Vind uit #waarsitlekka by die fees!

14 Julie 2017

“Die Vrystaat Kunstefees is ’n geleentheid om in Afrikaans met ander Suid-Afrikaanse kulture hande te vat .. die Vrystaat Kunstefees het ten doel om in Afrikaans “kreatiewe kragte tussen Engels en Sotho” saam te smee. Dit gee aan hierdie fees die karakter van tuis wees in jou eie vel en tog gemaklik in ‘n ander se skoene.” – Danny Titus (die ATKV se uitvoerende direkteur: kultuur)

Die sewentiende Vrystaat Kunstefees (voorheen Volksbladkunstefees; toe Vryfees) van 18 tot 22 Julie vanjaar in Bloemfontein, is weer ’n viering van kuns van gehalte en verskeidenheid oor genres en media heen.

Die tema van vanjaar is Tuiskoms, en as die kunste jou hart warm laat klop, gaan jy tuisvoel!

Soos verlede jaar, bestaan vanjaar se kunstefees weer uit drie feeste: die hooffees, die literatuurfees en die vrynge.

'n Wasgoedlyn vol woorde

Afrikaans.com en SARIE se wasgoedlyn vol woorde wapper vrolik by vanjaar se Vrystaat Kunstefees. Feesgangers kan hul gunsteling Afrikaanse woorde deel. Die weninskrywing kry ‘n lekker SARIE-geskenkpak. Gaan skryf in voor die Media24-feeskafee langs die Callie Human Sentrum of skryf in op sosiale media. Tag SARIE en Afrikaans.com en gebruik die hutstekens #GunstelingAfrikaanseWoord en #VSKunstefees. Die wenner word Saterdag gekies ...

Dis ‘n fees!

Feesdirekteur, Ricardo Peach en Henri Scott gesels by die Vrystaat Kunstefees

Carmen Botha van Sarie vertel...

Die Boeke-oase is weer vanjaar die plek om te wees!

Jaco Jacobs, bekende kinderboekskrywer van Bloemfontein.

Nita Cronje kuier by die Boeke-oase.

 

Magon Mouton kuier by die Boeke-oase.

Johan Myburg kuier by die Boeke-oase.

Op die planke

Vanjaar word daar ʼn hele klompie nuwe hooffees-produksies aangebied in samewerking met ander feeste. Die vlagskipteaterproduksie van die hooffees is die kragtige debuut Gif / Poison / Ityhefu, ontwikkel in samewerking met die KKNK en die Woordfees. Die produksie is gemik op Afrikaanse, Engelse én Xhosa gehore, en word ondersteun deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi). NATi is gestig as ’n befondsings- en ontwikkellingsinisiatief van verdienstelike teater in samewerking met feeste en onafhanklike vervaardigers. NATi fokus op projekte wat die teaterbedryf as ’n geheel dien en ’n stem of perspektief toevoeg tot ’n SuidAfrikaanse narratief en daarom sê Cornelia Faasen (hoof-uitvoerende beampte) sy is in die besonder opgewonde oor die Vrystaat Kunstefees wat die laaste paar jaar as ’n diverse platform ontwikkel het vir werke oor die breë spektrum van die Suid-Afrikaanse kunslandskap

Altaar, in samewerking met die Innibosfees en ook ondersteun deur NATi, het gehore in Nelspruit behoorlik aan die gons gehad, en is ʼn moet-sien produksie.

Feesgangers kan uitsien na ʼn wye verskeidenheid uiteenlopende toneelstukke wat wissel van drama tot komedie. Titels wat die oog dadelik vang, is PG du Plessis se Nag van Legio en Koöperasiestories, Asem, So ry miss Daisy (met die legendariese John Kani en Sandra Prinsloo) en ʼn verwerking van Chris Barnard se Pa, maak vir my ʼn vlieër, Pa.
 

So ry Miss Daisy
Met: Sandra Prinsloo, John Kani & Jacques Bessenger
Teks: Alfred Uhry
Vertaling: Saartjie Botha
Regie: Christiaan Olwagen

Pa maak vir my 'n vlieër pa
Met: Sandra Prinsloo, Waldemar Schultz, Wilhelm van der Walt
Teks: Chris Barnard
Regie: Albert Marit

Gif / Poison / Ityhefu
Met: Atandwa Kani, Tinarie Van Wyk Loots
Teks: Lot Vekemans
Vertaling: Willem Anker
Regie: Erwin Maas

Musiek

Gaan loer ook na die groot aanbod musiekproduksies (onder meer klassieke musiek, Boeremusiek en jazz) interaktiewe mediakuns, handwerk en lewende kuns. Daar is beslis iets vir elke smaak en vir elke lid van die gesin.

Vier seisoene
Met: Piet de Beer (viool), Schalk Joubert (baskitaar), Stanislav Angelov (trekklavier)
Teks, Musiek: Antonio Vivaldi
Vertaling: Dr Dawid de Villiers
Regie: Piet de Beer

Kahn & Karen Zoid het oorweldigende lof ontvang met die bekendstelling van hul treffer We Could Be Divine. Hul vertoning, ondersteun deur M-Net, beloof om een van die musikale hoogtepunte van die jaar te wees. Dié twee musiek-ikone saam op die verhoog beloof ’n onvergeetlike ervaring wat gehore gaande sal hê.

Laurika en Loki se samewerking het begin met die herskepping van Laurika se ikoniese treffer Blou as ’n duet vir haar nuutste album, Die Reis. Loki is nie net as begeleier bekend nie, maar ook as solokunstenaar. Sy virtuose perkussiewe kitaartegniek en stem, gekombineer met Laurika se stem en unieke vertolkingsvermoë, maak hierdie vertoning ’n fassinerende en buitengewone musiekervaring.

Boeke vir Afrika (en uit Afrika)

Die literatuurfees, wat vanjaar vir die tweede keer aangebied word, spog vanjaar met ʼn paar indrukwekkende Afrikaanse skrywers. En boonop kan boekwurms ook gaan luister na internasionale skrywers uit onder meer België, Nederland, Nigerië, Kanada, Roemenië, Iran, Kenia en Zambië.

Op die Afrikaanse boekprogram kan lesers uitsien na gesprekke wat wissel van letterkundige besprekings oor die werk van Karel Schoeman, die lewe en werk van Sol Plaatje en die wisselwerking tussen Afrikaanse en Nederlandse letterkunde. Hierdie boekgesprekke kos slegs R20!

Vir liefhebbers van ontspanningsfiksie wag daar inderdaad ʼn fees van ʼn program, met gesprekke oor alles van spanningsfiksie en liefdesverhale tot geestelike fiksie. Gewilde skrywers soos Chanette Paul, Irma Venter, Rudi van Rensburg, Sophia Kapp, Dina Botha, Martin Steyn, Wilna Adriaanse, Bettina Wyngaardt en Dibi Breytenbach sal oor hul werk gesels. Helena Hugo, Maretha Maartens en Elsa Winckler sal met feesgangers gesels oor geestelike fiksie.

Liefhebbers van nie-fiksie kan uitsien na gesprekke oor die biografieë, outobiografieë en memoirs van Helen Zille, Thuli Madonsela, Hemelbesem en Herman Giliomee. Ian Wessels (Genade! EdeLAGbare: Humor en die hof) en Johan van Wyk (So is dit nou) sal die lagspiere kielie met gesprekke oor hul bundels humoristiese vertellings. Onthou ook van gesprekke met skrywers soos Fransjohan Pretorius en Bill Nasson oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis, lesings oor letterkundige helde soos Adam Small, Dot Serfontein en Thomas Mofolo en ʼn gesprek met Johan Myburg oor sy digbundel Die Uittogboek.

Op die kosfront kan feesgangers beloof die gesprek met die twee kostantes van die Kaapse Vlakte, Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, om ʼn hoogtepunt te wees. Gaan luister ook gerus na die heerlike geselsie tussen die drie kosvriendinne Riana Scheepers, Marietjie Koekemoer en Leonie Scholtz oor hul pragtige kookboek Smeul. In vanjaar se Fees van die sintuie is die gasskrywer Etienne van Heerden, wat gaan gesels oor sy nuwe roman, Die wêreld van Charlie Oeng tydens ʼn heerlike geleentheid met goeie kos, puik wyn en musiek uit die boonste rakke.

Daar is ook ʼn poësiewerkswinkel (aangebied deur Henning Pieterse) en ʼn fiksiekursus wat strek oor drie dae (aangebied deur Francois Smith).

Net die literatuurfeesprogram alleen kan feesgangers vir die hele duur van die fees besig hou, en daar is werklik iets vir elke leessmaak. Boekgesprekke vind (op enkele uitsonderings na) plaas by die ATKV Boekeoase, waar daar ook ʼn groot verskeidenheid Afrikaanse boeke te koop sal wees.

Laai jou volledige feesprogram hier af, en lees meer oor die Vrystaat Kunstefees hier. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Die vrynge-program

Die vrynge-program is ʼn opwindende inisiatief om opkomende kunstenaars ’n platform te bied. Die Publieke Artistieke Projek (PAP) en Vrywees gaan ook sorg vir innoverende maniere om die kunste te geniet.

Op die musikale front is daar vanjaar vir die eerste keer ʼn opera by die Vrystaat Kunstefees. Sangers van die Odeion Skool vir Musiek, begelei deur die FSSO (Vrystaatse simfonieorkes), sorg vir ʼn onvergeetlike Cavalleria Rusticana in die Civic.

Besoek die Vrystaat Kunstefees-Facebookblad vir lusmakervideo’s en aanbiedinge op die program.