Afrikaans se baie tonge!

Afrikaans se baie tonge  

Afrikaans het baie tonge - van die Weskus tot die Richtersveld, van Soweto tot in die Swartland. Hier is 'n paar skakels wat hierdie verskeidenheid vier. 

 

 

Kom gesels saam!

Afrikaans.com nooi jou uit om saam te gesels – of dit nou hogere Afrikaans, straat-Afrikaans, duidelik-Afrikaans, Kaaps, Namakwalands of jou eie manier van Afrikaans praat is ... Vir party is Afrikaans 'n kultuurding … vir ander 'n hartsding ... en vir jou? Dis wat ons wil weet. Hier kan jy Afrikaans praat (stuur vir ons 'n stempos), of vertel vir ons jou storie, deel 'n gedig, 'n foto of 'n video. Leer ons van jou streektaal. Vertel ons van jou huistaal/moedertaal/spreektaal en verras ons oor presies waar Afrikaans 'n lêplek in jou lewe vind. So, kom gesels saam!

Hoe klink jy!

 

 

Ons Afrikaans lyk so

Afrika-taal, hartstaal, moedertaal, huistaal, kostaal, alternatiewe of opskoptaal ...

 

Afrikaans is van vroeg af deur te veel groeperings mense, in te veel streke, onder te veel, verskillende omstandighede, gepraat om ooit gelykvormig te wees. Lees meer oor Afrikaans se streektaalspore:

  • Petro Hansen skryf op Netwerk 24: Annerlike Afrikaans pla met vreugde - As jy van die Klein-Karoo af kom, is dit nie die haan wat jou wakker maak nie, maar die “dagroeper” en dan maak jy nie koffie nie, maar ’n “bittertjie”. As jy ’n boorling van Calvinia is en ’n koudgeid in die lug jou na ’n warm jas laat gryp, is dit nie ’n snerpende windjie wat die skuld daarvoor kry nie, maar ’n droëbekwindjie. Diegene wat kindtyd in die Langkloof grootgeword het, het ghallaghielies en nie paddavissies nie tussen die riviergras in vlak poele uitgeskep. Lees meer hier.
  • Ilse Salzwedel (2012) praat van Afrikaans se “onvertelde stories”. In hierdie “onvertelde stories” van Afrikaans se halfontdekte wêrelde lê streektaalspore van sy vroeëre polities gemarginaliseerde variantsprekers waarin hulle meer as net hulle taalskatte koester. Hulle bewaar ook verhale van hulle lotgevalle, geargiveer in hulle Afrikaanse leefwêrelde, en vertel dit in hulle dialekte. Lees oor haar boek: Onvertelde stories van Afrikaans hier.
  • “Geologiese variëteite van Afrikaans is die murg van ons taal. Dit is so mooi.” Dit is die woorde van dr Dirk van Schalkwyk, ‘n man met passie vir Afrikaans. Hy is die voormalige hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en is op Bethanie gebore waarna hy sy doktorsgraad by die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), met sy studie oor die fonetiese dialekte (of variëteite soos hy dit noem) in die taal van die Rehoboth Basters, verwerf het. “Dialekte kom oral voor, selfs onder verskillende ouderdomme, plekke of rasse.”  Hy het studies begin doen om die verskille in die taal op te spoor. 'n Paar jaar, honderde onderhoude en vele reise later, kon hy eindelik sy bevindinge deel. Variëteite wat in die uitspraak van woorde kan voorkom, soos byvoorbeeld die woord “konyntjie”, verduidelik mooi. Hierdie woord kan op verskillende wyses uitgespreek word - soos “kinynkie”, “kanainkie”, “kernynkie” of selfs “kokkenynkie”. Die variëteite word ook nie net beperk tot uitspraak van enkele woorde nie, maar selfs verskeie slagspreuke en sêgoed is opgespoor. Op die vraag “Hoe gaan dit?” het Van Schalkwyk ook interessante sêgoed teëgekom. “Nee, ek is darem nog padvaardig, maar moet net nie my 'bonnet' oopmaak nie,” sê 'n vrou op Langebaan en “Ek is vanoggend soos die wind, ek weet nie waarheen ek op pad is nie en ek weet ook nie of ek weer gaan terugkom nie,” was 'n man op Aranos se antwoord. Woorde kan ook vervang word met interessante “mooiseggende woorde”, soos byvoorbeeld 'n laatlammetjie kan 'n “pensioenvretertjie” en toebroodjies kan “smeerigytjies” wees.  Lees meer ...

Net in Afrikaans

Gomverdorie, koringkriek, kotteljons en Piet Kokkewiet. Watter taal sal dit kan sê?
As jy iemand wil oornooi, sê jy “kapit yt” of “stiek yt”? Hoe dit ookal sy – ’n mens moet met trots kennis neem van die variëteite van Afrikaans wat dit ’n ryk, dinamiese en ‘n interessante taal vol kleur maak.

Hier’s ’n paar voorbeelde van Kaapse Afrikaans: Jy lewe aspris – Jy lewe roekeloos en sonder ’n doel; Sy is bus – Sy is bemoeisiek; Waar kry jy daai kop? – Is jy mal?; Hy is onner kaarte – Hy is vol streke en slimstories; Sy is tog te poenankies – Sy is baie oulik; My ouma is baing laai-laai – Sy laat nie met haar sukkel nie. [Bron: Beeld, 16 November, 2013]

Afrikaans op haar mooiste

Van die mooiste Afrikaanse lirieke is “Karoonag” van Coenie de Villiers. Jy gaan ver soek vir so ‘n mooi beskrywing: “As die nag sy baadjie toeknoop oor die veld en die diereriem sy blink tot teen die skerpioen laat lê; as die tweeling en die kreef kotteljons oor Beaufort-Wes en die maan sy beker skink oor Graaff-Reinet. In die môre as dit blou word en die amber wolke roer as die son sy eerste lig oor die bitterboela stoot as die trein by Noupoort fluit en dit wegraak in die wind en ‘n tolbos iewers vaswaai teen die rant.

Woorde soos neandertalman, pepermossie, jasmyn, flonker, newel, spookasem, sneesdoekie, troebadoer, wolkkastele, bobotie, katools, ghantang, fnuik en hiert!, gaan jy sukkel om te vertaal.

Om ‘n “propperse” woord te soek vir jou dinges-kind of watsenaam of naderhark, is so taai soos tameletjie.

Ja-nee, ou swaer, kom ons grawe dan maar die ou koeie uit die sloot; Ek gaan nie doekies omdraai nie, want ek gaan vir jou een ding sê wat nie twee is nie: Vanslewe se snuiters was omgesukkelde latte, maar hulle was nie voor op die wa nie; hulle sou jou gou-gou wys waar Dawid die wortels gegrawe het as jy hulle slinks sou probeer rysmier, maar hulle het geweet eielof is uielof -- dit stink, man, dit stink.

Probeer maar vertaal:

Vandag se bloedjies het weer geen murg in hul pype nie, maar van bek rek en beterweterigheid kan jy hulle hoegenaamd niks leer nie; Maar van die os op die jas, ou swaer, waar sleep jou dinges-kind … watsenaam … deesdae vlerk? Toe ek laas gehoor het, was hy nog besig om die prentjiemooi Bettie Booysen in te katrol, net nadat sy hand in die as geslaan is toe hy Marie Moller wou naderhark. Of dink jy hy gaan eerder afhaak met daardie minder aansienlike oujongnooi wat reeds so vol plooie is dat sy elke oggend haar hoed moet opskroef?

Hoe klink Afrikaans?

Afrikaans is ryk aan gesegdes wat so raak en op die man af is, maar waarvan heelwat in die vergetelheid geraak het omdat ons dit nie almal ken nie.

Stories oor die herkoms en betekenis van idiome en gesegdes, segswyses en woorde is nagevors deur Helena Liebenberg. Lees meer ...  
Gaan kyk bietjie hier na Mieliestronk se lys idiome: Lees meer ... 
Of wat sê Maroela Media oor die hart in Afrikaanse uitdrukkings en idiome: Lees meer ... 
Lees wat sê Tanya van Buuren oor die hart van Afrikaans. Lees meer ...