Oor ons

Verskeie organisasies en individue met ’n liefde en passie vir Afrikaans het saamgekom om Afrikaans in haar volheid te vier en te verken. Ons nooi jou saam op hierdie ontdekkingstog die wye Afrikaanse landskap in. Ons vra mede-avontuurlustiges om jul unieke Afrikaanse leefwêrelde met ons te deel en ons te verras met jul uitkyk op en ervaring van Afrikaans. Afrikaans se horisonne is wyd en haar karakter is so eiesoortig soos elke mens wie se wortels in hierdie kontinent geanker is. Laat weet ons hoe lyk jou Afrikaans! 
Afrikaans.com en die Veldtog vir Afrikaans word deur Dagbreek Trust gefinansier.

Ons visie

Afrikaans.com is daarop gemik om die diversiteit en skoonheid van Afrikaans te vier en te verken. Op Afrikaans.com sal jy alles vind oor Afrikaans. Alle groot organisasies, feeste, optredes en projekte word hier bemark met deurklik-skakels na die verwante webtuistes. Hierdie platform is 'n bymekaarkomplek vir alle mense wat hulself deel voel van die taalfamilie (hetsy naby, verlangs of terloops) en vir enigeen wat meer oor die taal en sy bedrywighede wil weet of sommernet nuuskierig is oor die Afrikaanse leefwêreld. Die onderwerpe is byvoorbeeld Ontspan, Beleef, Leer en Deel met afdelings vir musiek, boeke, kos 'n nuttige feeskalender en 'n webkatalogus met bakens om jou soektog deur die Afrikaanse landskap te vergemaklik.

By Afrikaans.com vertel ons besoekers van bestaande organisasies, projekte en navorsing, geleenthede en verwikkelinge in Afrikaans. Ons bied inligting vir die leek en die kundige, vir die nuuskierige en die ingeligte, op 'n vars en vernuwende manier.

Afrikaans.com is ´n lewendige, dinamiese en organiese kanaal wat 'n diens lewer aan die gebruiker. 

Afrikaans.com stel ten doel:

  • Om 'n nuttige saamkomplek vir gebruikers van Afrikaans te skep en die voortou te neem in die skep van 'n aanlynbeweging wat Afrikaans positief bemark en beïnvloed.
  • Om ´n sterk, lewendige aanlyngemeenskap te ontwikkel, gesentreer rondom gebruikersbehoeftes.
  • Om ´n persoonlike verwysingsraamwerk van inligting, vermaak en opvoeding vir die gebruiker te wees wat ten alle tye toeganklik is waar gebruikers ook al beweeg.
  • Om nuttige inligting aan te bied.

Die Afrikaans.com-handelsmerk kan deur die volgende woorde beskryf word:

  • vier
  • verken
  • inlig
  • vermaak
  • opvoed
  • bemagtig

Veldtog Afrikaans skop af!

Suid-Afrikaners vir wie dit lekker is om Afrikaans te praat, te hoor, te lees en te leer wys ons die lekker van hul Afrikaans.

Jou kultuur, jou dialek, jou variant .. dit is JOU Afrikaans! Klik hier, en deel die lekker van jou Afrikaans!

Afrikaans.com op die Die Groot Ontbyt

GROOTfm 90.5 se gewilde ontbytprogram, Die GROOT Ontbyt, word elke weeksoggend tussen 06:00 en 08:00 regstreeks op kykNET uitgesaai. Dié samewerking is ’n eerste in sy soort. Terwyl luisteraars op pad werk toe na Die GROOT Ontbyt op hul radio’s luister, kan diegene by die huis ook in die opwinding deel deur middel van hul televisiestelle. Die aanbieders gesels dus nie net met GROOTfm-luisteraars nie, maar ook met kykNET-kykers. Die program is propvol aktualiteit, nuus, verkeer, weer en natuurlik goeie Afrikaanse musiek. Afrikaans.com is die afgelope tyd in die kollig. Kyk hier hoe gesels ons oor Afrikaans.com!


Astrid de Vos -
skakelbeampte van
die Dagbreek Trust
Milanie Vosloo -
Projekleier van
Afrikaans.com

Dr Niel le Roux -
hoof uitvoerende beampte van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA)
 

Dr Theuns Eloff -
voorsitter van
die Dagbreek Trust

 

Prof Debra Meyer -
Dekaan, Wetenskappe:
Universiteit van 
Johannesburg

  
Prof Anne-Marie Beukes-
Voorsitter van die
Afrikaanse Taalraad
Virginia Keppler-
Ambassadeur
Afrikaans.com
Lundi Khoisan-
Ambassadeur
Afrikaans.com
Danette Smith-
Ambassadeur
Afrikaans.com
Gielie Hoffmann-
Ambassadeur
Afrikaans.com

 

Dr Theuns Eloff -
voorsitter van
die Dagbreek Trust
Lara Erasmus -
Ambassadeur
Afrikaans.com

 

Die Republikein laat val die kollig op Afrikaans.com se joernalis 'Op pad met Afrikaans' - Anoeschka von Meck

Anoeschka von Meck is 'n vrolike, beboesemde joernalis en skrywer met 'n sonhoed en 'n 4x4 waarin 'n eie stoel saamgekarwei word omdat dit groot genoeg vir haar besonderse fatsoenlikheid moet wees. As mens uitspan, glo sy, moet jou sit rustig wees. As Afrikaans se Boesemvriendin volg sy die stofpaaie na afgeleë plekke waar nuwe vrinne wag op hul ontmoeting. Afrikaans, en mense wat dié taal lagtande praat, laat haar hart sing. 

Die artikel het verskyn in Die Republikein, Woensdag 17 Augustus.

Afrikaans.com se projekbestuurder, Milanie Vosloo op Radio Tygergerg

Milanie Vosloo neem deel aan Marius du Plooy se program: Wat sê jy? op Radio Tygerberg. Sy gesels saam oor die lekker van Afrikaans en positiewe inisiatiewe wat ’n verskil maak in die Afrikaanse leefwêreld. Dit is uitgesaai op 15 Julie en luisteraars kon inskakel en saamgesels. Luister hier .... 

Ambassadeur vir Afrikaans in Kuier van 29 Junie

Vir haar is Afrikaans nie net ’n taal wat sy praat nie. Dis nie net iets wat sy gebruik om met ander te kommunikeer nie. Afrikaans is die taal van haar hart en ’n erfenistaal wat saam met haar gegroei het. Dís hoe Fatima Allie (49), direksielid van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), se hart vir dié taal klop. Dis haar huistaal en moedertaal en vir haar gaan dit ook gepaard met kos, lekker eet, samesyn met die familie en die verskillende feesvieringe in die Moslemgemeenskap. Lees meer.

Het Afrikaans enigsins ‘n handelsmerk nodig?

Veldtog Afrikaans het Donderdagaand, 26 Mei amptelik afgeskop en lui ’n nuwe era in ter viering van alles Afrikaans. Die bemarkingsveldtog vra die vraag: Hoe lyk jou Afrikaans? Prof Theuns Eloff, voorsitter van die Dagbreek Trust (die trust finansier die veldtog) en Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG (RSG is ’n mediavennoot), het Vrydag, 27 Mei, oor Afrikaans as handelsmerk gesels met Lynette Francis op RSG se program, Praat Saam. Lynette se vraag: Het Afrikaans enigsins ‘n handelsmerk nodig? Klik hier en luister wat sê luisteraars. Indien jy nie die kans gekry het om deel te neem aan hierdie gesprek nie kan jy steeds van jou laat hoor. Klik hier en gesels saam.

Ambassadeur vir Afrikaans op Groot FM

Luister hoe heerlik Sarenda Eloff-Vorster - Ambassadeur vir Afrikaans - op Groot FM gesels oor wat haar hart so warm vir Afrikaans laat klop.
Sarenda vertel sy gebruik twee soorte Afrikaans. Die een waarin sy as joernalis skryf en dan haar gesproke Afrikaans, wat sy self soms so bietjie “tune”. Sy maak wel seker haar sewejarige tweeling ken Afrikaanse name. In hulle huis eet hulle botterskorsie nie butternut nie, beeshaas en nie filet nie, kapokaartappels en nie mash nie ... ! Afrikaans is vir haar ‘n taal wat mense toedraai, koester en beskerm – Afrikaans bly vir haar elke dag 'n ontdekkingstog!