Su-an Müller-Marais: Tuis agter die mikrofoon

Aangename kennis

Vandat sy op vierjarige ouderdom vir haar honde in Potchefstroom konsert gehou het, het Su-an Müller-Marais geweet dat sy eendag in die vermaaklikheidsbedryf wou werk. Su-an het ’n honneursgraad in Afrikaans-en-Nederlands aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Tans is sy lid van die bekwame Groot Ontbyt-span wat weeksoggende die ontbytprogram op kykNET aanbied. Wanneer die kameras ophou draai, skuif sy oor na die radio-ateljee vir haar oggendprogram, Su-an en so aan op Groot FM 90.5. In 2016 is sy bekroon met ’n ATKV-Mediaveertjie as Beste omroeper by ’n gemeenskapsradiostasie. As student was sy ’n deeltydse aanbieder vir MK Kampus. Sy het ook al ’n gasverskyning gemaak in Binneland en was te sien as Elaine in 7de Laan. Su-an hou baie van kosmaak, ou musiek, wyn, draf, haar kat en om te reis saam met haar man, Gunther, ’n kwantitatiewe finansiële analis wat, anders as sy, baie goed is met wiskunde.       

Hoe lyk haar Afrikaans?

Sy en haar vriendin wat vir mekaar “Liewe Maan” oor stemboodskappe sing wanneer dit volmaan is; Duits-Afrikaanse volksliedjies tydens hul jaarlikse familiefees terwyl haar ma op trekklavier begelei; haar boetie wat sy redenaarstoespraak oor en oor oefen; haar pa se kennis van die geskiedenis en snaakse staaltjies oor die Vrystaat en sy grootwordjare; Amanda Strydom, Johannes Kerkorrel, Koos du Plessis, boeresport, boekevat, Noot-vir-Noot en Zoid Afrika.  

Hoe leef sy in Afrikaans?

Su-an woon kunstefeeste by, skryf tonele en gedigte, tree op as aktrise, seremoniemeester, omroeper en aanbieder in Afrikaans. Sy raak opgewonde oor verskillende dialekte van Afrikaans en die geskiedenis daarvan. Sy leef Afrikaans ook graag uit agter die kospotte van die Groot Ontbyt se kos-insetsels op weeksoggende.

Haar projek:

Su-an se radioprogram op Groot FM 90.5 het luisteraars van reg oor die wêreld wat via die Internet kan inskakel vir ‘n daaglikse porsie inspirasie, insig, vermaak, kuns en lekker musiek. Sy is bekend vir haar reguit, skerp onderhoude met bekendes soos Elvis Blue, Laurika Rauch, Steve Hofmeyr en Suzelle DIY wat al vir haar twee ATKV-Veertjienominasies in die sak gebring het. Met programme soos Kunstekalender nooi sy Afrikaners om trots te wees op ons ryk kultuur, en sy werk hard om luisteraars én kykers te oortuig dat Afrikaans modern, pret en uniek, maar nie eksklusief is nie.    

Maak kontak:  

Stuur ’n e-pos aan su-an@grootfm.co.za
Facebook: https://www.facebook.com/suan.muller
Twitter: https://twitter.com/Su_anMuller