Kunstenaarfokus

“Ons is Afrikaans, en dit is hoekom ons Afrikaanse musiek maak, dit is die taal waarin ek droom, dink en voel, en hoe ek sin maak van die wêreld.” 

- Die Heuwels Fantasties.

Die Heuwels Fantasties: Diversiteit in nuutste album

“As ons daar kan uitkom waar musiek net die voertuig is ... die universele taal. Dit maak nie saak of daar Engels, Zulu of Afrikaans op is, dit wek iets in jou, dit maak iets wakker in jou – ek dink as ons dit kan regkry, dan het ons gewen.”

Die Heuwels Fantasties het onlangs hul nuwe album vrygestel en as enige van hul vorige albums se verkope ‘n aanduiding is, gaan dié album ook binnekort goue verkoopstatus bereik.

Die Heuwels Fantasties is in 2008 gebore toe Hunter Kennedy (tans en voorheen betrokke by F*&*$polisiekar en voorheen lid van aKING) en Pierre Greeff (voorheen betrokke by Lukraaketaar) se onderskeie musiekgroepe besluit het om ’n blaaskans te vat. Supra Familias, hulle eie platemaatskappy, is gedurende dieselfde tyd gestig. Die band bestaan tans uit Hunter Kennedy (sanger, liedjieskrywer en baskitaar), Pierre Greeff (sanger, liedjieskrywer, bestuurder en akoestiese kitaar) en Frederick den Hartog (hoofkitaarspeler). Sheldon Yoko het onlangs by hulle aangesluit as dromspeler. Oor waar die groep se naam vandaan kom, sê hulle:

“Ons wou byvoorbaat ’n naam kry wat niemand sou vervreem nie en eerder sal laat lekker voel. Dit is ook ’n verwysing na die plek waar ons grootgeword het ... Bellville en Durbanville se heuwels.”

Daar is 18 snitte op die album en hulle het met verskeie ander kunstenaars saamgewerk, onder andere JR, Hiram Koopman en Valiant Swart.

Pieter Cloete het met Hunter en Pierre gesels oor hulle Afrikaans en die nuwe album.

Kyk hier ...

““Ek sou nie in ‘n ander taal wou skryf nie ... ek skryf in Afrikaans want dis so ‘n nuwe taal vir my… daar is baie goed nog nie gesê nie ...”

- Afrikaans is vir Bouwer Bosch ‘n ontdekkingsreis.

Van die tennisbaan tot op die musiekverhoog

Bouwer was ‘n provinsiale tennisspeler en sy droom het skielik rigting verander. Hy vertel vir Pieter Cloete hoe sy loopbaan begin het ... ‘n kerkmusiekgroep, ‘n lening by die bank ... op die regte tyd op die regte plek ... en tienduisend ure.

Hy sê hy glo in gee en sy gemeenskapsorganisasie en handelsmerk, Liefde Wen, is in 2006 gestig. Gaan loer hier op sy facebookblad of besoek www.liefdewen.co.za

Bouwer is vir ‘n SAMA benoem vir Straatligkinders en in 2012 het hy die Ghoema-toekenning vir Beste Nuweling van die Jaar, ontvang. Sy splinternuwe musiekvideo, Pleidooi, is nou beskikbaar.

Kyk hier ...

“Ek droom in Afrikaans… ek skryf in Afrikaans…
ek druk my maar nog steeds die maklikste uit in Afrikaans.”

- So vertel Karin Hougaard in ‘n onlangse onderhoud met Pieter Cloete.

Karin is tans in Suid-Afrika vir ‘n paar optredes en om aan ‘n nuwe album te werk.

Ondanks haar passie vir kuns en musiek meen Karin sy het nog altyd die fantasie gehad om medies te studeer.

Op 18-jarige ouderdom het Karin reeds ‘n platekontrak geteken. Retrospektief sê sy: “… dinge het gebeur soos dit moes… maar aan die anderkant, as ek ‘n keuse kon hê, sou ek graag my debuut wou maak met my album, Bly, wat ek in 1993 vrygestel het… Bly was vir my ‘n waterskeiding in terme van waar ek begin verstand kry het en waar ek mense namens my laat dink het. Bly is die eerste album waar ek aktief geskryf het, waar my eie musiek baie meer prominent was as byvoorbeeld Eerste afspraak en HerontmoetingBly was die eerste album waar my identiteit as Karin na vore gekom het.”

Karin tree op 27 April 2017 by die Suidoosterfees in duet saam met Coenie de Villiers op. Sy is ook op 29 April by die Drostdyteater in Stellenbosch saam met Jaconell Mouton.

Karin woon tans in Amerika, maar kom kuier gereeld in Suid-Afrika. Besoek www.karinhougaard.com vir meer.

Pieter Cloete het met haar gesels oor haar loopbaan. 

“Dit is vir my verskriklik nuut om in Afrikaans te sing ... sing is sing, maar om in jou hartstaal te skryf ... dit is interessant. Dit voel vir my vars en nuut en ek hoop dit word so ervaar ... nou raak dit moeiliker om in Engels te skryf ... dit voel soos ‘n cliché ...”

- Arno Carstens

 

So praat Arno Carstens, die ‘tydlose wonder’, wat gehore al twee dekades lank aan sy voete het, oor sy Nuwe-Afrikaanse album, Die aandblom 13.

Snitte soos, Siele loop sielloos, Chemikalieë, Bottel sonder prop, Ontwaak en Bonatuurlik, getuig van ‘n album wat nie “sommer-net” aanmekaargeflans is nie, maar sorgvuldig uit woord en melodie geweef is om jou diepste wese aan te gryp.

Die aandblom 13 is ‘n album waar Carstens in sy hartstaal skilder – ‘n album uniek en enig in sy soort, eg, op die man af, onapologeties, sielsdiep…

Hy is ’n Platinumkunstenaar, liedjieskrywer en kunstenaar. Met reeds 13 albums op sy kerfstok; vyf as hoofsanger van `Springbok Nude Girls`, ses as solo-kunstenaar, een wat deel was van `n Elektronika- projek `Bhelltower` en in 2016 sy eerste Afrikaans solo-album en menige toekennings. Hy spog met meer as 20 Top10-treffers, 5 SAMA’s en onlangs `n Bok Radio-toekenning vir Liedjie van die jaar 2016 met sy treffer Ontwaak. Dié video is meer as 100 000 keer gekyk op Youtube. Dit is duidelik, Die Aandblom 13 is een van die hoogtepunte van 2016 en kom in aanmerking vir talle toekennings vanjaar.

Daar is 13 snitte op die album waar hy onbeskaamd, reguit en met regte-wêreld oë gesels oor persepsies, verhouding, uitdagings, bewussyn, hoop, liefde en verandering

Pieter Cloete het met hom gesels oor hierdie hoogtepunt in sy loopbaan. Wat inspireer hom? 

"…behalwe dat ek Afrikaans sing, is ek nog steeds Suid-Afrikaans; ek staan nog steeds op vir elke liewe kultuur en taal in Suid-Afrika…ek dink in Afrikaans en partykeer droom ek in Sotho, partykeer moet ek eintlik dink in watter taal ek gedink het …"

- Refentse

Almal ken teen dié tyd al Refentse se storie van hoe hy deur Cecilia Kruger Marchionna “ontdek” is op ’n dag in 2015. Dit was in Vereeniging – sommer op die sypaadjie voor sy huis. Sy het ‘n video van hom geneem en dit op sosiale media gelaai en nouja ... van toe af is daar geen keer aan hierdie talentvolle musikant nie. Nadat hy dieselfde jaar by die KKNK in Oudtshoorn deur Karen Zoid raakgesien is en sy hom genooi het om die verhoog met haar te deel en hy so ’n platekontrak losgeslaan het, het Refentse nog net groter hoogtes bereik. “Twee jaar later kan ek dit steeds nie glo nie, “ sê Refentse.

Refentse was in ‘n Afrikaanse laerskool, Unitaspark en daar het hy Afrikaans leer praat. Sy ouers kan glad nie Afrikaans praat nie en het Afrikaanse liedjies vir hom gespeel toe hy klein was. Refentse sê sy ouers was aan die begin huiwerig oor sy loopbaankeuse, maar deesdae probeer hulle elke konsert van hom bywoon en ondersteun hulle hom ten volle.

Sy eerste CD, My hart bly in ‘n taal, het dubbel-platinum status bereik in minder as ’n jaar en hy beoog om April/Mei 2017 ’n nuwe album uit te bring met liedjies wat hy self geskryf het – liedjies wat gaan oor die liefde, geluk, hoop en vrede.

Hierdie jongman met die mooi glimlag is passievol oor Afrikaans en sê solank as wat sy musiek mense gelukkig maak, is hy ook gelukkig.

Pieter Cloete gesels met Refentse Morake.

"…musiek is daar om jou te laat onthou, maar daar is ook musiek wat ’n mens moet laat vergeet, so daar is ruimte vir alles [verwys na alle musiekgenres]…"

- Andries Bezuidenhout

Andries Bezuidenhout onderskei homself op die gebied van skrywer, digter, skilder, musikant en akademikus. Hy is veral bekend as die voormalige hoofsanger van die ontbinde Brixton Moord en Roof Orkes. As solokunstenaar stel hy in 2003 die CD, Insomniak se droomalmanak (2003) vry en in 2009 volg hy dit op met Bleek Berus. Saam met die Brixton Roof en Moord Orkes het hy ook die CD’s Spergebied (2002), Terug in skubbe (2004) en die beperkte uitgawe Slaaptyd in die suburbs in 2015, vrygestel. Sy derde solo-album word eersdaags by Riku Lätti opgeneem.

Andries tree dikwels op as musikant en is gereeld te sien by kunstefeeste. Hy lees ook soms sy eie gedigte voor, waarvan sommige vergesel word van musiek. As skilder fokus hy veral op Suid-Afrikaanse landskappe. Andries sê dat die een tema wat sy musiek, gedigte en skilderwerk bind, die veranderende landskappe en identiteit is ... die soeke na ’n manier van tuiskoms.

Hy is getroud met Irma du Plessis, dogter van die bekende liedjieskrywer en sanger Koos du Plessis.

Meer oor die Brixton Moord en Roof Orkes

Die Brixton Moord en Roof Orkes was 'n Afrikaanse rockorkes van Johannesburg. Die groep is vernoem na die eertydse "Brixton Moord en Roof"-polisie-eenheid. Dit was dan ook die rede waarom die mense dikwels gedink het dat hierdie groep die amptelike blaasorkes van die polisie was. Ockert "Moord" Greeff (trom) het die orkes in 1999 saam met Andries "Roof" Bezuidenhout (stem en kitaar) gestig toe hulle by die Abelarde Sanction, 'n kroeg in Brixton, begin optree het. Kort daarna het Steve "Brixton" Savage as baskitaarspeler by die orkes aangesluit. Hy het na Zambië verhuis en is deur Drikus "Brixton" Barnard vervang. In 2002 het Kapelaan Pat Plank as kitaarspeler aangesluit.

In Augustus 2007 het “Moord” Greeff na Montreal in Kanada verhuis en is hy vervang deur Andrew Evans, wat toe, in die tradisie van die orkes, as “Moord” Evans bekend was.
Musikaal het die groep se styl gewissel tussen melancholiese folk-klanke van liedjies soos "Asyn" en "Geraamtes in jou kas", tot die harde rock van "Road Rage", "Spoed" en "Brixton-dae”. Drikus “Brixton” Barnard is in 2015 aan breinkanker oorlede.

Pieter Cloete gesels met Andries Bezuidenhout, voorheen van die groep Brixton Moord en Roof Orkes.

Lees meer 

Meer oor Andries Bezuidenhout hier.

 

".Ons het onmiddellik dieselfde taal gepraat .... en dis die punt: die Wasgoedlyn span ’n lyn en kry ’n klomp mense om hul stukkies op te hang ... ek het sommer geweet Refentse en HemelBesem gaan ’n ekstra soetigheid aan die aand verleen."

- Riku Lätti

Pop, kletsrym en alternatief op een verhoog ... dit is waarop feesgangers tydens die US Woordfees by die Bloekomhoek-venue getrakteer is. Musiekgrense is verskuif toe Riku Lätti (die Wasgoedlyn), Refentse Morake en HemelBesem op een verhoog opgetree het. Die spontane en geïmproviseerde konsert waar die verskillende genres saamgekom het was magies – musiek vir die ore – en beslis ’n eerste. Veral Refentse en Riku se vertolking van Johannes Kerkorrel se aangrypende “Gee jou hart vir Hillbrow” het diep geraak. In Refentse se woorde: “Dit was ’n asemrowende gevoel – hierdie ‘colab’ het my aand gemaak.” En soos altyd het HemelBesem verras en die kollig gesteel met sy raak en uit die vuis uit kletsrymelary.

Pieter Cloete gesels met Riku Lätti, Hemelbesem en Refentse en ander by die US Woordfees waar daar musiekgrense verbreek is toe die drie spontaan saam opgetree het – ’n eerste – en Afrikaans.com was daar.

 

Meer oor Die Wasgoedlyn

’n Paar jaar gelede het Riku Lätti verskillende musiekkunstenaars, bekend en minder bekend, oraloor Suid-Afrika begin opneem wat uiteindelik gelei het tot die samestelling van die grensverskuiwende Wasgoedlyn-CD. Wasgoedlyn verken Afrikaanse musiek in hul soeke na die wortels en wye karakter van Afrikaanse musiek – van agterplaas tot agterplaas ... van wasgoedlyn tot wasgoedlyn.

Meer oor Refentse

Refentse Morake van Vereeniging se hartstaal is Afrikaans. Hy is in 2015 “ontdek” en nadat Karen Zoid hom op ’n straathoek by die KKNK in Oudtshoorn raakgesien het en hom genooi het om saam met haar te sing en hy so ‘n platekontrak losgeslaan het, het hy nog net van krag tot krag gegaan. Sy eerste CD was My hart bly in ‘n taal – en het trippel goue status bereik. Sy tweede CD word binnekort uitgereik.

Meer oor HemelBesem

Die Kaapse hip-hop-kunstenaar HemelBesem (Simon Witbooi) is ’n gewilde kletsrymer, skrywer, digter, aktivis en motiveringspreker met ’n passie vir Afrikaans. Hy het reeds nege albums die lig laat sien. Sy boek: God praat Afrikaans is by die US Woordfees bekendgestel. In die boek deel hy sy kommentaar oor Afrikaans (idiome, lirieke, uitdrukkings) en is daar ook uittreksels van sy lewe.

Kaleidoskoop het ’n kleurvolle en positiewe uitkyk op die lewe

"...dit wat uit jou pen uitkom, is ’n groot verantwoordelikheid, want dit is wat op ’n klomp mense se ore val …"

Die Afrikaanse musiekgroep, Kaleidoskoop is reeds agt jaar lank saam – en vertel dit is nie altyd maklik nie, maar hul beskou dit as ’n roeping en verantwoordelikheid en daarom maak hul seker dit werk. Soos wat deur die naam weerspieël word, laat Kaleidoskoop jou met hul musiek “anders na die kleure van liefde, menswees en die lewe kyk”. Hulle sê ook dat die inspirasie vir hul lirieke kom van “mooi verhoudings, mense en situasies”. Of hul eers die musiek en dan die lirieke skryf? Jouba en Anique sê die proses gebeur maar so saam-saam, maar soos wat die woorde kom, verander die musiek ook weer. Vir hulle is dit ’n geleidelike proses na gelang hul nog lewenservaring opdoen. Jouba sê ook dat hulle agterkom mense wil musiek met inhoud hê – wat ’n boodskap oordra, opreg en werklik is – en dit is waarna Kaleidoskoop streef.

Die groep bestaan uit Anique Jordaan (hoofsanger en klawerbordspeler) en Jouba Jordaan (kitaar en agtergrondstem). ’n Hoogtepunt van hul loopbaan was hul nominasie vir Beste musiekvideo by die 2015 Ghoema-toekennings. Hulle jongste oorspronklike album, Gunsteling Seisoen, word in Maart vrygestel.

Pieter Cloete gesels met die groep, Kaleidoskoop. 

Saarkie rock ’n roll in Afrikaans

Dié drie talentvolle en energieke meisies het ’n ongelooflike passie vir musiek en maak iets uniek en interessant van die rock-genre en kommersiële musiek in Afrikaans. Die groep bestaan uit Adèle Fouché – hoofsanger, kitaar en mondfluitjie; Lila Botha op die dromme en ook agtergrondstem en Erika Pretorius – baskitaar, klawerbord en agtergrondstem.

 

 “…dis moeilik om rock-musiek te maak in Afrikaans, maar vir ons werk dit…"

aldus die Afrikaanse groep, Saarkie.

Saarkie gee aan elke stukkie musiek wat hul skryf en uitvoer ’n eiesoortige en kenmerkende klank en styl en met hul uitstekende dinamika op die verhoog, kry gehore net nie genoeg nie en rock oud en jonk lustig saam wanneer hierdie drie gegradueerde en professionele musikante op die verhoog klim.

Van die hoogtepunte uit hul loopbaan tot dusvêr sluit die volgende in: Hulle verskyn gereeld in vooraanstaande publikasies soos Beeld, Vrouekeur, Huisgenoot, Kampus Beeld, Die Laevelder en Die Burger en was al te sien op ‘Dis Hoe Dit Is Met Steve’, MK Live, kykNET Jam, e.tv se Musiek-Musiek en LekkerTV. Radio-onderhoude word ook op ’n gereelde basis met Saarkie gedoen wat daartoe gelei het dat hulle naam tot so ver as Nieu-Seeland gehoor word.

Die groep spog met talle nominasies, onder andere vir Beste Rock-album by die 2016 SAMA-toekennings, asook nominasies in die kategorieë: Beste Rock-album van die jaar, Beste album deur ’n groep of duo en Groep van die jaar by die jongste Ghoema-toekennings.

Pieter Cloete gesels met die Afrikaanse rock ’n roll-groep, Saarkie.  

 

Jannie du Toit en Thean Kotze, gesels oor hul passievolle vertoning:
Kiekies - ’n huldeblyk aan Lucas Maree. (Onderhoud deur Pieter Cloete)!

Met Kiekies – Lucas se liedjies, herontdek die ervare Jannie du Toit en Thean Kotze (lid van Ses Snare) die musiek en lewe van hul gewaardeerde vriend en kollega, Lucas Maree. Die gehoor ervaar opnuut hierdie legende van Afrikaanse musiek se verbeeldingryke kyk na die lewe en kan hul deur die persoonlike anekdotes iets beleef van dié uitsonderlike kunstenaar se menswees en kreatiewe gees. Met hul afgeronde kitaarspel, harmonieë en betekenisvolle teks, soortgelyk aan Lucas se folk-musiek, neem Jannie en Thean die gehoor op ’n reis deur die wonderlike landskap van verhale, ideale, wysheid en drome wat Lucas daargestel het.

Lucas Maree
Lucas Maree het vir die grootste gedeelte van sy loopbaan Engelse musiek in kroeë en restaurante in en om Pretoria en Johannesburg gespeel, onder andere "After dark" en "Fonteine Pub ‘n Grill". Hy begin in 1981 in Afrikaans skryf, nadat hy by Jannie du Toit se huiskonserte 'n draai gaan maak het, en onder andere vir Coenie de Villiers daar hoor sing het. Lucas, Jannie en Coenie was groot vriende en het dikwels saam opgetree.

In 1998 ontvang Lucas ’n SAMA-toekenning vir Beste Afrikaanse album. Hy tree in 2001 op by die eerste UKKASIE-kunstefees in Londen wat by die Wembley-stadion gehou is en was ook een van die min Afrikaanse kunstenaars om by die Royal Albert Hall in Londen op te tree. Lucas was ook in 2005 in die rolprent, Ouma se slim kind, te sien.

 Jannie du Toit & Thean Kotze gesels oor Lucas Maree.  

 

“…die effek wat hy op jou gehad het, was die feit dat hy net met sy kitaar en sy lirieke jou kon wegvat in sy wêreld in…" – Jannie du Toit

 

Die Ses snare
Thean is deel van die groep Die Ses Snare. Lees meer ... 

Jannie du Toit
Jannie du Toit is 'n liedjieskywer, internasionale sanger en pionier in die ontwikkeling van Afrikaanse musiek.

Sedert sy beginjare as sanger op die eerste toetsuitsendings van SATV in 1975 en as lid van die Afrikaanse folkgroep TRILOGIE, het die een hoogtepunt na die ander gevolg. Die inpalm van die "Honorary Mention Prize" in die American Song Festival, het hierdie suksesvolle musiekreis behoorlik laat vlam vat. Lees meer ...

Optredes van Kiekies: Lucas se liedjies

Dinsdag 14 Feb.: Pierneefteater (Jannie en Thean Kotze)
Droomvrou vir Valentynsdag – die liedjies van Lucas Maree
012 329 0709 of info@pierneefteater.co.za

Woensdag 29 Maart: Pierneefteater (Jannie en Thean Kotze)
Kiekies – Lucas se liedjies
012 329 0709 of info@pierneefteater.co.za

Vrydag 19 Mei: Tarentaalteater, Rustenburg (Jannie en Thean Kotze)
Kiekies – Lucas se liedjies
www.tarentaalteater.co.za
Navrae: Michele 079 341 3420

Jannie du Toit en Thean Kotze

 

KykNET - Legendes
Kyk op Donderdae om 20:30 na Legendes van Afrikaanse Musiek op KykNET, kanaal 144. Kykers kry ’n kykie na die lewens en loopbane van musieklegendes – van Bles Bridges tot Sonja Herholdt.

Herhalings word Vrydae om 13:30 en 20:00, Saterdae om 14:30, Sondae om 10:00 en 21:30 en Maandae om 10:30 uitgesaai. http://kyknet.dstv.com/2016/12/12/hoogtepunte-op-kyknet-januarie/

 

Touch of Class – In ’n klas van hul eie

Touch of Class maak nou al langer as 31 jaar musiek – beslis ‘n groep in ’n klas van hul eie! Die oorspronklike lede was Deon van der Merwe (links) en Ronell Erasmus, maar na 23 jaar het Ronell in 2011 besluit om die groep te verlaat om op haar gospelmusiek te fokus. Ruhan du Toit (regs) het toe dieselfde jaar by die groep aangesluit. 

Touch of Class het sedert hul ontstaan reeds 19 albums uitgereik. Hulle album “Ek en my meisie” wat gedurende 1992 vrygestel is, het goue status bereik met 25 000 verkope en voortgegaan om twee jaar later platinum status te bereik. Verskeie goue albums het gevolg, byvoorbeeld “Bamboesbos”, “Stamp daai bene” en “Moenie worrie nie”. Deon van der Merwe se kitaaralbums “Kitaarboogie”, “Treffers van die Shadows”, “Crying guitar” en “’n Huldeblyk aan Ricardo Bornman” het ook goue status bereik. Vir laasgenoemde huldeblyk-album het hy ook ’n SAMA-toekenning ingepalm.

Waaraan skryf hul hul sukses toe? 
"…toewyding, totale deursettingsvermoë en om die groter prentjie in ag te neem… Niemand bly groot nie…”

Pieter Cloete het gesels met Touch of Class oor hul dinamika as groep en wat dit verg om so lank as groep bymekaar te bly.  

 

Gert van Tonder – ‘n Nuwe CD in die pyplyn 

Gert van Tonder se reuse bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf strek oor dekades. Saam met sy sangmaat Sias Reinecke het hy in die sestiger- en sewentigerjare liedjies soos “Die Padda wou gaan opsit” ’n deel van die Afrikaanse kultuurerfenis gemaak. Gert is steeds aan die sing en binnekort verskyn ’n splinternuwe CD waarop hy benewens liedjies soos Stef Kruger se “Die Pennies op die Spoor” en Koos du Plessis se “Sprokie vir ’n Stadskind”, ook ’n paar van sy eie liedjies sing.

Wie kan die liedjie Sproetjies vergeet? Gert van Tonder vertel hoe hierdie liedjie amper in die snippermandjie beland het!

Hy het onlangs saam met Snotkop nuwe lewe aan die “Die Padda wou gaan opsit” gegee.  

Een van die snitte op die nuwe album, “Ons land is steeds die beste”, is ’n getuigskrif dat Gert se hart na al die jare, steeds warm vir Afrikaans klop. Nog ‘n liedjie op die album is “Butterfly” wat reeds beskikbaar is op Itunes.

Gert vertel vir Pieter Cloete waarom hy Afrikaans koester.

 

Martin Bester - Ewe tuis agter die mikrofoon en in die kollig

Baie mense herken die naam. Martin Bester – die radio- en TV-aanbieder. Einste. Maar na dese sal die naam ook in die Afrikaanse musieklandskap ‘n impak begin maak met die uitreiking van sy eerste Afrikaanse album, Vir die eerste keer, boonop as solo-kunstenaar. Hy sê dit is tyd. “Daar is definitief ’n kopskuif in Afrikaanse musiek ... meer ruimte vir verskillende style. My album het ‘n vars klank. My hart is daarin en ek hoop mense hou daarvan.”

Hy sê die mark laat hom nie voorskryf nie. “Ek glo in my musiek en hou duim vas mense geniet dit ... wie weet, dit word dalk ’n loopbaan.”

Kitsfeite: 

• Hy is sedert 1991 in die radiowese.
• Sy eerste radioprogram was as aanbieder op kampusradio by die destydse Universiteit van Port Elizabeth (nou NMMU).
• Hy is ook ’n televisieaanbieder en akteur.
• Hy is die hoofsanger van die Engelse alternatiewe groep Kinky Robot en het in 2010 bekendheid verwerf met die liedjie Hobie Beach.
• Sy gunstelingliedjie op sy eerste Afrikaanse album is Pringlebaai.
• Martin Bester is tans die aanbieder van die middagprogram by Jacaranda FM.

 

 

Die tyd voor en ’n tyd ná Anton Goosen

Die musieklegende Anton Goosen, oftewel die Liedjieboer, bekend vir treffers soos Blommetjie gedenk aan my, Trompie en Geelperske reën, is op 21 November deur die FAK vereer vir sy lewenslange bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek.

Hy het 'n lang pad gestap vandat hy as student per trein gereis het van Heidelberg af, waar hy studeer het, na Oos-Londen om 'n 15-minute set te doen by 'n plaaslike verskeidenheidskonsert. Die jong Anton Goosen het hoofsaaklik Engelse covers gespeel en dit is nie bekend of enigeen in die gehoor besef het watter impak Anton op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf in die algemeen en meer spesifiek die Afrikaanse musiekbedryf gaan hê nie.Daar was sekerlik skeptici. Reeds in standerd 9 het 'n skoolsielkundige vir hom gesê dat daar geen toekoms vir hom in musiek is nie. Hy gesels met Pieter Cloete oor sy musiek, medekunstenaars, sy liedjies en sy deel sy wêreld.

 

Boet Pretorius - Baanbreker vir Afrikaanse musiek

Boet (ook bekend as Dimpel) Pretorius, ‘n pionier wat jare gelede baanbrekerswerk op die musiekfront – veral wat Afrikaanse musiek betref – gedoen en diep spore getrap het. Boet is ‘n kranige musikant, ‘n musiekregisseur, -vervaardiger en -verwerker en vertel van die kunstenaars wat hy in hul musiekloopbaan gehelp het, hoe goeie Afrikaanse musiek ontplof het en wat hy vermag het. Van die grootste Afrikaanse kunstenaars is deur sy hande. Die Briels, Gé Korsten, Min Shaw, Lance James, Groep 2, Carike Keuzenkamp – meer as 130 goue plate het die lig gesien by Decibel, sy platemaatskappy wat hy saam met André Viljoen en Retief van Rooyen (Annelie van Rooyen se pa) begin het. Sy produksies was lengendaries. Pieter Cloete het met hom gesels.

 

Lochner de Kock maak mense gelukkig

Of jy nou musiek maak, mense vermaak, stories vertel en skryf of ‘n lekker bord kos voorsit ... jy maak mense gelukkig! Dit is Lochner de Kock se passie. Hy dien mense. As daar nou iemand is wat woeker met sy talente is dit hierdie musikant, akteur, skrywer, sjef en mens-mens.

Hy woon saam met Christine Pretorius en hulle dogter Cara in Melville in Johannesburg. Pieter Cloete het met hom gesels oor sy passie en liefde vir sy werk en sy mense.

Lambertus Lochner de Kock is in 1950 gebore en het sy eerste jare in Europa deurgebring waarna hy sy skoolloopbaan in Pretoria voortgesit het. Min mense weet dat hy homself aanvanklik as liggaamlike opvoeding-onderwyser bekwaam het aan die Universiteit Stellenbosch en WP-kleure in gimnastiek verwerf het. Hierna was hy ‘n jaar lank ‘n sweefstokarties by die Billy Smart Sirkus in Londen voordat hy homself op drama begin toespits het. Sy eerste tree na Suid-Afrikaanse roem was toe hy as mede-aanbieder van Wielie Walie geliefd geraak het. Hy was die stem van Sarel Seemonster. Daarna maak hy naam as kontinuïteitsaanbieder op televisie, as sanger, koskenner, akteur en skrywer. Hy verdien ook sy plek onder die voorste name as musiekregisseur en sy verhoogvennootskap met Richard van der Westhuizen sedert 1987 vestig hom as een van Suid-Afrika se gewildste sangers. Aanvanklik tree hulle op as duet, maar neem dan die gesamentlike naam Vuurklip aan. Saam het hulle verskeie CD’s gemaak, waaronder Tussen treine in 1991 wat goue status verwerf het.

Lochner behartig die gereelde kosrubriek in Beeld, Kok in die sop en lewer gereeld kospraatjies oor die radio. Hy bied ook sy eie kosprogramme Allegaartjietyd en Kyk-innie-pot op KykNET aan.

Hoogtepunte van sy akteursloopbaan sluit in films soos ʼn Pot vol winter, Journey to the center of the earth en Alien from L.A. en op televisie tree hy onder andere op in Vyfster, Die voortreflike familie Smit, Honeytown, Maak ʼn las en Dryfsand. Hy is ook betrokke met die oorklanking en opneem van radio- en televisieflitse en speel gereeld in radiodramas.

Lochner is ook bekend as ’n sjef en het verskeie Suid-Afrikaanse kookboeke geskryf, waaronder sy Cordon boer-kosboek Die Cordon Boer-reeks is onlangs uitgebrei om Die Cordon Boer-soute en -souse in te sluit.

Hy het reeds op skool begin gedigte skryf en van sy gedigte, sketse en kortverhale het in die tydskrifte Graffier, Stet en Standpunte verskyn. Hy skryf ook fantasie-kinderboeke oor Matyn die stermannetjie en Kelin die dwergmannetjie. Sy kinderverhale Die dag toe Danser Vuurman sy kop verloor het en Adami is opgeneem in die versamelbundel Goue fluit, my storie is uit onder redaksie van Linda Rode. Hy vertaal ook verskeie kinderverhale van Neil Morris in Afrikaans.

  Lees meer ...

 

Beeskraal ‘rock’ raak

Rock, jazz, country ... Beeskraal is ewe gemaklik, vars en vreesloos in elke genre wat hierdie passievolle ouens aanpak. Definitief een van Suid-Afrika se bekendste ‘rock’-groepe en hulle maak nou gereed vir die groot 21! Pieter Cloete het met Charlie Smidt gesels oor die groep se loopbaan en toekomsplanne.

Beeskraal was die eerste Suid-Afrikaanse groep wat by die Ukkasie-fees in Londen opgetree het en maak reeds die afgelope 18 jaar musiek. Met nege albums agter die blad en ’n tiende op pad is dit duidelik dat hul aanvanklike ‘nismark’ heelwat momentum gekry het en dat die groep uitstaan vir die groei en ontwikkeling in hul musiek. Die groep het talle toekennings verwerf. Hulle ontvang die VONK tydskrif Toekenning vir Beste Groep en Album, die ATKV ere-toekenning vir hul bydrae en bevordering van Afrikaanse Rock Musiek, Geraas (SABC 2) Musiek Toekenning vir Beste Rock Groep, Kanna Toekenning (KKNK) vir Beste Afrikaanse Groep en die Huisgenoot Toekening vir beste rock groep.

Beeskraal bestaan uit vier lede, Charlie Smidt, Kevin Hurter, Terence van Wyk en Wouter Reyneke. Charles is die sanger, liedjieskrywer en kitaarspeler. Kevin speel leierkitaar en sing agtergrond. Terence speel tromme en Wouter baskitaar. Al vier is geskoolde musikante wat hulle studies by die eertydse Technikon Pretoria voltooi het.

 

Lance James – Dankie, 'Big Daddy'!

Die legendariese Lance James is reeds meer as 50 jaar op die verhoog en na meer as 70 albums is hy steeds in aanvraag. Met sy kenmerkende cowboy-hoed en sy country-liedjies verower hy steeds harte en hy is tans besig om nog ’n Afrikaanse album op te neem. Hy is bekend as Big Daddy in die musiekindustrie en hy gesels met Pieter Cloete oor sy liefde vir Afrikaans, Afrikaanse mense en sy liedjie Dankie – die liedjie het nie net sy lewe verander nie, maar verwoord ook sy hart en sy lewensuitkyk. In 2014 het ’n boek oor sy lewe verskyn. Keep it Country at the show deur Bill Jones. 

Lance James is aangewys as ‘n Suid-Afrikaanse ikoon deur die ATKV vir sy lewenslange bydrae in die musiekwêreld maar ook vir sy versoeningsrol tussen Engels- en Afrikaanssprekende mense. Hy is gebore op 18 Julie 1938. Hy is seker een van ons bekendste country-sangers en radio-omroepers (Springbok Radio, 1954-1985). Van sy treffers sluit in Dankie, Vicki en Ahoy, Madagaskar Ahoy!. Tydens Huisgenoot se 2009-Skouspel is hy (saam met nege ander sangers) vereer vir hul lewenslange bydrae tot Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiek.

 

Klikkerlanders peper jou met pret!

Klikkerland is 'n nuwe Afrikaanse kindervermaaklikheidsreeks nou te sien elke oggend, van Maandag tot Vrydag, op kykNET NOU!, kanaal 146.

Hierdie nimlike karakters is lewe gegee deur Carina Beukes en Marinda Fourie van QMC Creative in George. Klikkerland was te sien by die ATKV se eerste Moedertaalfees in Centurion en Pieter Cloete het met die talentvolle skeppers gesels. Hulle het hul talent en passie saamgespan en hul stories is voorwaar gepeper met pret.

Hulle sê daar is ‘n behoefte aan kwaliteit Afrikaanse kindervermaak. Carina vertel dit was ‘n lang, maar lekker pad tot hier. Hulle het eers van fees tot fees getoer om te sien of hul geliefde karakters ook die gehoor betower waarna hul ‘n drie-stel DVD-reeks ontwikkel het wat nou in musiekwinkels regoor Suid-Afrika beskikbaar is.

Al die liedjies en stories is oorspronklik deur Carina en Marinda geskryf. Besoek Klikkerland se webtuiste www.klikkerland.co.za of deel in die pret en besoek die Klikkerland YouTube-kanaal: https://www.youtube.com/watch?v=UNVT5wD_dNU
Klikkerland het ook ‘n lekker lewendige Facebookblad met al die nuutste nuus: https://www.facebook.com/klikkerland Lees meer oor Klikkerland hier: http://www.afrikaans.com/news-headlines/algemeen/klikkerland

 

 

Brian Cloete se soet klank

“Dis die natuur se stilte wat my maak wie ek is.” So praat die ‘outjie’ van Namakwaland, Brian Cloete oor sy grootwordplek. Net buite Springbok in die Noord-Kaap is ’n klein koper myndorp Nababeep. Dis hier, in die hartjie van die Namakhoi waar die Wasgoedlyn se Riku Lätti die jong man en sy soet klank ontdek het.

Brian Cloete se liedjies vertel ’n storie ... sy mense se storie ... sy storie. As jy jou oë toemaak en na sy liedjies luister, word jy weggevoer na sy plek en sy mense en jy hoor iets uit dié wêreld ... jy ruik die blomme, jy sien die landskap.

Hy sê sy ma het regdeur haar swangerskap vir hom gesing en toe al vir hom leer kitaar speel. Op sesjarige ouderdom het hy sy eie liedjies begin speel en sing en hy het begin gedigte en lirieke skryf op 12. “Musiek loop diep in my are, ek sing in my taal. Ek het ‘n storie om te vertel in my taal.”

Hy sê hy is maar ’n gewone ‘outjie’, maar Pieter Cloete meen daar lê nog groot dinge voor vir die talentvolle kunstenaar. Brian Cloete deel sy storie met Afrikaans.com en sing een van sy liedjies, Soos blomme. 

 

Jak de Priester – die eerlike pa

Wat het ’n nougat met ’n slang ingemeen? Twee trefferliedjies natuurlik! Jak de Priester gesels met Pieter Cloete oor sy veertien jaar in die musiekbedryf. Hy is in 2002 as wenner van die ATKV Crescendo-sangkompetisie aangewys wat die begin was van sy suksesvolle loopbaan. Jak is ook die skrywer en sanger van die temalied van kykNET se sepie Binnelanders. Een van die mooiste woorde wat hy al ooit gehoor het was uit die pen van Johannes Kerkorrel, luister na die onderhoud om uit te vind hoekom diè woorde so baie vir hom beteken.

 

 

Willim Welsyn – sy klankbaan vol drome.

Die Afrikaanse rocker en skrywer Willim Welsyn het al ses albums uitgereik, drie solo-albums, twee saam met sy groep Die Sunrise Toffies en sy onlangse Engelse album Shunt onder die naam William Welfare. Hy is al verskeie kere vir SAMA-toekennings benoem en het ’n Huisgenoot Tempo ontvang vir sy album Maanplaas. Hy is deesdae amper meer bekend vir sy aanlyn “WAT” podcasts waar hy indiepte onderhoude met ander legendariese musikante en kunstenaars in sy ‘garage’ in Bellville voer.

Pieter Cloete gesels het hom raakgeloop en gesels. Willim beskryf sy musiek as lekker olierig, vuil maar gesonde Afrikaanse Rock ‘n Roll. “Dink, Koos Kombuis gemeng met Led Zeppelin”. Hy is oorspronklik van Ladismith in die Wes-Kaap. 

Luister na sy Podcast hier.

Leer hom beter ken by www.WillimWelsyn.com

 

ADAM het “’n broek vol planne”

ADAM se nuwe album Hoogtevrees is Saterdag, 17 September vrygestel. Pieter Cloete was daar en het met die manne gesels oor hul passie vir Afrikaans, hul pad tot hier, hul klank en mark. Na drie suksesvolle albums en ‘n kortspeler saam met Daniel Baron, is Hoogtevrees vir die popgroep ADAM (Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Kyle Grant) ‘n hoogtepunt. Die titelsnit van die album is reeds ‘n paar weke gelede uitgereik en blink uit op trefferparades op talle radiostasies landswyd. Die meeste mense sal kan identifiseer met die liedjie Hoogtevrees, vertel Hugo Ludik wat dit saam met sy sangmaat Reynardt Hugo geskryf het. Dit gaan oor ‘n romantiese verhouding wat by‘n kruispad kom en jy wonder: wat nou? “Dikwels sal ‘n mens dan die verhouding in twyfel trek en wonder of dit gaan werk of nie. Dit is dan dat jy soms maar net jou oë moet toeknyp en‘n geloofsprong maak. Jy moet van die verlede vergeet en op‘n skoon bladsy begin” sê Hugo. Hy sê Hoogtevrees is ‘n polsende popliedjie met ‘n vinnige tempo waarop jy lekker sal kan dans.

Kyk hier

Besoek hul facebookblad hier

#adamgroep

 Hier is die video:

 

 

André Schwartz – Afrikaans is ‘hip’

André Schwartz is een van Suid-Afrika se bekendste en gewildste kunstenaars. Hy is veelsydig en is tuis op die verhoog in elke genre asook voor die kamera. Hy maak sy debuut op 14-jarige ouderdom. Sy opleiding is klassiek as sanger en pianis. Hy het 14 solo CD’s op sy kerfstok waarvan meeste goue status bereik het. Sy styl wissel tussen pop, musiekblyspele en ‘Big Band’. Hy skryf baie van sy eie lirieke.

Pieter Cloete het met hom gesels oor sy loopbaan, musiek asook hoe hy Afrikaans in Suid-Afrika sien. Sy gunsteling woord in Afrikaans gaan jou verbaas! André se Afrikaans is ‘kleurvol’ en hy het groot hoop vir die toekoms. Hier gee hy raad aan opkomende kunstenaars oor hoe om jouself te bemark.

 Hier is die video:

 

Akkedis - ‘hardegat’ Afrikaans

Die legendariese rockgroep Akkedis het geen bekendstelling in die Afrikaanse musiekwêreld nodig nie. Hierdie Bolandse-rockers se storie begin vroeg in die Negentigs. Die keerpunt van die Dennis broers se musiekloopbaan was toe Frank Frost, organiseerder van die '96 Hangklip Rockfees, hulle gevra het om op te tree, op voorwaarde dat hulle net oorspronklike Afrikaanse liedjies sing. Dit was die ontstaan van Akkedis. Die groep bestaan nou uit drie lede, AJ Graham op baskitaar, Arthur op lead en Rudolph op dromme. Die naam kom glo van 'n opmerking dat hulle "so platsak soos 'n akkedis op 'n klip is." Hulle het die naam gekies omdat hulle graag eksklusief in Afrikaans wou begin sing en skryf. Akkedis se musiek is 'n mengsel van rock, blues en reggae, met sterk melodië en harmonië. Die musiek spreek van 'n groot liefde vir Afrikaans en die goeie lewe.

Die rock groep het vanjaar hulle sesde album, getiteld, Onder ou Tafelberg, vrygestel. Volgens die tweeling broers, lyk die toekoms vir Afrikaanse rockmusiek blink. Hulle beplan om vanjaar die Internasionale mark te betree met ’n toer na Europa.

 Hier is die video:

 

Rymstoff laat vlinders los

Die nuwe groep, RymStoff (Christoff de Beer en Raymond Ray) gaan beslis aandag trek met hulle eerste enkelsnit, Hartvlinders, wat vandeesweek aan radiostasies landswyd uitgereik is.

Raymond, ‘n regte “rocker” en afkomstig van Rustenburg het in 2003 by Gresham Records aangesluit en die trefferliedjie “Calling” uitgereik. Hy het al die verhoog gedeel met van Suid-Afrika se grootste kunstenaars en het steeds gereeld gehore op hulle voete wanneer hy as hoofsanger in talle van die Barnyard Teaterproduksies optree. Sy vokale vernuf laat toe dat hy liedjies van Bryan Adams tot by Axel Rose kan sing.

Christoff en Raymond se paaie het met die van Hugo Ludik (Stigterslid van ADAM en ook eienaar van Muse Productions) gekruis en Hugo het dadelik die talent raakgesien. Saam het hulle besluit op die naam RymStoff, wat bestaan uit ‘n kombinasie van hul name.

Hier is die video:

 

Liela Groenewald – Haar Afrikaans het vlerke!

“My Afrikaans praat met Afrika.”

Liewer te laat as nooit! Te lank was Liela Groenewald ’n agtergrondsanger en net bekend aan besoekers aan Oppikoppi, feeste en kroeë waar sy haar stem laat hoor het.

Nou staan sy stewig op haar eie bene met haar eerste solo-album, Horizon.

Soos sy in haar eerste lied, “Heading for My Homeground” sê, sy staan op haar eie stukkie grond. Die liedjies op die album gaan oor mense en ondervindings wat haar na aan die hart lê.

Sy was onder meer die agtergrondsanger vir Koos Kombuis.

 Hier is die video:

 

Jackie Lätti – musiek het háár gekies

Sy is kleurvol, geheimsinnig ... en talentvol. Jackie Lätti is deel van die hart van Die Wasgoedlyn, saam met Riku Lätti en die Wasgoedlyners verander hulle die Afrikaanse musieklandskap en maak plek vir skrywers, digters en musikante. Hulle breek grense af. Jackie is ’n akteur en ‘n sanger. Haar mees onlangse uitreiking as die stem agter Churchil Naude se bruin bliksem is verbysterend met haar dramaties vertolking ala Shirley Bassey. Sy is ook ’n skrywer/digter. Dan is sy ‘n stemkunstenaar en radiostem soos gehoor op Wasgoedlyn Volume een asook Jaco Botha se Lulu Lerulu kinder-audioboek wat sy voorlees en talle karakters vertolk. Sy is die matriarg, kostuumkonsultant/garderobemeester van die Wasgoedlyn – die een wat seker maak almal word na omgesien.

 Hier is die video:

 

Sharoney – alles of niks ...

Gedurende 2014 is Sharoney aan die Suid-Afrikaanse publiek bekendgestel met die uitreiking van haar heel eerste enkelsnit Een Keer, geskryf deur Hugo Ludik en Reynardt Hugo van die gewilde groep ADAM. Sommer baie vinnig het hierdie liedjie die trefferparades van radiostasies regoor Suid-Afrika gehaal en vir ’n lang tyd net daar gebly! Haar debuut album, ‘In ons fairytale’, is aan die einde van 2014 uitgereik en is vroeg in 2015 benoem vir twee Ghoema 2015 toekennings! Sy sê sy is ’n gewone meisie wat hou van gewone dinge. “Ek is lief my my land, taal, volk en mense en ek is gelukkig, hier en nou.”

 

 Hier is die video:

Henrico Coetzer wil net sing ...

“Ek is mal oor die lirieke van Soos reën. Dis heeltmal iets anders. Dis nie net ‘n liedjie nie, dis ‘n gedig en vertel ‘n storie. Dit kan vir elkeen wat dit hoor iets anders beteken. Ek wil musiek maak wat mense se harte aanraak,” sê Henrico wat van kleins af hou van dig.

Die treffer is deel van sy tweede CD, “Dis wie ek is…” wat verlede jaar opgeneem is. Buiten Joshua Na Die Reën, is daar ook lirieke deur Bobby van Jaarsveld, Johan Oberholzer, Hilandi du Toit en natuurlik Henrico self.

“Die album sê wie ek is, en elke liedjie kom van diep uit my hart.” Hy gesels met Pieter Cloete oor sy liefde vir Afrikaans en sy drome vir die toekoms.

Hier is die video:

Adam Barnard leef sy drome uit

Hy het bekendheid verwerf as Adam van Romanz, maar nou loop hy sy eie pad. Adam Barnard beskryf sy loopbaan as stylvol , met ‘n hart vir God en als wat hy doen in Sy naam. Hy gesels met Pieter Cloete oor sy loopbaan, toekomsplanne en die passie waarmee hy leef en werk.

Les Javan vertel sy storie: 'Afrikaans is vir my 'n samekomstaal ...'

Les Javan is op Kraaifontein gebore en vanaf twee weke oud het hy tussen families aan die Weskus geswerf. Op oom Chrisjan se plaas naby Piketberg, het hy van die natuur geleer en ook hoe om skaap te slag. Hy het ook in die Wes-Kaap en Karoo gebly, maar hy beskou homself as ’n “Weskusklong”. Hy het van kleins af klanke en musiek oral om hom gehoor, soos hoe die wind deur die bome met blare waai, bome sonder blare, deur die gras … daar is ’n groot verskil. Hy het gesien hoe ander mense musiekinstrumente bespeel en het besluit om dié goed uit sy kop te kry en het ook geleer om ’n instrument te speel. Bekfluitjie was eerste, toe volg die res. Vandag kan Les spog met verskeie albums asook verskeie klankbane waaraan hy gewerk het, soos Vlug na Egipte (kykNET).

Len Muller: Sy musiek praat met die hart

Len Muller is is 'n akoestiese folksanger/liedjieskrywer met 'n vars klank! Hy is besig om sy stempel op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf af te druk. Sy debuutalbum, Doodgewone Avontuur, is onlangs uitgereik.

Hy was voorheen bekend as die voorsanger van die alternatiewe-rockgroep Die Foute en het einde 2011 besluit om ’n solo-loopbaan aan te pak. Hy het Richardsbaai vir Pretoria se liggies verruil en oor ’n tydperk van drie jaar oorspronklike materiaal geskryf. Sy debuutalbum, Doodgewone Avontuur, is op 27 Mei 2015 uitgereik. Mede-skrywers sluit in die befaamde Stef Bos, Retief Burger (Luidkeels), Bouwer Bosch (Straatligkinders & Dans Dans Lisa), asook Jattie de Beer (Vertikaal & Dou Voor Dag). Die uniekheid van die nuwe album kan ook toegeskryf word aan die insluiting van verskeie ander kunstenaars (Stef Bos, Joshua na die Reën en Janie Bay), wat saam met Len op van die liedjies sing. Een van sy se grootste drome het waar geword toe sy liedjie “Smag na Jou” gekies is om op die klankbaan van die fliek Strikdas opgeneem te word. Hy is onlangs benoem vir ‘n Huisgenoot Tempo-toekenning as 'Nuweling van die Jaar'. Hy was ook vanjaar benoem vir twee Ghoema-toekennings in die kategorieë, 'Nuweling van die Jaar' en 'Manlike kunstenaar van die Jaar'. Pieter Cloete het met hom gesels oor sy liefde vir musiek, sy inspirasie vir die skryf van sy liedjie, Vir die een wat geval het en sy passie vir Afrikaans.

DZL: ‘As ons sing, sing ons in Afrikaans’

Nie almal kan sê hulle oupagrootjie was ’n bekende Voortrekker nie. So spog Andries Hendrik Potgieter, lid van die groep DZL. Hy en sy sangmaat, Wiaan Fourie is die groep DZL. Hulle het ontmoet by ’n mode-geleentheid twee jaar gelede en die res is geskiedenis. Nie net beskik Andries Hendrik en Wiaan oor ‘n unieke sangtalent nie, hulle is beide suksesvol op die internasionale mode-loopplanke en is pas aangewys as Cosmopolitan se mooiste mense.

 
Luister hoe gesels hulle oor hul passie vir Afrikaans.

Joshua na die Reën oor Afrikaans

Jacques de Villiers het op ’n plaas in die Walkerville-omgewing tussen Johannesburg en Parys grootgeword en in 2010 aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie die topprys vir Jazz behaal. Na sy studies het hy vir Jak de Priester op klavier begelei en ook vir Bobby van Jaarsveld.
Die naam Joshua na die Reën verwys na ’n uitsonderlike band met die natuur, asook die temas van eerlikheid en hoop in sy musiek.
“Afhangende van die situasie is reën vir sommige ’n positiewe en vir ander ’n negatiewe natuurverskynsel, maar dié wat daardeur geraak word besef dat dit lewe bring, al is dit wat dááruit voortspruit nie dadelik sigbaar nie.” - Joshua na die Reën

Is dit nou “Jaloersbokkies” of “Jhaloersbokkies” ... vind uit!

Die Jaloersbokkies bestaan uit die Ashur Petersen (musikaleregisseur), Jawaahier Petersen, Nedine Blom en 'n vyfstuk-orkes. Taliep Petersen se musiek leef voort deur sy kinders en die musiek van die Jaloersbokkies. Jawaahier en Nedine het mekaar by ’n konsert ontmoet.“Ons albei se passie vir Afrikaans en die behoefte om iets nuuts op die Afrikaanse musiek front te skep, was een van die groot motiverings vir dié projek,” sê Jawaahier. “Ashur het al my pa se musiek talent geërf en dit is vir hom die natuurlikste ding op aarde om ’n kitaar, trompet of watter instrument ook al te gryp en spontaan te begin speel en sing. Voeg ons stemme by en jy hoor ’n wenkombinasie.”

Churchill Naudé - 'My Afrikaans lyk soos ek ...'

Pieter Cloete het tydens Projek Afrikaans se bekendstellingsfunksie met die kletsrymer Churchill Naudé gesels oor sy Afrikaans. Sy debuutalbum, Kroeskop vol Geraas, 'n stewige album met 13 snitte is onlangs vrygestel. Dit is opgeneem deur Riku Lätti, onder die vaandel van Wasgoedlyn Produksies.

Die Radio Kalahari Orkes

Ian Roberts, dalk beter bekend vir sy rol in die Caltex-advertensie, “Ja, boet”, sy rol in die reeks, Arende en natuurlik vele ander films en produksies, het onlangs met Pieter Cloete gesels oor sy musiekgroep – Die Radio Kalahari Orkes - wat binnekort hul splinternuwe album gaan vrystel.

Nuwe uitreikings

'n Paar jaar gelede het Riku Lätti verskillende musiekkunstenaars, sommige bekend, sommige minder bekend, oraloor Suid-Afrika begin opneem. Die kunstenaars het mekaar se liedjies begin sing, en so is nuwe spore neergelê, spore wat uiteindelik gelei het tot die samestelling van Die Wasgoedlyn-CD. Wasgoedlyn verteenwoordig die organiese, swerwende en verkennende aard van Afrikaanse musiek en soek die wortels en wye karakter van Afrikaanse musiek – van agterplaas tot agterplaas … van wasgoedlyn tot wasgoedlyn. Hierdie samewerking oor kultuur en tussen al die verskillende soorte Afrikaans deur, verskuif grense. Lees meer ...