Superslim ... Superskool ... Superpryse!

Groot opwinding wag wanneer 18 Suid-Afrikaanse hoërskole hul superslimleerders gaan inspan op Superskool. Dit is VIA se splinternuwe vasvraprogram wat op 4 September afskop! Die prys ... ‘n kwartmiljoen rand vir die skool! Superskool sal uit 15 halfuur-episodes bestaan wat drie weke lank, elke weeksdag uitgesaai gaan word. In elke episode sal een skoolspan hul tasse moet pak en huis toe gaan totdat die een superskool koning kraai!

Die span wat die tweede plek behaal, wen R100 000 en die skool wat derde kom, ontvang R50 000.

Afrikaans.com is trotse medeborg van hierdie heerlike uitdaging.

Goeie nuus – Superskool ook op Afrikaans.com!

En as jy of jou skool hierdie keer die kans laat verbyglip het, of dit nie gemaak het nie, hoef jy beslis nie droëbek by die huis te sit nie. Sodra die program begin, is daar ‘n vasvra op Afrikaans.com wat jou die geleentheid gee om elke dag R3 000 te WEN!

Hoe werk dit?
Besoek Afrikaans.com op weeksdae vanaf 17:00 tussen Maandag, 4 September en Vrydag, 22 September, om aan die Superskool-tuisspeletjies deel te neem. Elke tuisspeletjie sal vir 24 uur lank aktief wees (d.w.s. vanaf 17:00 wanneer een episode begin tot 17:00 die volgende dag). Kyk dan ook VIA (DStv-kanaal 147) vir nog taalpret.

Sodra die program begin, is die Afrikaans.com-Superskoolspeletjie lewend op die Afrikaans.com-webtuiste.

Dis maklik ...
Sodra die program om 17:00 elke dag uitgesaai word, kan jy aan daardie dag se tuisspeletjie deelneem. Klik net op die Superskoolbanier op die Afrikaans.com-tuisblad. Vul die antwoorde op die vrae in en staan die kans om R3 000 te WEN!

VIA sal daagliks die wenners op sosiale media aankondig. Afrikaans.com sal weekliks op ons Facebookblad die week se wenners bekendmaak.

Die Superskool-konsep
Dit is meer as ‘n klassieke vasvra- en speletjiesprogram. Die uitdaging word juis so ontwerp dat dit die gees van hierdie jong generasie vasvang en volgens die kanaalhoof, Izelle Venter, gaan slimwees hier beslis nie net oor akademie nie! Die 18 skoolspanne se geheue, konsentrasie, en kennis van taal, wiskunde, algemene kennis en popkultuur word getoets.

Die gewilde Snotkop, bekende sanger en kletsrymer, gaan verder oemf gee aan die program. Moet dit nie misloop nie!

TV-roosters vir VIA is in Afrikaanse koerante, Huisgenoot, tvplus en op viatv.co.za en dstv.com beskikbaar.