Hoe lyk Afrikaans in jou dorp? Enkele hoogtepunte ...

01 September 2017

Die wenner van die R10 000 sal op 7 Oktober tydens die groot Dorp van die Jaar-makietie op Mosselbaai bekend gemaak word.

Die kompetisie was die ideale geleentheid om die mooi en uniekheid van Afrikaans in die verskillende dele van ons land te herontdek. Afrikaans.com kon deelnemers se dorpe deur hulle oë beleef, kon saam met hulle deur hul strate loop, sien hoe daar in Afrikaans sake gedoen word, skoolgegaan word, gekuier en geskep word. Uit die inskrywings was dit duidelik: Elke dorp is verskillend, maar op elke dorp is daar een of ander vorm van Afrikaans.

Daar uit Albertinia vertel Theuns Coetzee (Vollie Vostruis) ons van sy passie vir volstruise – langnekstories van ou Langenhofie Volstruis van Oudtshoorn wat maar altoos groener weivelde gesoek het en Floozie – ’n besonder sjarmante en aantreklike dame van edele inbors met ’n stamboom wat by Jan van Riebeeck se eerste volstruise gehaal kan word. Oom Dik Faan het jaar juis met sy geel lorrie tot op Tuinplaas gebring. Drie gelukkiger volstruise sal jy nêrens kry nie.

Uit Bloemfontein skryf Kleinbooi Mote Matlakeng dat hy Sesotho by die huis praat, maar altyd probeer om Afrikaans te praat – hoewel sy Afrikaans nie goed is nie. Sy versoek aan Afrikaanssprekers is dat hulle moet saampraat as iemand Afrikaans met hulle praat. Hy sê: “Praat, praat en praat Afrikaans. Ek het nie ’n probleem daarmee nie – ek sal terugpraat.” Volgens Noelene Hartzenberg is Bloemfontein ’n kookpot van kulture en klop hulle harte warm vir Afrikaans. As die kaas muf, sê hulle “daar is wol op” en as jou onderklere pla en in jou boude optrek, sê hulle: “die koei eet lap”. Is geld volop aan die begin van die maand, “spring die kinders tou met die wors” en maandeinde as die geld skraps is “sit die kat op die stoof”.

Daar uit die Overberg skryf Marika Davel dat Bredasdorp die ideale kuierdorp is want daar kan jy nog regte boerekos by ’n restaurant bestel, soos kerrie-skaapafval, soet-suur-hoenderlewertjies en bobotie en geelrys. Almal praat Afrikaans – van die kassiere by die bank tot die petroljoggie.

Linda du Plessis beskryf Bultfontein as ’n kuier-kiekies-liedjies-skole-sake-taal-feeshou-boeredorp waar hulle Afrikaans met al hul sintuie praat, hoor, ruik, sien en voel. Een keer per jaar trek die dorp en Suid-Afrika by die Boertjiefees laer waar Afrikaans as taal en kultuur gebruik, bevorder en gevier word en die gunstelingkamera ‘n selfoon is.

Truida Genis vertel dat Hoopstad nog altyd haar moedertaal gepraat het. Hoopstad bring vir haar 'n Afrikaanse bekendheid, “nie net my praattaal nie, my lag-, huil- en reistaal.” 'n Junievakansie se speel in 'n vrag witmielies en biltong maak. Hoërskool Hoopstad-atletiek is die plek waar sweet, pannekoek, jaffels en Deep Heat ten volle sin maak in een omgewing.

In Kuruman gaan hulle groot, aldus Lynette Jones. Of jy doen dit ordentlik of jy los dit. Hier kry Afrikaans sy loop en vloei deur elke aspek van die dorp se bedrywighede en ‘n Afrikaanse woord of sê-ding glip vinnig in die ingekleurde Afrikaans wat die mense daar praat. “Morning Tannie, lekker dag. Mevrou, mooi loop, baie skelms today." Straattaal, waarskutaal, groettaal. Kuruman se Afrikaans is ‘n respektaal, ‘n omgeetaal, ‘n uitreiktaal, ‘n oor-grense-heentaal en ‘n bidtaal. En om te hoor “Mevrou, lekker dag. God Bless You”, gee jou vlerke vir die dagtaak.

Lindley se rollermeule laat ’n mens nostalgies terugverlang na vergange se dae. Johan Colyn vertel oom Hekkie voed sedert die vyftigs reeds die nasie met sy meel ... in Afrikaans. Die meule het hy hoeka eiehandig met groot vaardigheid, deernis, liefde en sweet aanmekaargesit daar waar hy sy staanplek gekry het en tot vandag toe nog staan.

In Mctaggerskamp in die Noord-Kaap, volgens Elriaan Rooi ’n versteekte juweel, kan jy gaan luister na stories in Afrikaans en hoor hoe klink die Afrikaans van 'n Tswanasprekende persoon wat regtig Afrikaans wil praat – al is dit met 'n gebroke aksent.

Mosselbaai (ook die Kwêla Dorp van die Jaar) word deur Belinda Schoeman beskryf as die mooiste rondomtaliebaai en al die mooi rondom hulle is boonop verniet. Alisa Visser kan nie uitgepraat raak ook die Mosselbaaiers se liefde vir hul taal nie. Afrikaans is die taal wat haar laat smag na ’n koppie boeretroos in die winterson op die voorstoep van ’n ou plaashuis met die reuk van varsgebakte beskuit en die houtvloer se kraakgeluide. Haar taal het haar geleer mens speel nie met ‘n bal in die huis nie, mens praat nie met ‘n mond vol kos nie en dat Sannie nooit sal sê sy sleep swaar aan daai sout nie. Mosselbaai is eg Afrikaans.

Vir Naude Avenant is die Karoodorpie, Murraysburg soos ’n lappieskombers. Elke stukkie lap wat die kombers vorm verteenwoordig of kultuur, geloof, menings, of sienings. Wat almal in gemeen het, is die taal, wat soos die gare die kombers aanmekaar hou. Dit is Afrikaans, elke lappie van die kombers het sy eie storie.

Volgens Wilmien Cloete van Garies is die mense in die Namakwaland baie na aan mekaar. Daar is kerrieafval hul tradisionele kos en sal jy nie lank langs die pad staan en wag vir ’n rygeleentheid nie, want mense met rygoed sal jou nie verbyry nie.

Op Onseepkans, knus aan die oewers van die Oranjerivier in die Noord-Kaap en met sorg genestel tussen die klipkoppies, sê Leana Wentzel seg, praat en verduidelik hulle alles in Afrikaans. Hul taal is ryk en geil soos die natuurskoon eie aan die geweste. So, omring deur die natuur, verbreed die taal, buig en vou die taal tot groot hoogtes. Van lekker-sê, sag op die oor, rooiwarm onder die kraag, 'n kies vol kleintyd se onthou, vloei hierdie taal deur die mense van Onseepkans... Maar Onseepkans is ook ’n bewarings- en koesterdorp en sy rykdom lê in sy mense, en is Afrikaans stewig ingemessel in die mense ... daar word Afrikaans met respek gepraat, bewaar vir hul kinders en hulle se kinders. Uit volle bors sing hulle die taal, is die rieldans deel van hul taal. Afrikaans eggo en weergalm sterk en kragtig tussen die berge, klipkoppies en kranse.

Volgens Hannes Snyman word Afrikaans in Orania geliefkoos en het hy gelag dat die trane loop toe hy een van die rekenaar-tegnikusse gevra het om sy rekenaar te ‘backup’ en hy ewe bedees gevra het of hy dit die volgende dag kan ‘rugsteun’. As jy Afrikaans wil ondervind in alle vorme is Orania die plek.

Phalaborwa is volgens Bronley Ngobeni ’n Taaldorp, waar skole soos rooi skool en groen skool Afrikaans soos katte en honde oor die dorp laat reën. Sy vertel Afrikaans was die eerste taal wat sy kon skryf en sy het geleer van diftonge, meervoude en idiome soos "Jou brood in die sweet van jou aangesig verdien".

Riebeeckstad is volgens Arnoldus Schoeman ‘n Afrikaanse taaldorp by uitstek. Sy vrou, Antoinette, het die HAT van die eerste tot die laaste bladsy deurgewerk en nou het sy weer van vooraf begin! Dis haar tweede Bybel en waar hulle ook al gaan, haar HAT toer saam. Hulle is ‘n groepie mense wat al jare bymekaarkom om meer oor Afrikaans en sy kultuur te leer. Hier ruil hulle woorde uit en skep dan die beeldskoonste woorde – woorde wat in geen boek voorkom nie.

Dr Jan Vosloo laat weet uit Stilbaai dat daar by hulle talle sakeondernemings is met die mooiste Afrikaanse name wat ook lekker op die tong val. Daar sê hulle dit in Afrikaans. Name soos:
Die Withuis (eetplek); Botterkloof (eet- en verblyfplek); Brugstories (winkel); Gister se Goeters (tweedehandse goedere); Pakketmoles (skryfbehoeftes en drukwerk); Duine-Mall (sakegebou); Kraantjie (drankwinkel); Mengelmoeskardoes (winkel); Visparadys (vishandelaar); Die Wasbalie (washuis) en Lappies & Lint (materiaalwinkel).Dan is daar ook verskeie straatname wat opval, soos Perdekuil, Kershout, Noemnoemsingel en Kinkelbossteeg.

Stilbaai spog ook met talle Afrikaanse skrywers en het hulle ‘n produktiewe skryfkring met ongeveer 25 lede wat gereeld publikasies die lig laat sien. Die veel bekroonde skrywer, Marie Heese, het ook haar jongste publikasies hiervandaan die letterkundige wêreld ingestuur: “Karoo-kantate” (2013); “Vuurklip” (2013) en “Maestro” (2016).

Heidi-Jane de Wee skryf uit Upington: “Vir die mense in my dorp is Afrikaans hulle gemaksone. Wanneer daar Afrikaans gepraat word, voel jy letterlik die rooi woestynsand vuurwarm onder jou voetsole. Die inwoners van my dorp is Afrikaans gemaak en net so laat staan. Die Afrikaanse taal vloei uit die monde van die mense net soos die water van die Oranjerivier gemaklik en rustig tussen die riete deurvloei. Die taal Afrikaans tokkel jou hartsnare, en laat jou die mooiste liedjie sing, in Afrikaans natuurlik. Afrikaans is die taal wat al die mense van my dorp bind met 'n band van diversiteit, omdat elkeen sy of haar eie dialek van Afrikaans praat. Afrikaans is 'n taal wat verdien om gevier te word, want Afirkaans is waarlik plesierig!”

Wanneer donker, swaar wolke neersak oor Virginia, hoor jy oom Piet sê: "Vandag speel ons maar die 18 gate in die kroeg." So vertel Elize Haasbroek. Dis waar die manne praat en kuier tot diep donker, en selfs Julius, die kroegman, lankal nie meer Sotho praat nie. Dis waar jy jou skoolvriend van 30 jaar terug raakloop in die Spar, en die swaar verkeer beteken die brandstoflorrie voor jou ry NET 40 km/uur. Die kerk sit stampvol en kinders ry nog fiets in die straat. Hier is waar daar plan gemaak word om Afrikaans in die skole te hou, al beteken dit dat twee skole saamsmelt as een. “Dis wie ons is, nie ‘n dorp nie, maar een groot familie. Ons baklei, speel, waardeer, eet, bid en kuier nog eg Afrikaans.”

Lourika de Bruyn uit Vryheid in KwaZulu-Natal vertel ons meer van die "Paddadam" waar die inwoners self skouer aan die wiel gesit het en die dam, wat al jare lank bestaan, van voor af skoongemaak en so te sê nuut oorgedoen het. Daar is nou stoeltjies, ’n klimraam vir die kinders, asook 'n klomp gansies wat rondswem in die dam. Die Paddadam het ook sy eie staproete. Daar is ook 'n nuwe instelling wat hul die jaar begin het met die "Paddadam Market Days" waar almal 'n stalletjie kan huur/koop om hul goedere uit te stal - van kos tot tuisgemaakte konfyt. Daar word dan ook boeresport gehou. Die Paddadam laat die gemeenskap saamtrek.

Eveline Rosenau sê in hulle hawedorpie, Walvisbaai, is mense uit alle uithoeke van die wêreld wat al Afrikaans leer praat het. Uit respek probeer die Afrikaanssprekendes ook die buitelanders se aanleer om mekaar beter te verstaan en sodoende meer besigheid te doen. Daar praat hulle soms 'n mengelmoes van tale, maar na 5 smiddae lag en kuier hulle altyd in Afrikaans!

Antoinette Schoeman beskryf Welkom met sy pragtige vlaktes en die mooiste sonsondergange as die ideale kuierdorp. Antoinette sê: “Hier glo ons nog in bring-en-braai boekbesprekings, tydskrifontledings en word daar net Afrikaans gepraat ... die mooiste en suiwerste Afrikaans. Die tannies van die tuisnywerhede bak eg-Afrikaanse disse soos bobotie met geelrys en rosyne, afval met ’n lekker lang sous. Daar word melkterte gebak en die heerlikste Jodetert. Hier is Afrikaans beslis oppibôl en slaan behoorlik bollemakiesie in ons Afrikaners se huise. Ons eet, slaap en kuier in Afrikaans. Ons is absoluut verslaaf aan die mooiste taal in die wêreld. Ons het al vyf hoog-Engelse dames by ons klub betrek en kyk hierdie meisies praat meer Afrikaans as hul eie taal! Afrikaans is ons liefde en ons hartklop. “

So word Afrikaans se lof besing en kom ’n mens weereens tot die besef:
"Afrikaans is 'n taal wat uit die bodem van Suid-Afrika gegroei en ontwikkel het, gevoed deur die verskeidenheid van tale en kulture in ons land, gewortel in die soeke na eie identiteit en vryheid. Sy krag en hoop op die toekoms was nog nooit spesiale bevoorregting nie, maar as een van die tale van Suid-Afrika wat skouer aan skouer tesame met ander tale met respek en gelyke regte die toekoms tegemoet moet gaan." - Nelson Mandela

Lees gerus die inskrywings hier.