Woordveertjies 2017 – ‘n Dekade vol hoogtepunte

12 September 2017

””

Storiemakers, woordtowenaars en ander wat besondere werk ten opsigte van Afrikaanse boeke doen, was Vrydagaand, 8 September, die eregaste tydens die tiende ATKV-Woordveertjies wat op die Anura-landgoed buite Stellenbosch gehou is. Ilse Salzwedel was daar en vertel meer.

“Lees maak nuwe wêrelde oop. Deur nog meer uitmuntende skrywers in populêre genres te vereer, bevorder ons lees en terselfdertyd lewer ons ʼn waardevolle bydrae tot die Afrikaanse taal, kultuur en letterkunde.” - Nita Cronje, projekorganiseerder

Woordveertjies 2017 – ‘n Dekade vol hoogtepunte 

Die ATKV het nog altyd erkenning gegee aan Afrikaanse skrywers, en die gesogte ATKV-Prosaprys is die eerste keer in 1984 toegeken aan Dalene Matthee vir haar tydlose meesterstuk Kringe in die bos. Skrywers soos Etienne van Heerden, Chris Karsten, Eben Venter en P.G. du Plessis is ook deur die jare met die prys bekroon.

Tien jaar gelede het die ATKV die belangrike besluit geneem om ook skrywers te vereer wie se boeke deur die breër leserspubliek gelees word, en so het die ATKV-Woordveertjies ontstaan. Volgens Nita Cronje, projekorganiseerder, is leesbevordering ʼn baie belangrike fokus vir die ATKV. “Lees maak nuwe wêrelde oop. Deur nog meer uitmuntende skrywers in populêre genres te vereer, bevorder ons lees en terselfdertyd lewer ons ʼn waardevolle bydrae tot die Afrikaanse taal, kultuur en letterkunde.”

Izak de Vries gesels met vanjaar se wenners

Een van die belangrikste verskille tussen die ATKV se Woordveertjie-toekennings en ander letterkundige pryse, is die kinderboektoekennings. Duisende jong lesers van regoor die land stem jaarliks vir hul gunsteling Afrikaanse kinder- en jeugboeke met die hulp van skool- en dorpsbiblioteke landswyd. “Deur kinders ʼn stem te gee oor wat hulle geniet, moedig ons hulle aan om meer te lees. Hoe jonger kinders is wanneer hulle blootgestel word aan die wonderwêreld van boeke, hoe groter is die kans dat hulle as volwassenes ook lesers sal wees. So belê ons nie net in die kinders se toekoms nie, maar ook in ons land, want ʼn lesende nasie is ʼn ingeligte nasie.”

Cronje sê die aantal inskrywings vir die Woordveertjie-toekennings neem jaarliks toe, en daar is besliste groei te bespeur in die aantal dramatekste en digbundels wat ingeskryf word. “Die laaste drie jaar is daar gemiddeld tien nuwe digbundels per jaar ingeskryf. Dis ook opmerklik hoe spanningslektuur as genre ontwikkel het die laaste paar jaar – ons sien dit duidelik aan die groei in die aantal inskrywings wat ons jaarliks vir hierdie kategorie ontvang.”

Anders as wat die geval is met die meeste ander letterkundige pryse, word verskillende keurpanele ook vir die verskillende genres aangewys. “Ons kies jaarliks drie kundiges in elke kategorie en verseker op daardie manier dat ʼn wye aantal menings gehoor word.”

Vanjaar het die ATKV vir die eerste keer ʼn Woordveertjie toegeken aan die beste nie-fiksie werk. “Ons kyk elke jaar na die landskap van die boekmark om te sien wat is die jongste tendense, en nie-fiksie is besig om ʼn besliste gunsteling onder Afrikaanse lesers te word. Dis ook wonderlik om te sien hoe spanningslektuur die afgelope paar jaar ontwikkel het.”

Taal is een van die ATKV se hooffokusse, en daarom word daar ook die afgelope dekade jaarliks ʼn Woordwys-toekenning toegeken aan ’n woordeboek of taalgids wat grense verskuif. Vanjaar se wenner was Ouma Geelmeid ke kx’u ||xa||xa N|uu. N|uu is een van die mees bedreigde tale in Afrika met net drie mense wat die taal steeds vlot kan praat. Hierdie besondere woordeboek, uitgegee deur die Centre for African Language Diversity aan die Universiteit van Kaapstad, is ‘n mylpaal in die bewaring van hierdie taal se woordeskat. Lees meer ...

””

Prof. Matthias Brenzinger ontvang die Woordveertjie namens die span.

””

Smiddae na skool kan kinders en grootmense lees en aan skooltake werk by Bruce Koopman en sy vrou, Kenmyrthia, se Jazztown-biblioteek. Hy het in sy motorhuis ‘n informele biblioteek opgerig in die woonbuurt Gerald Smith en hy is vereer vir sy bydrae tot leesbevordering.

””

Vrydag, 8 September, is storiemakers en woordtowenaars tydens die tiende ATKV-Woordveertjies op die Anura-landgoed buite Stellenbosch vereer. Foto’s: Izak de Vries.

””

Dan Sleigh en die ATKV se besturende direkteur, Deidre Le Hanie.

Dan Sleigh is die wenner van vanjaar se ATKV-Prosaprys ter waarde van R25 000 met sy roman 1795.

Hierdie roman (in manuskripvorm) was in 2015 die wenner van NB se Groot Romanwedstryd, en is ook vanjaar reeds bekroon met die WA Hofmeyr-prys. Dis gebaseer op Sleigh se navorsing as historikus, en speel af in die tyd van die Hollandse besetting van die Kaap. Die hoofkarakter is Willem van Rheede van Oudtshoorn. Die ander twee mededingers vir die toekenning was Karin Brynard se Tuisland en Celesté Fritze se debuutroman Verlorenkop. Lees ‘n onderhoud met hom hier.

Brynard se Tuisland, wat afspeel in die Kgalagadi en deels ook die verhaal van die San se stryd om oorlewing dokumenteer, is bekroon as beste spanningsroman. Deon Meyer se post-apokaliptiese Koors en Chris Karsten se Die dood van ’n goeie vrou, nog ʼn roman met die gewilde speurder Ella Neser as hoofkarakter, was die ander twee finaliste.

””

Karin Brynard en Nina Smit (gasvrou vir die aand).

””

Chanette Paul.

Die Prys vir Poësie is vanjaar toegeken aan Bibi Slippers vir Fotostaatmasjien. Hierdie baie besondere digbundel is reeds vanjaar met die Eugene Marais-prys, die UJ-debuutprys en die Elizabeth Eybers-prys bekroon. Dit het meegeding met Ronelda S. Kamfer se Hammie en Susan Smith se Die aarde is ʼn eierblou ark.

In die afdeling vir liefdesromans het die baie gewilde Chanette Paul, veteraanskrywer van meer as veertig liefdesromans, se Offerande met die Woordveertjie weggestap. Dié boek, die opvolg op Offerlam, speel deels in België en deels in die Overberg af en verwys ook na ʼn interessante era in die geskiedenis van die Kongo (deesdae die DRK). Offerande het meegeding met Sophia Kapp se Dagboek van ʼn bedonnerde diva en Santie van der Merwe se Anderkant Vergeet.

Rosita Oberholster se Troue in ’n Towerbos is aangewys as die beste romanse. Moeilikheid met ʼn Meermin deur Sophia Kapp en Liefde deur ʼn lens uit die pen van Elsa Winckler het gesorg vir stewige mededinging in hierdie topverkoper-kategorie.

””

Rosita Oberholster.

””

Elsabé Brits.

Die Woordveertjie vir die beste niefiksie-boek in Afrikaans, wat vanjaar vir die eerste keer toegeken is, het gegaan aan Elsabé Brits vir haar boek Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. Hierdie omvangryke dokumentering van die Britse heldin van die ABO is ook in Engels vertaal en verskyn binnekort ook in Brittanje. Albert Blake se Broedertwis en Herman Gilliomee se outobiografie Herman Gilliomee Historikus was die ander twee finaliste.

Christo Davids se aangrypende My Seuns is bekroon met die Woordveertjie vir die beste dramateks. Dit het meegeding met DEURnis, geskryf deur Jannes Erasmus, Henque Heymans en Johann Smith, en Wild deur Philip Rademeyer.

Kinders se wenkeuses

Die ATKV-Kinderboektoekennings bestaan uit vyf kategorieë en die volgende wenners is aangewys. 
In die voorleeskategorie (graad RR tot graad 1): Jaco Jacobs en illustreerder Karen Lilje vir Grom!
 

””

Karen Lilje en Jaco Jacobs ontvang hul Woordveertjies vir Grom.

””

Fanie Viljoen en Elsbeth Eksteen vir Oepse daisy, Lulu.

In die selfleeskategorie (graad 2 tot 3) was die wenboek ook ʼn Jaco Jacobs-skepping, Viskos. Dis geïllustreer deur Zinelda McDonald.

In die graad 4 tot 5 selfleeskategorie het skrywer Fanie Viljoen en die illustreerder Elsbeth Eksteen weggestap met die Woordveertjie vir Oepse daisy, Lulu.

Die graad 6 tot 7-leerders het Elizabeth Wasserman se Elf dae in Parys gekies as hul gunstelingboek, en jong lesers tussen graad 8 en graad 10 se keuse vir die Kinderboektoekenning het geval op die nuwelingskrywer Cecilia Steyn se Tienerharte 3: Hartedief.

””

Cecilia Steyn.