vir hom besonder lekker om die storie te vertel van mense om ons wat ons nooit wou raaksien nie. Wedersydse respek vir mekaar is van die grootste belang, het hy gesê. 

 "A profound and consummate masterwork"

In 2015, Daniel Derksen said the following about Abraham: “Abraham is a profound and consummate masterwork... undoubtedly one of the best South African films ever made from industry legend. It tells an unforgettable tale that will break your heart, a story that connects with who we are as South Africans and how we fit into the bigger scheme of things.”

...