Kaptein John Cornelius Witbooi: Bevordering van Afrikaans is 'n leefwyse


Die bevordering van Afrikaans het ’n leefwyse geword

In die klipwêreld tussen Victoria-Wes en Carnarvon in die Noord-Kaap lê die plaas Pampoenpoort en dis hier waar Kaptein John Cornelius Witbooi grootgeword en in die klein plaasskool, Pampoenpoort Primêr leer lees en skryf het. Later het hy gematrikuleer aan Bastiaanse Sekondêre Skool in Beaufort-Wes waarna hy sy onderwyskwalifikasie aan die Suid-Kaap Onderwyskollege in Oudtshoorn verwerf het. Hy het vir ’n hele paar jaar onderwys gegee voordat hy as bemarker by Sanlam begin werk het. Deesdae woon Kaptein John en sy vrou Christell in Riebeek-Wes in die Riebeekvallei. Alhoewel hy afgetree is, is daar nie ’n oomblik tyd vir stilsit nie, en benewens sy betrokkenheid by die gemeenskap, is hy ook aktief besig met die sake van die Witbooi Namastam. 

Vyf kitsfeite oor Kaptein John Cornelius

  • Hy is ’n plaaskind in murg en been en deesdae sorg die hoendertjies wat hy aanhou dat die verlange na die plaaslewe nie te groot word nie.
  • Hy is die Kaptein van die Witbooi Namastam hier in Suid-Afrika.
  • Kaptein John en sy vrou het twee pragtige dogters, Joy (17) en Elisma (21).
  • Hy is ’n ywerige domino-speler en glo dat ’n pot domino’s jou brein baie goeie oefening gee.
  • Hy het ook ’n intense belangstelling in die rieldans en was vir drie jaar in ’n ry een van die nasionale beoordelaars van die rieldanskompetisie. 

Hoe voel hy oor Afrikaans?

Kaptein John sê Afrikaans het by hom ’n leefwyse geword en hy lewe elke dag in Afrikaans. Die gemeenskap waarin hy grootgeword het was net Afrikaans. Daar in die Noord-Kaap, sê hy, het jy net Engels uit selfverdediging gepraat. Vandag is die bevordering van Afrikaans vir hom ’n prioriteit.

Sy projek:

As oudonderwyser is dit vir Kaptein John belangrik om ’n verskil in jongmense se lewens te maak en hy is betrokke by ’n projek wat aan matrikulante van die Riebeekvallei studiehulp verleen en hulle voorberei vir die matriekeindeksamen. Dit sluit in die verskaffing van vorige vraestelle en studiemateriaal en plek om te studeer, asook middagetes waar moontlik. Kaptein John werk ook hard saam met ander rolspelers om deur middel van skaak en rieldanse die jongmense van die vallei betrokke te kry by iets sinvol waarby hulle net kan baat. Enige hulp met enige van die projekte is baie welkom, sê hy.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan Kaptein John by jcw.witbooi@gmail.com

Kaptein John Cornelius Witbooi, Namastamhoof, oudonderwyser en vurige voorstander van die bemagtiging van kinders deur taal gesels tydens US Woordfees 2017 oor sy passie vir Afrikaans.