Op pad met Afrikaans

Anoeschka von Meck is 'n vrolike, beboesemde joernalis en skrywer met 'n sonhoed en 'n 4x4 waarin 'n eie stoel saamgekarwei word omdat dit groot genoeg vir haar besonderse fatsoenlikheid moet wees. As mens uitspan, glo sy, moet jou sit rustig wees. As Afrikaans se Boesemvriendin het sy aangedoen in verskillende streke van ons land ... stofpaaie en afgeleë plekke, dit is waar Afrikaans, en mense wat dié taal lagtande praat, hul storie kon deel. 

Ons wil deel in die lekker van JOU Afrikaans en ons nooi jou nou uit om stories te deel uit jou streek. Stuur 'n e-pos aan myafrikaans@afrikaans.com, neem ‘n video en laai dit op YouTube, stuur vir ons die skakel of stuur foto’s en vertel jou storie. Ons wil hoor hoe jy klink!

 

 

Lank, lank gelede was daar 'n pragtige, vet vrou met 'n huis-op-wiele, 'n pienk stoel en 'n sendelingsonhoed wat versot was op ry en mayonnaise. Veral agterpaaie, verby sonverbleikte bordjies wat die rigting na iewers terug in tyd, meerkattonnels na ander wêrelde en verdorre geheimenisse, gelyk aanwys.

Sy het gedroom van kuier op stoepe, langs 'n leivoor onder bloekombome, by 'n skaaptrog waar vee lafenis soek en op 'n krat agter 'n skaapwagtershuisie waar oom Johannes stories vertel. Sy wil elkeen van die 12 poedings by die platttelandse kerkbasaar proe en 'n koelsak vol noodvoorraad mayonnaise saamkarwei asook 'n paar bottels in strategiese plekke in die heuwels begrawe net ingeval die wêreld in duie stort en mayonnaise-tekorte konsternasie veroorsaak.

Haar vriende sou sê sy is geanker, maar haar tou is net lank. Port Nolloth se wille duikermanne skud net laggend hul koppe - hul meen dié vrou dryf haar boot vooruit.
Eintlik was dit nie so lank gelede nie. Dit was verlede Woensdag toe die bevliegting my weer pak. En die enigste persoon (behalwe my ma) wat my gereeld as ‘wragtag pragtag’ beskryf het, was Kastrol, die wasvrou van Paternoster wat my met 'n spoegsmile agterna gewaai het elke keer as ek my stapeltjie daar afgelaai het. Dan was daar ook die houtkapper wat ek in die Knysna-woud opgetel het, wat vrolik opgemerk het: “Haai, Mevrou is die mooiste vet vrou wat ek al ooit gesien het! As Mevrou sou moes vleis afskud, sou Mevrou boude soos 'n jonkmeid hê.”

Ons almal weet die lewe is 'n reis, maar jy moet eers 'n paar keer jou voete tot poffers verbrand het voor jy besef mens pas nie altyd gemaklik agter in jou kar nie. Soms het mens iets groter nodig wat sal keer dat jou voete alewig uitsteek as die Karoo-son soggens vroeg begin bak. Aldus, my nuwe plan: 'n camper.

My reis het al baie draaie geloop. Van 'n plaashuis in Namibië, kosskool in Villiersdorp en soekende reise oorsee. Dit is vreemd dat dit juis in ander lande was wat ek begin besef het hoe spesiaal Afrikaans is! As 'n 16-jarige naïewe boeremeisie in Kalifornië het die inspanning van Engels probeer praat my hoofpyn gegee, maar dit is eers toe ek die perspektief van 'n buitestaander kry wat ek begin besef het hoe absoluut uniek Afrikaans is. En hier het my ware liefde en passie vir die taal soos 'n kaktussie in die rotstuin van my hartlandskap begin groei.

In my twintigs het ek as 'n vreemdeling huis toe gekom in 'n allerafskuwelike neon-turkoois diskobaadjie.

Mymensevreemd en taalvreemd.

Maar in genade is my reis hervat sonder dat ek dit altyd self besef het. Vol ‘nuwe’ ou woorde wat ek lankal vergeet het: ompad, kerriekos, verkeerslig, ja-nee, nou-nou en hoe het ‘toebroodjie’ my nie laat lekker lag nie!

Daar is 'n gesegde wat sê teen 50 het jy die gesig wat jy verdien. Hierdie jaar wil ek my gesig kry! Oë wat regdeur die seer of die kwaai tot binne-in harte kyk, tande wat windskeef lag en plooie wat handeklap van pure blydskap om my land te deurkruis op soek na daai goddelike afsprake wat voor ons geboortes al in die Vader se dagboek ingeskryf is.

Ek wil die stories gaan haal. Afrikaanse stories met 'n naam en gesig. Stories uit die derms uit van mense wat geleef het en steeds oorleef, ten spyte van als. Taalfamilie wat mekaar met vurige vreesloosheid herken, erken en omhels sodat ons ook hartsfamilie kan word!
  

 Lees meer ...

 

Kyk hier ...

 

Karoo-kuier 

‘Afrikaans is 'n Afrikataal’

Hoe langer my reis, hoe meer leer ek dat ek Suid-Afrikaners nie moet onderskat nie. Suid-Afrika lyk dalk op party plekke of reuse molle onderdeur die paaie gegrou het of tonnels deur sekere mense se logika gevreet het, maar hierdie is ook 'n landskap waar steenkool onder druk in skitterende diamante kan verander! Louis en Marida Serfontein woon in die hart van die Karoo, Laingsburg. Hul gesels oor Afrikaans as Afrikataal. “Die feit dat Afrikaans op die vasteland van Afrika natuurlik ontwikkel, aanhou groei en versprei is 'n veelseggende waarheid...”. 

Storie agter die storie ...  

 

Stories uit jou streek ...