Suksesstories

Die SBA vervul ′n belangrike rol deur dat dit eerstens ten doel het om mense se handelinge, denke, normes en waardes te verander. Dit bied dus ′n wye verskeidenheid opvoedkundige programme aan volwassenes met geen of beperkte skolastiese opleiding en help hulle om basiese geletterdheids-, numeriese- en entrepreneurskapsvaardighede te bekom. Dit stel hulle in staat om toegang tot beter werksgeleenthede te verkry en sodoende ′n selfonderhoudende lewe te kan voer.

Verder speel dit ook ′n belangrike rol om die jeug se taalvaardighede op te skerp en hulle in staat te stel om die ontsaglike inligtingsvloei wat die hartklop is van die kennisekonomie van die 21ste eeu met selfvertroue te kan hanteer. In dié verband bied die SBA ′n reeks onderrigsteunaktiwiteite aan skole wat ′n behoefte daartoe het.

Die SBA word ook geag as ′n kampvegter vir gehalte moedertaalonderrig en voorstander van veeltaligheid. Die SBA probeer om deur middel van advertensieveldtogte, skrywes in die media, deelname aan gemeenskapsforums en deur saam te werk met ander rolspelers die algemene publiek se ingesteldheid teenoor gehalte moedertaalonderrig positief te beïnvloed. Dit dus verblydend dat die onderwysowerhede toenemend ag slaan op die belangrikheid van moedertaalonderrig en daadwerklik begin om moedertaalonderrig te populariseer en die nodige hulpbronne in al 11 amptelike tale beskikbaar te stel.


sba suksesse
Op hierdie bladsy volg ′n uiteensetting van al ons suksesstories die afgelope jare. Skakel ons gerus indien u ondersteuning versoek óf betrokke wil raak as ′n vrywillige. Deur middel van die SBA-netwerk kan u in Afrikaans ′n verskil maak.
GEMEENSKAPPE BAAT BY SBA PROJEKTE
 2/4/2008

Deelname aan die SBA se ontwikkelingsprogramme groei jaarliks. Hierdie jaar het ons projekte in Strand, Kraaifontein, Franschhoek, Darling, Elsiesrivier, Caledon, Genadendal, Rosendal, Cloetesville, Willowmore, Baviaanskloof en op plase in die Durbanville-omgewing geloots. Dit behels opleiding in Geletterdheids-, Dagsorg vir Kinders, Au Pair, Kunsvlyt- en Lewensvaardighede.

OPVOEDERSLYPSKOOL
 5/13/2008
'n Oriënteringswerkswinkel is op 13 Mei aangebied om onderwysers se vakkennis te verbreed. Die oorhoofse doel van die werkswinkel was om die beleidsdokument te verken,gepaste aktiwiteite deur te werk en dit te plaas binne die konteks van onderrig en beplanning in die klaskamer.
VROUEDAG
 5/13/2008
Die eerste Vrouedag het op 13 Mei 2008 by die Elsiesrivier Sorgsentrum plaasgevind. Daar was 230 vroue teenwoordig en die tema was "Moedersdag". Daar is van gasvroue gebruik gemaak om die tafels te dek, die verversings uit tepak en die tee bedien. Dr Pat Gorvalla was die gasspreker en klein Larnelle het die gaste vermaak met sy sang. Die was 'n hoogs bevredigende oggend. Elke gas is met 'n geskenkie bederf.
GANSBAAI JEUGDAG MUSIEKFEES
 6/16/2008
Die SBA se Gansbaai Jeugdagvieringe, ongeag die triestige weer, was 'n ongelooflike sukses. Meer as 500 jeugdiges oor die kleur- en taalgrense van Stanford, Gansbaai, Hermanus, Buffeljags, Zwelihle, Pearly Beach het die dag saam met ons deurgebring. Die tema "Leef Voluit" het gefokus op misdaad, tienerswangerskappe, dwelmmisbruik en die waarde van onderwys. Deur middel van die SBA se netwerkstrategie het ons 20 rolspelers betrek om na die verversings, vermaak, vervoer, akkomodasie, bemarking, logistieke reëlings en ondersteuningsdienste om te sien.
JUST FOR NOW-Jeugorkes
 7/5/2008

Die JUST FOR NOW-Jeugorkes en talle ander opkomende kunstenaars het die feesgangers tydens die onlangse Snoek- en Patafees te Goedverwacht vermaak. Die SBA ondersteun plaaslike inisiatiewe soos dié om entrepreneurskap en toerisme aan te moedig. Deur taal en kultuur kan ongelooflike ekonomiese geleenthede ontsluit word. Dieselfde projekte is op Gansbaai en Caledon aangepak.

VEELS GELUK MADIBA
 7/18/2008

Die SBA het hierdie jaar op Vrydag 18 Julie in samewerking met die Wes-Kaap Onderwysdepartement Metropool-Oos Distrikskantoor 'n spesiale byeenkoms gehou om Madiba se 90ste Verjaarsdag te vier.  Hoërskool Malibu Tuscany Glen, Eersterivier, Brackenfell, Manzimthombo en Matthew Goniwe het die verrigtinge bygewoon. 

SBA DRA VAARDIGHEDE OOR
 9/8/2008

Die aanleer van skryf- en redenaars-vaardighede lê die SBA baie na aan die hart. Jeugdiges  van Worcester en omgewing het vanjaar verskillende werkswinkels  in drama, storievertel, skryf van kortverhale en musieklirieke bygewoon.

SBA SERTIFIKAATPLEGTIGHEID TE DURBANVILLE
 10/2/2008
Ons eerste sertfikaatplegtigheid vir die jaar is deur 107 plaaswerkers en hul eienaars bygewoon. Dis baie duidelik dat die SBA se betrokkenheid ’n groot verskil in mense se lewens gemaak het en ek dank Adri en Trudi vir hul toewyding. Sien foto’s aangeheg.
Jeugontwikkelingskamp
 1/16/2009

’n Suksesvolle jeugontwikkelingskamp is ook op die VCSV-kampterrein in Kleinmond vir 51 Graad 11-leerders verteenwoordigend van ‘n wye verskeidenheid hoërskole, Bernadino Heights, Belhar, Rusthof, Groenberg en Villiersdorp, gereël. Die oorhoofse doelwitte is om jeugdiges in te lig van die loopbaangeleenthede in Afrikaans, hulle weer hoop te gee en hul selfvertroue uit te bou. ’n Groot deel van die jeugontwikkelingskamp word ook gewy aan die uitbouing van leerders se verantwoordelikheidsin, karakterbou en strategieë om interpersoonlike verhoudings te verbeter.

SBA - Provinsiale Geletterdheidsprogram
 1/19/2009

Die SBA werk ook nou saam met die WKOD om die leesvaardighede van sukkelende lesers te verbeter. 200 skole neem tans deel aan die SBA se provinsiale geletterdheidsprogram. Hierdie program word saam met Die Burger bedryf en elke skool ontvang gratis eksemplare wat in die klaskamer benut word om leerders se lees- en begripsvaardighede in Afrikaans te verbeter. Nog 100 skole sal later vanjaar by die geletterdheidsprogram betrek word.

SBA Loopbaanprogram
 1/30/2009

Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans het ‘n reeks loopbaanprogramme tydens die Suidoosterfees van stapel gestuur. Hierdie loopbaanprogramme fokus spesifiek op geleenthede wat Afrikaans bied. Sowat 1000 eerstetaal- sowel as tweedetaalsprekers het ‘n verskeidenheid van werkswinkels, lesings en uitvoerings tydens die Suidoosterfees bygewoon. Die volgende werkswinkels is aangebied: Verhoogadministrasie deur Saartjie Botha. Skryf deur Malan Steyn. Regie en ontwerp deur Marthinus Basson. Spel deur die Tienerdrama-groep. Radio deur Frits Klaaste van RSG. Joernalistiek deur Kay Karriem. Jeugliteratuur deur Kabous Meiring. Film deur Helena Spring. Die hoofseuns en hoofdogters van verskeie skole het ook die Jakes Gerwel - gesprek waaraan bekende politici deelgeneem het, bygewoon. 6000 nuwe loopbaangidse is gedruk en loopbaannprogramme word vir later die jaar in verskeie skooldistrikte van die Wes-Kaap beplan.

Letterkunde-ondersteuning Simposium
 2/20/2009

Die Letterkunde-ondersteuning Simposium (LOK) is vanjaar vanaf 20 tot 21 Februarie 2009 gehou. Dit is die grootste simposium van die aard wat in Suid-Afrika jaarliks onderneem word en is ’n gesamentlike inisiatief deur die UWK, US, UK, WKOD en die SBA. Die SBA het vanjaar toegetree as hoofborg en het die logistieke reëlings en spyseniering hanteer. Nagenoeg 800 leerkragte het die LOK-Simposium te UWK bygewoon. Bekendes soos Leon van Nierop, Louise Viljoen, Ronel Foster, Steward van Wyk en Ria Taylor het as aanbieders opgetree en hulle het ’n wye verskeidenheid van temas wat verband hou met die Afrikaanse letterkunde-kurrikulum gedek. Mnr. Brian Schreuder, Adjunk-Direkteur Generaal van die WKOD, het as gasspreker opgetree.

LEESONTWIKKELINGSKLASSE
 5/5/2009

Die leesontwikkelingsklasse te Atlantis, Delft en Parkwood lewer in die algemeen goeie resultate, gemeet aan die vordering gemaak in memorisering, die voorlees van gediggies, klank en die verbetering in selfbeeld. Die selfbeeld van leerders het so verbeter dat hulle in sommige klasse wedywer om gediggies voor te lees. Verdere progressie het plaasgevind ten opsigte van verbeterde konsentrasie, die vermoë om mondeling en skriftelik inligting weer te gee, en daar is ook verbetering in logiese redenering en begrip.

Taalvaardigheidsprogram
 5/30/2009

Die SBA se Taalvaardigheidsprogram vir Akademiese Prestasie gaan van krag tot krag. Hierdie program bestaan uit die leesprogramme vir laerskole en ondersteuningsprogramme vir skole. 200 skole word maandeliks bereik deur die leesprogram en die terugvoering oor die impak daarvan is baie positief. Deel van hierdie program is ook ons leierskap- en bestuurswerkswinkel wat in vennootskap met die WKOD gedoen is. 50 onderwysers van die skole Bishop Lavis Sekondêr, C.L. Wilmot Primêr, Greenland Primêr, John Ramsay Sekondêr, Riverton Primêr, Uitsig Sekondêr, Uitsig Primêr en St Andrews Sekondêr het die werkswinkels op Saterdag op 30 Mei 2009 bygewoon. Verskillende temas wat handel oor die konsep sinergie, jaarbeplanning, selfbestuur, personeelbestuur, prosesbestuur, programbestuur en projekbestuur is behandel.

SERTIFIKAATPLEGTIGHEDE
 6/5/2009
Die Au Pair Kursus te Willowmore in die Suid-Kaap het in Julie 2008 afgeskop en op Vrydag, 5 Junie 2009 het die dames hul bywoningsertifikate ontvang. Die geleentheid is by die Royal Hotel gehou.
Loopbaaninligtingsprogram
 6/6/2009

‘n Loopbaaninligtingsprogram vir Graad 9 tot 11 leerders van verskeie hoërskole in Elsiesrivier is in samewerking met die gemeenskapsorganisasie ComArt op Saterdag 6 Junie in die Elsiesrivier Gemeenskapsaal van stapel gestuur. Bekendes soos die joernalis Kay Karriem, die skrywer Willem Fransman, die akteur Riaan Visman, die verhoogbestuurder Leopoldt Senekal en die radio-omroeper Jerome Topley het die werkswinkels aangebied. Dit is daarop gemik om jong mense bewus te maak van die geleenthede in Afrikaans.

SBA-Wintersimposium
 6/9/2009

Die jaarlikse Wintersimposium van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans het op Dinsdag 9 Junie 2009 te Kaap Skiereilandse Universiteit van Tegnologie (Bellville kampus) plaasgevind. Hierdie jaar val die fokus op die ekonomiese waarde van taal. Die gasspreker is mnr Christo van der Rheede, die uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. Ander kundiges wat ook insette tydens die verrigtinge sal lewer is dr V. Nomlomo van die Universiteit van Wes-Kaapland, dr Mali, die uitvoerende hoof van PANSALB en dr Neville Alexander van PRAESA.

 

SBA TONEELSTUK BY SNOEK-EN PATATFEES
 6/27/2009
Die SBA borg vanjaar ’n nuwe produksie, KAP AAN!, geskryf deur Riaan Visman en Abduraghman Adams. Die produksie handel oor verskeie situasies waarin gewone mense hulle deesdae vind. Die eerste optrede was hier by die Snoek-en Patatfees. Die produksie sal gedurende die volgende jaar by verskeie feeste en ook skole opgevoer word.
SNOEK- EN PATATFEES TE GOEDVERWACHT
 6/27/2009
Die SBA was weereens ’n borg by vanjaar se Snoek-en Patatfees wat jaarliks te Goedverwacht in die Piketbergdistrik gehou word. ’n Groot skare het die Saterdag opgedaag vir die vermaak gelewer deur o.a. Sasha-Lee van Idols-faam asook D'LOW.
BESTUURSOPLEIDING IN DIE OOS-KAAP
 7/6/2009
Die uitvoerende hoof van die SBA, Christo van der Rheede, het in Julie 2009 bestuursopleidingskursus in die Oos-Kaap aangebied.
SKOONHEIDSKUNDE 2009
 7/10/2009
Die Skoonheidskunde kursus in Atlantis vorm deel van die SBA se Volwasse Geletterdheidsprojekte en het in Februarie 2009 begin. Die studente raak hier deur middel van rolspel vertroud met die volgorde en tegniek van ’n gesigsbehandeling: Die verwyder van grimering en die skoonmaak van die vel, die verwydering van reinigingsroom en die droogmaak van die vel. Hulle doen ook elkeen ‘n velontleding en voltooi kliëntekaarte in samewerking met kliënt