#waarsitlekka … by die fees

28 Februarie 2017

US Woordfees

Of jy nou ’n gesoute feesganger is of jou vir die eerste keer by die fees-leerskare aansluit ... of jou ding drama, diskoers, humor of musiek is ... Afrikaans.com wil weet #waarsitlekka by die fees. Vertel ons waar kuier jy die heel lekkerste, wat kyk jy die lekkerste, waar luister jy en waar eet, sit of staan jy die langste … die lekkerste. Stuur ’n selfie, raak digterlik of stuur ’n video saam met die hutsmerk #waarsitlekka … by die fees!

Dit bly ’n fees by 'n fees!

Ons Afrikaanse feeste soos die US Woordfees, KKNK, Innibos, Suidoosterfees, Vrystaat Kunstefees ... noem maar op, is hier om te bly solank JY die feeste ondersteun en die borge hande vat. Dit bly die beste platform vir die kunste. Drama, musiek … beeldende kunste, humor, diskoers … Elke fees is uniek en maak voorsiening vir velerlei smake binne ‘n veeltalige gemeenskap – of jy nou oud of jonk is. Daar is vermaak vir almal – alles tot voordeel van Afrikaans. Natuurlik word daar ook na die innerlike omgesien en bly die kos nie agter nie. Kunstefeeste verkwik beslis nie net die siel nie ...

Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees sê dit raak: “Ons wil ons beywer vir die ontwikkeling van nuwe gehore en kunstenaars en die bevordering en uitbouing van Afrikaans binne ’n inklusiewe, meertalige, verwelkomende omgewing. Ons is verbind tot die skep van ’n gesonder gemeenskap ...”

Dit is ons Afrikaanse feeste vir jou!

#waarsitlekka ... by die Woordfees 

Die fees het begin!

My Afrikaans lyk so …

“Ek het nog nooit meer energie in en om en oor die taal beleef nie. Almal skep. Almal integreer. Daar is moeilike vrae. Daar is verfrissende antwoorde. Almal ondersoek beter en wyer en dieper ...” – Gielie Hoffmann (Ambassadeur vir Afrikaans). 

Drie perspektiewe - ‘n gedeelde liefde vir Afrikaans.

Hendrik Theys, ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad en trusteelid van die SBA (Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans), Kaptein John Cornelius Witbooi, Namastamhoof, oudonderwyser en vurige voorstander van die bemagtiging van kinders deur taal asook Kaptein Francisco McKenzie (Autshumao of Kaptein Mackie van die Wes-Kaapse Khoisan-wetgewende raad gesels oor hul Afrikaans.


Hulle droom en doen in Afrikaans

Leerders van die Hoërskool Stellenbosch was goed verteenwoordig by die diskoersgeprek: Watter lesse kan ons by Afrikanerentrepreneurs leer ... lesse waarby swartbemagtiging kan baat. Die Plataankafee reg voor die RSG-uitsaaikaravaan was die plek om te wees!

Anton Rupert, Jannie Mouton, Koos Bekker, Markus Jooste, GT Ferreira, Laurie Dippenaar, Christo Wiese, Mighiel le Roux ... almal van hulle was uiters suksesvolle sakemanne ... almal Afrikaans. Die gesprek het gehandel oor watter lesse mens kan leer wat sal help om swart ekonomiese bemagtiging te laat slaag.

Laai die RSG potgooi hier af en luister hoe vurig die matrieks van Hoërskool Stellenbosch saamgesels oor hul drome, wat hulle nodig het om te slaag en hoe hul wil bydrae tot die sukses van alle Suid-Afrikaners.

 

 

Die WAT – ’n Fees van woorde

Indringende navorsing oor die taal word in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) behandel. Dit is ’n akademiese woordeboek wat op so ’n manier saamgestel word dat dit as ’n gesaghebbende naslaanbron deur taalkundiges, ander navorsers en liefhebbers van Afrikaans gebruik kan word.

Dr. Willem Botha (hoofredakteur) het met Woordfees 2017-gangers tydens ’n gespreksreeks gesels oor hoe die Woord van die Week-reeks wat jy elke week in die Burger, in Rapport, RSG en ook hier op Afrikaans.com vind, tot stand gekom het en vertel van die stigtelike ... tot stuitige waarmee die span elke dag te doen kry. Kyk hier hoe gesels hy oor die woord kiekie en Afrikaanssprekendes se vermoë om voortdurend nuwe woorde te skep. Word Woordryk op Afrikaans.com. Jy vind die Woord van die week hier.

 

Kyk hier na ‘n uittreksel uit die gesprek: Ivor Price se Afrikaans.

Ivor Price se Afrikaans

Wat doen ’n mens as die SAUK se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, jou beroepslewe hier kortknip en jy aangesê word om liewer nie kantoor toe te gaan nie?
In die geval van die joernalis en skrywer, Ivor Price, was dit die ideale tyd om aan sy memoire te werk.

Price is besig om die laaste afronding te doen aan sy boek wat in September verskyn en deur Tafelberg Uitgewers uitgegee word. Hy beantwoord ’n paar vrae deur Hanlie Retief, tydens die US Woordfees 2017.

Sê Ivor: “Die lewe bestaan egter nie net uit hoogtepunte nie. Daar was baie ervarings wat my disnis geslaan het; kronkelpaaie wat my geskaaf en verander het. Ek het heelwat van daardie oomblikke opgeteken. Dis ook ’n storie oor my lewe as bruin Afrikaanssprekende in die beroepswêreld en in die openbare oog.”

Bekendes vier fees en vertel vir ons #waarsitlekka by die Woordfees.


Afrikaans.com is vanjaar ‘n trotse borg van Kwêla Dorp van die Jaar en ons wil jou dorp sáám met jou verken!

Van dorp tot dorp proe, ruik en voel Afrikaans verskillend.
Ons gaan Afrikaans vier en verken langs die hoof- en afdraaipaaie van ons streke, stede en dorpe.

Gee Afrikaans.com die kans om jou dorp deur jou oë te beleef, saam met jou deur jou strate te loop, te sien hoe daar in Afrikaans sake gedoen, skoolgegaan, gekuier en geskep word.

Lees meer en vertel ons hoe lyk Afrikaans in JOU dorp. Jy kan WEN!

In Stellenbosch praat en ‘SKEP’ die mense in Afrikaans. Hier ruik Afrikaans soos braai en lekker kos.

 

“Ons skep ‘n unieke gemeenskap van mense by die Woordfees – mense wat hul gedagtes met mekaar deel. Vanjaar is nie net ‘n jaar van geselsies nie – ons praat ernstig en indringend …dra ons gevoelens duidelik oor.” – Saartjie Botha, feesdirekteur

Die US Woordfees is nou halfpad en daar is steeds baie om na uit te sien. Saartjie Botha, feesdirekteur, deel haar gedagtes en indrukke oor die Woordfees met ons.

Marita van der Vyver: Al wat ek weet
Tydens die WOW-onderwysersdag het Marita van der Vyver die gehoor vermaak met haar “slam poetry” (hamerdigkuns) uit haar jongste jeugboek, Al wat ek weet - die verhaal van Gabriel wat “performance poetry” skryf om uiting aan sy diepste gevoelens te gee. Luister hoe lees sy een van die “slam poetry”-gedigte uit die boek ... dazed and confused ... Die boek gaan ook oor Afrikaans. Gabriel se pa praat suiwer Afrikaans en kan homself nie vereenselwig met die Afrikaans wat sy seun praat nie. Hierdie wrywing word ‘n tema ...”

Klik hier en luister hoe lees sy nog van die gedigte wat in die boek verskyn voor en sy gee agtergrond.

God praat Afrikaans
Op 4 Maart stel HemelBesem (Simon Witbooi) sy boek: God praat Afrikaans by die US Woordfees bekend. Die boek word uitgegee deur Lapa. Hy deel sy kommentaar oor Afrikaans en uittreksels van sy lewe wat dié menings gevorm het. Dit is ʼn boek vol idiome, lirieke, uitdrukkings – bekendes en nuutskeppings ... of soos hy dit noem, ʼn toevoeging tot Afrikaans.

Lees meer en luister na die volledige gesprek.

Wenverhaal

25 Skrywers se wenverhale is vanjaar in die tweede US Woordfeeskortverhaalbundel opgeneem.
Die algehele wenner is Michèle Meyer.

Lees meer ...

Ambassadeurs vir Afrikaans vier fees!

Verskeie van Afrikaans.com se ambassadeurs is deel van die program. Simon Witbooi, beter bekend as HemelBesem, gesels oor sy boek God Praat Afrikaans, Nathan Trantraal stel sy nuwe digbundel bekend: Alles het niet kom wôd vry

Lees meer ...

US Woordfees – alumni rocksterre: Andries Bezuidenhout en Koos Kombuis roer en raas!

 

Saartjie Botha, US Woordfees se feesdirekteur saam met kunstenaar, Athi-Patra Ruga, tydens die bekendstelling van die Woordfees se Visuele Kunsprogram vir 2017.

US Woordfees 2017

Kunstenaars by die US Woordfees gaan vanaf 3 – 12 Maart 2017 die geleentheid hê om te wys wat vir hulle belangrik is en feesgangers kan weereens uitsien na buitengewone ervarings, talent en vermaak.

Lees meer ...