Rympies verryk, verruim en vermaak

Min mammas en pappas is bewus daarvan dat kleuterrympies 'n geweldige belangrike bousteen in hul kleuter se taalkundige en emosionele ontwikkeling vorm.

Kenners oor leesvaardigheid en kinderontwikkeling het bevind dat kinders wat op vier jaar oud minstens agt kleuterrympies kan opsê op agt gewoonlik die beste lesers in hul ouderdomsgroep is.

Ons het onlangs vertel van die splinternuwe bundel propvol oulike Rympies vir Kleuters en Kleintjies wat deur Tafelberg uitgegee is en gevra dat lesers hul gunstelingrympies vir ons stuur. Daar was twee boeke op die spel!

Baie dankie aan almal wat hierdie herinneringe uit hul kinderdae aangestuur het – te veel om op te noem. Dit het ons almal hier by Afrikaans.com weer na ons kleintyd laat terugverlang en dit is verblydend om te sien dat kinderrympieliefhebbers almal hierdie skat met hul kinders en kleinkinders deel.

Tessa Bothma en Jorina Claassen is die gelukkige wenners en ontvang elk ‘n kopie van Rympies vir Kleintjies en Kleuters, uitgegee deur Tafelberg (ʼn druknaam van NB-Uitgewers). Baie dankie aan ons borg.

Tessa Bothma en haar dogter, Laura Vorster.

“My dogter het die rympie in graad 3 in die koor gesing. Dit was altyd my gunstelingrympie. Vandag is sy 23, getroud en word in Junie vir die eerste keer mamma. Die boek sal ideaal wees om vir haar kleuterrympies te leer. “ Hier is Tessa en Laura se gunsteling:-

HAASBEKKIES
Bettie sleep haar tongetjie
en Danie se woordjies fluit
En Gerrie se voorste tandjies
Is die laaste ene uit.
Ons hele klas is haasbek
Want almal wissel nou.
En speeltyd moet ons sukkel
Om ons harde kos te kou.
Dawid het ‘n appel,
Hy klou dit in sy vuis
En druk dit teen sy kieste vas
En kerf dit soos ‘n muis.
Lenie het ‘n groenmielie
Sy druk dit teen haar wang
En sukkel met haar oogtandjies
Om pitte raak te vang.
Ou dik Piet is nog honger
Maar sy korsies lê opsy
‘n mes durf ons nie dra nie
Want ons sal ons vingers sny.
En boonop moet ons versies leer.
Ons sê dit pragtig op,
Maar as meneer vir ons kom hoor,
Dan skud hy net sy kop.
Want
Bettie sleep haar tongetjie
En Danie se woordjies fluit
En Gerrie se voorste tandjies
Is die laaste ene uit.
Tienie Holloway

Lian (5) en Handre Alexander (8 maande) leer nou ouma Jorina Claassen se gunsteling-kinderrympie.

Jorina Claassen (63) van Universitas skryf sy onthou tot vandag toe nog hierdie rympie uit haar kinderjare. Sy geniet dit om haar kleinkinders, Lian (5) en Handre Alexander (8 maande) met die towerkrag van kinderrympies te vermaak en die kleintjies sê al lustig saam met haar die rympies op. Hier is hulle gunsteling:-

Woefie
Woefie is my kolliehond
ons twee hardloop oral rond.
As ek op my rietperd ry,
is ou Woefie altyd by.
Somtyds as ons saam gaan jag,
wil ek my so stukkend lag.
Plaas dat hy ‘n leeu moet vang,
word hy vir ‘n meerkat bang.
Altyd wil die hond van my
met die stompstertkat baklei.
Kry hy dalkies op sy bas,
kies ou Woef die hasepad.


Nog bydraes:

Amelia du Plooy het laat weet Ingrid Jonker se Toemaar die donker man, is haar gunsteling. Wie onthou nog, Hop ... hop ... hop, die perdjie op galop ... en natuurlik, Duimpie ... duimpie se maat, ook Isabel Lotz en Daniëlla Lock se gunstelinge. Francis Leibrandt het ons herinner aan Apie op ‘n stokkie en Boetie bad.

Driekie Grobler sê sy is ‘n ‘rympiemens’ en sy put groot genot daaruit om vir haar kleinkinders voor te lees. Sy skryf en dig vandag self.

Driekie Grobler saam met haar kleinkinders.

Daar's 'n apie op 'n stokkie
voor my ma se agterdeur
daar's 'n gaatjie in sy broekie
en sy stertjie loer daardeur.

Ook Engela Sozo L’Ghaim het haar kinders en nou haar kleinkinders grootgemaak met:

Daar is heerlike kossies en uintjies uit die vlei.
Nee dankie sê die gansie
As jy by my kom kuier eet jy my sekerlik op.

En ...
My pyp is my maat
Hy is by my vroeg of laat.
As ek hom wil hê kan ek hom kry
Maar eendag moet ek hom laat staan as ek na die hemel wil gaan
Maar kan ek hom saamneem
doen ek dit so seker soos ek hier staan.

En ..
Ek wens dat elke dag ‘n Sondag was en Kersfees in die week
Dat eet en drink my ambag was dan werk ek nooit ‘n steek.

Lana Engelbrecht se herinnering ...

Alie kabouter
Klim en klouter
Bo-op die spens se rak
Woele water kletterklater
Stukkend is die bak
Alie kabouter
Stoutste stout kabouter
Nou kry jy n pak!
 

Lees meer oor Rympies vir Kleintjies en Kleuters hier.