Hoe lyk Afrikaans in jou dorp? – Wenner en verrassingspryswenners

Die wenner: Truida Genis

“My ‘taaldorp’, ek skryf vir jou ‘n hartsbrief.”

“Hoërskool Hoopstad-atletiek is die plek waar sweet, pannekoek, jaffels en Deep Heat ten volle sin maak in een omgewing. Tyd snel verby en jou volwasse reis bring jou terug na Hoopstad. Met ongesegde leemtes plant jy weer wortels in, gee rivierwater en hoop vir genade van ouds.”

So skryf Truida Genis (42) van Hoopstad. Truida is Saterdag, 7 Oktober tydens die Dorp van die Jaar-makietie in Mosselbaai aangekondig as die wenner van afrikaans.com se “Hoe lyk Afrikaans in jou dorp?”-kompetisie.

Het jy geweet Mosselbaai het die grootste natuurlike getypoel ter wêreld? Truida kuier by die Punt op Mosselbaai. (Foto: Marietjie Burger)

Lees meer oor ons wenner ... 

Die verrassingspryswenners

Me. Alisa Visser (Mosselbaai)

Wat maak Afrikaans vir jou #onmisbaar?
Wat vir my #onmisbaar is in Afrikaans: Die fisiese reaksie wat ek kry wanneer ek die salige vloei van suiwer Afrikaans hoor vanuit iemand se mond - nie 'n enkele woord uit plek nie.

Waarvoor gaan jy die prysgeld gebruik?
Dit gaan in 'n spaarrekening lê en slegs gebruik word wanneer ek na 'n natuurryke omgewing wil gaan en een word met die aarde sodat ek die nodige inspirasie kan kry om te skryf.

Inskrywing: Mosselbaai: Taaldorp – Dit wat ek sien
Afrikaans word gevier in die wyse waarop Mosselbaaiers mekaar raakloop by ‘n inkopiesentrum, dan eers stil staan en lang geselsies aanknoop. Dit is vuil grappe deel, rugby op die grootskerm, vuur aansteek, karaoke sing en jou worshond saamneem na die plaaslike kroeg waar almal jou naam en gunstelingdrankie ken. My moedertaal beweeg grasieus in die geritsel van die herfsblare wanneer die windjie so waai in my buurt en die klanke begin weer vorm soos in graad 1 - “t-t-t-t s-s-s-s-tss-tss”. Afrikaans maak dat ek smag na ‘n koppie boeretroos in die winterson op die voorstoep van ‘n ou plaashuis met die reuk van varsgebakte beskuit en die houtvloer se kraakgeluide. My taal het my geleer mens speel nie met ‘n bal in die huis nie. Mens praat nie met ‘n mond vol kos nie en dat Sannie nooit sal sê sy sleep swaar aan daai sout nie. Afrikaans het sy merk gemaak in geskiedenis en het nog baie om te sê. Daar is net ’n paar dinge waaroor ek op my agterpote sal staan: My God, my geliefdes, my land en my taal. Mosselbaai is eg Afrikaans.


Mnr. Naude Avenant (Murraysburg)

Wat maak Afrikaans vir jou #onmisbaar?
Die dialekte van Afrikaans is vir my soos ‘n pot gemengde lekkers in ’n ou Karoo-winkel, elkeen proe anders maar tog bly dit lekkers. #onmisbaar

Waarvoor gaan jy die prysgeld gebruik?
Ek trou volgende jaar met my verloofde, wat ek al agt jaar ken en gaan die geld aanskaf vir ons troue in Afrikaans.

Inskrywing: Murraysburg: Taaldorp – Kombers

Die klein Karoodorpie, Murraysburg, is weggesteek soos 'n ou, antieke trommel onder die grond langs die N1, tussen Kaapstad en Johannesburg. Daar is wel mense wat die trommel al gevind en oopgemaak het. Die antieke trommel het 'n ou lappieskombers in. Elke stukkie lap wat die kombers vorm, verteenwoordig óf kultuur, geloof, menings, óf sienings. Wat almal in gemeen het, is die taal, wat soos die gare die kombers aanmekaar hou, wat die trommel vol lê. Dit is Afrikaans, elke lappie van die kombers het sy eie storie. Daar word vertel in Afrikaans. Of dit in die woonbuurt, skool, winkel, tronk, hospitaal, plaas of deur kind, ouer, boer of krimineel vertolk word. Die taal loop deur die dorpie soos ‘n rivier wat afkom na goeie reëns in die Karoo. Almal is bewus van die water wat die droë veld weer soos ‘n groen kryt inkleur. Almal, ryk of arm, mooi of lelik, vet of maer praat oor die reën wat geval het in hulle moedertaal ... dit is Afrikaans wat die dorpie skoonwas.


Me. Lucreshia Pietersen (Swellendam)

Wat maak Afrikaans vir jou #onmisbaar?
My Afrikaans is onmisbaar ...Hoe anders gaan ek myself so gemaklik en spontaan kan uitdruk, of ek nou liries raak of sommer net "chat", dis MY TAAL!

Waarvoor gaan jy die prysgeld gebruik?
Ek gaan myself  'n klein bederfie gun en moontlik 'n kinderhartjie bly maak hierdie Kersfees.

Inskrywing: Swellendam: Kuierdorp – Kuiertaal
Hiergh pgraat ons Afrikaans! Hetsy met 'n bgry, soos in "Antie het djy nie vir my biechie,(bietjie uitgespreek as sulks), gogrt nie." Met die Kaapse Vlakte Afrikaans-Engels-mix. "Ek wil biechie veggie soup maak man. " Die Namibianer, soos sy haarself noem, het verreweg die mooiste aksent vir my! "Die d... tjenners het weer hoe laat in die se huis gekom. Hulle se pa is weer dik de m*&# in." Moenie vergeet van: "how much my fwend" by die spaza-shop. "Sikety six land my fwend". Bedoelende, "R66,00 my friend". Dan nog onse Xhosa-buurman: "Jirre myvrou wannergh jou man sy kom by die hys?" Jy trap in die strik. Besef eers agterna jy het sy aksent aangeneem met jou antwoord: "Nee medulla, hy gan goed. Wanner jy gan by die laaaand?"


Mej. Heidi-Jane M de Wee (Upington)

Wat maak Afrikaans vir jou #onmisbaar?
Die verskeie idiome en vergelykings wat in hierdie besondere taal gevind word, is die een aspek wat Afrikaans vir my onmisbaar maak.

Waarvoor gaan jy die prysgeld gebruik?
Ek is tans 'n student wat vreeslik uitsien na die vakansie,so hierdie prysgeld gaan ek beslis gebruik om myself en ook my familie tydens die feestyd te bederf.

Inskrywing: Upington: Kuierdorp
Gee my nog 'n taal so mooi soos Afrikaans,'n taal met 'n uitdrukking vir elke emosie onder die son. Vir die mense in my dorp is Afrikaans hulle gemaksone. Wanneer daar Afrikaans gepraat word,voel jy letterlik die rooi woestynsand vuurwarm onder jou voetsole. Die inwoners van my dorp is Afrikaans gemaak en net so laat staan. Afrikaans is by een en elke individu in my dorp ingewortel, en dit sal baie moeite neem om hierdie wortels ooit los te grawe. Die Afrikaanse taal vloei uit die monde van die mense in my pragtige dorp net soos die water van die Oranjerivier gemaklik en rustig tussen die riete deurvloei. Die taal Afrikaans takel jou hartsnare, en laat jou die mooiste liedjie sing, in Afrikaans natuurlik. Afrikaans is die taal wat al die mense van my dorp bind met 'n band van diversiteit, omdat elkeen sy of haar eie dialek van Afrikaans praat. Op die einde van die dag bly dit hierdie einste band wat almal in die dorp eintlik een groot familie maak. Afrikaans is 'n taal wat verdien om gevier te word, want Afirkaans is waarlik plesierig!


Noelene Hartzenberg (Bloemfontein)

Wat maak Afrikaans vir jou #onmisbaar?
Afrikaans is in my gene ingeweef in my moederskoot - ek is Afrikaans, Afrikaans is ek.

Waarvoor gaan jy die prysgeld gebruik?
My prysgeld gaan ek gebruik om my kollegas te bederf met elk ‘n Afrikaanse boek vir Kerfees. So ondersteun ek my taal en maak hulle harte bly.

Inskrywing: Bloemfontein: Sakedorp – Afrikaans my taal
Bloemfontein is ‘n kookpot van kulture, maar hier praat ons lekker Afrikaans. Bloem sit in die hartland van Suid-Afrika en hier klop ons harte warm vir Afrikaans. Ons gooi Afrikaans die kant toe en daai kant toe, maar hy val altyd net waar hy moet. As die kaas muf dan sê ons "daar is wol op" as jou onderklere pla en in jou boude optrek sê ons "die koei eet lap". As ons baie geld aan die begin van die maand het, sê ons "die kinders spring riem(tou) met die wors, en maandeinde as die geld skraps is en ons eet min, want die stoof staan stil, sê ons "die kat sit op die stoof". Die bye is my getuie as ek te sterwe kom en eendag boontoe "Upingtington" toe gaan, dan sal ek daar ook Afrikaans praat net soos in Bloem!!! Kaching!!