... met Afrikaans op JOU dorp

05 Mei 2017

... met Afrikaans op JOU dorp

Die aankondiging van Kwêla se Dorp van die Jaar-streekfinaliste staan nou vinnig einde se kant toe – en sodra al die finaliste bekend is, sal die dorpe moet pronk en uithaal en wys, want om as die Nasionale Dorp van die Jaar aangewys te word, is mos darem nie te versmaai nie.

Afrikaans.com het die afgelope weke talle inskrywings ontvang vir ons kompetisie “Hoe lyk Afrikaans in jou dorp?” en gee jou hier so ’n kort kykie op van die inskrywings. Ons hoop dit dien as inspirasie, want die kompetisie is nog lank nie verby nie en skryf jy in om te spog met die Afrikaans op jou dorp, staan jy ’n kans om tot R10 000 te wen!

Graafwater-Muurprojek

’n Vorige kompetisiewenner, Linda du Plessis, daar uit die “mengelmoeskardoesdorpie” Bultfontein kan nie uitgepraat raak ook Afrikaans in haar dorp nie. Sy sê Bultfontein is trots Afrikaans. Linda vertel dat al is hulle dorp so klein, klop hul harte warm en haal hulle asem en leef Afrikaans, veral wanneer die dorp en Suid-Afrika een keer per jaar laer trek by die Boertjiefees waar Afrikaans as taal en kultuur gebruik, bevorder en gevier word.

Linda en haar man, Volla dra Afrikaans se vaandel hoog. Linda vertel hoe sy Bultfontein Hoërskool se matrieks aangemoedig het om ’n week lank suiwer Afrikaans te skryf op sosiale media. Nogal ’n moeilike taak as ’n mens so kyk na die taalgebruik op sosiale media. 

Graafwater-Muurprojek

Truida Genis van Hoopstad vertel haar dorp praat nog altyd haar moedertaal. Afrikaans is opgesluit in haar herinnering, haar wortels – dis ’n bekendheid, “’n harmonie van reuke van omgeploegde lande met ’n rooigrondhorison na ’n welverdiende somer-donderbui.” Haar alma mater bring herinneringe van sweet, pannekoek, jaffels en Deep Heat. So skryf sy ’n hartsbrief – “’n huldeblyk van helde, party geval en ander aan die vet kant van die lewe.”

Graafwater-Muurprojek

Lynette Jones daar uit Kuruman vertel dat hulle GROOT gaan op hulle dorp. ”Of jy doen dit ordentlik, of jy los dit.” Sy vertel dat of jy nou daarteen baklei of nie, Afrikaans kry sy loop deur elke aspek van haar dorp – gesprekke deurspek met uitdrukkings eie aan die dorp. So hoor sy daagliks: “Morning Tannie, lekker dag. Mevrou, mooi loop, baie skelms today. Mevrou, lekker dag. God bless you!” “Straattaal, waarskutaal, groettaal. Kuruman se Afrikaans is ’n respektaal, ’n omgeetaal, ’n uitreiktaak, ’n oor-grense-heentaal en ’n bidtaal. En wanneer die son sak op Kuruman, sak hy beslis nie op Afrikaans nie.” 

Graafwater-Muurprojek

Die Lindley Rollermeule is nog ’n bewys dat daar nog steeds elke dag hard gewerk word ... in Afrikaans. Johan Colyn vertel dat oom Hekkie reeds sedert die vyftigs die nasie voed met sy mieliemeel en gruis wat hy sedert die vroeë sestigs met sy rollermeule maal.

Graafwater-Muurprojek

Wilmien Cloete van Garies sê daar in die Namakwaland is sy gelukkig en kom niks kort nie, val die vriendelikheid jou op en is hulle trots op hul aksent en mededeelsaamheid.

 

Graafwater-Muurprojek

Arnoldus Schoeman vertel dat Riebeeckstad naby Welkom by uitstek ’n Afrikaanse taaldorp is en praat hulle eg-Afrikaans. So is sy vrou, Antoinette, so lief vir die taal dat die HAT haar tweede Bybel is en het sy die lywige woordeboek reeds van voor tot agter deurgewerk en weer van vooraf begin. In Riebeeckstad word daar woorde uitgeruil en nuwe woorde geskep – sommer net omdat dit pret is. Antoinette reken Afrikaans is “beslis oppibôl en slaan behoorlik bollemakiesie in ons Afrikaners se huise” en is hulle heeltemal verslaaf aan die “mooiste taal in die wêreld.”

 

Graafwater-Muurprojek

Volgens Heidi-Jane de Wee is die Upingtonners Afrikaans gemaak en net so laat staan – dis in hulle ingewortel. “Afrikaans is die taal wat al die mense van my dorp bind met ’n band van diversiteit, omdat elkeen sy of haar eie dialek van Afrikaans praat.”

 

Graafwater-Muurprojek

Kyk nou net byvoorbeeld hoe lekker rol die taal van die tong af in Stilbaai. Dr. Jan Vosloo het laat weet dat dit daar in Stilbaai wemel van die Afrikaanse name vir ondernemings. Hulle spog byvoorbeeld met die Blombos- en Fynbos-apteke, Alikreukel-gastehuis, Brugstories-winkel, Gister se Goeters-winkel, die Preekstoel-woonwapark, die Duine-Mall, Pakketmoles (vir skryfbehoeftes en drukwerk), Lappies & Lint-materiaalwinkel en Die Wasbalie-washuis ... en hulle woon in strate soos Noemnoemsingel en Kinkelbossteeg. 

 

So klop Afrikaans se hart sterk en trots in menige dorp . Gaan lees gerus die volledige inskrywings op ons WEN-blad en skryf sommer self in.