Veldtog Afrikaans skop af!

/>

 

Dr Theuns Eloff, Voorsitter van Dagbreek Trust, tydens die
bekendstelling van Afrikaans.com

Afrikaans kry ’n holte vir haar voet.

‘n Nuwe era vir Afrikaans is Donderdagaand, 26 Mei, ingelui met die bekendstelling van Projek Afrikaans by Melrose Arch in Johannesburg.

Suid-Afrikaners vir wie dit lekker is om Afrikaans te praat, te hoor, te lees en te leer was daar!

Die projek word ondersteun deur ‘n veldtog wat verkeer aanmoedig na die splinternuwe webtuiste, www.afrikaans.com, wat ‘n ruimte skep vir alles Afrikaans en waar enigeen met ‘n passie vir Afrikaans asook almal wat belangstel in wat gebeur in die Afrikaanse leefwêreld, kan tuisvoel.

Projek Afrikaans word deur Dagbreek Trust gefinansier en die veldtog vra:
Hoe lyk JOU Afrikaans?

Die doel van die projek wat die veldtog insluit, vier die die sjarme, eiesoortigheid en kleurrykheid van Afrikaans in samewerking met en tot voordeel van die reeds bestaande projekte en organisasies. Daar is soveel belangrike inisiatiewe waarvan die breë publiek nie altyd genoegsaam kennis dra nie.

Afrikaans.com is ’n nuwe bymekaarkom-tuiste waar die publiek alle inligting oor die taal kan bekom of na die regte plekke herlei kan word.

’n Verskeidenheid beskermhere (en) -vroue, ambassadeurs en ander verskilmakers, sluit aan by Veldtog Afrikaans.

Dit is duidelik: Afrikaans is kleurryk, Afrikaans het ritme, Afrikaans het seggenskap en Afrikaans het nut! Afrikaans is uniek en Afrikaans is universeel. Afrikaans is ... oppibôl!

Die bekendstellingsfunksie was ‘n allegaartjie van alles Afrikaans wat roer en raak.

Dr Theuns Eloff, voorsitter van Dagbreek Trust, het die beskermhere en -vroue, die ambassadeurs vir Afrikaans, verteenwoordigers van alle Afrikaanse organisasies en die media verwelkom.

Verskeie gaskunstenaars het glans verleen aan ‘n afskopgeleentheid wat nie maklik vergeet sal word nie.

Die musiekvertoning het die diversiteit van Afrikaanse musiek weerspieël. Van Afrikaanse popmusiek om die braaivleisvuur, ’n langarmtreffer op 'n Saterdagaandsokkie tot die stofproe op 'n koue, Noord-Kaapse winteraand wanneer 'n rieldanser ritmies op die maat van 'n kitaar laat waai.

Afrikaanse musiek steur hom nie aan afstand, demografie of ouderdom nie - : Afrikaans se horison is so wyd soos elke mens wat in hierdie kontinent geanker is.
Jou kultuur, jou dialek, jou variant is JOU Afrikaans. Staan nader ... kom wys ons hoe lyk JOU Afrikaans en gesels saam!